Menu terloops
In Rubrieke [24 Mei 2026]

Sepievoorskou: Waarhede ontplof en harte kry dié week seer


Ons sepievoorskou vertel jou meer oor waarna jy hierdie week (25 Mei tot 29 Mei) op ‘Binnelanders’, ‘Skemergrond’, ‘Diepe Waters’ en ‘Suidooster’ kan uitsien.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepievoorskou: Waarhede ontplof en harte kry dié week seer

Dié week bring emosionele konfrontasies, gevaarlike geheime en meer as een karakter wat met vuur speel. Terwyl sommige probeer vrede maak met moeilike waarhede, neem ander besluite wat alles net verder kompliseer. Verhoudings word getoets, ou wonde word oopgekrap en die spanning loop hoog wanneer sekere karakters besef dat elke aksie ’n prys het. 

Lees ons sepievoorskou vir meer oor die drama wat vandeesweek op die kassie uitspeel.

Skemergrond

Christine (Devonecia Swartz) kry uiteindelik hierdie week ’n voorsmakie van haar eie medisyne ná verlede week se bomskok by die blommemark. Maar soos ons almal teen dié tyd weet, kom vrede op Everlasting teen ’n prys – iemand moet seerkry voordat die stof kan gaan lê. Hierdie keer is dit Lily (Hildegardt Whites) wat ongelukkig die prys betaal vir drama wat eintlik niks met haar te doen het nie. 

Intussen kry Ice (Keeno-Lee Hector) ’n geleentheid wat sy lewe in ’n nuwe rigting kan stuur, maar een waarheid dwing hom om ’n verrassende besluit te neem. Ek wil sê ek voel jammer vir hom, maar as dinge anders verloop het, sou Erica (Shimmy Isaacs) dalk nie die oomblik gekry het waarvoor kykers al lank gewag het nie. Hou maar die tissues naby, want hierdie een gaan baie harte raak. Dit gebeur nie baie in sepieland nie, maar nou en dan is daar darem ’n sprokieseinde! 

En terwyl sommige karakters probeer vorentoe beweeg, bly dit duidelik dat geheime op Everlasting nooit lank begrawe bly nie.

Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.

Diepe Waters

Gys (Justin Strydom) is weer besig met sy gewone planne en hierdie keer weet ek nie of ek hom moet ondersteun of nie. Aan die een kant verstaan ek sy einddoel, maar aan die ander kant bly dit snaaks hoe mans eers besef wat hulle wil hê wanneer dit dalk te laat is. Die res van die tyd is almal hopeloos te hardkoppig om besluite te neem voordat dinge handuit ruk.

Zelda (Sandi Schultz) besef glad nie wat rondom haar gebeur nie, maar ek moet erken dit sorg darem vir lekker ligte vermaak tussen al die spanning. Ongelukkig is Gys nie die enigste een wat met vuur speel nie. René (Marijke Coetser) gaan haar vingers behoorlik brand as sy nie versigtig is nie!

Ek moes letterlik my oë toemaak vir daardie een toneel hierdie week, want ek het geweet waarheen dinge oppad is en die stres daarvan was net te veel. Ek weet nie of die liefde mense dapper of eenvoudig net dom maak nie, maar ons gaan beslis moet sien waar hierdie storie eindig.

Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Binnelanders

Johan (Gustav Gerdener) staan hierdie week voor ’n onmoontlike keuse tussen die vrou vir wie hy lief is en sy dogter. Dit behoort eintlik ’n eenvoudige besluit te wees, maar Johan het ongelukkig ’n talent daarvoor om na die verkeerde mense te luister. Hierdie situasie kan dus vinnig in sy gesig ontplof.

Tracy (Melinda Viljoen) sukkel steeds om haar voete te vind ná die groot besluit verlede week, maar die mees onverwagse persoon bied haar hierdie week ondersteuning. Natuurlik kom dit nie sonder drama nie en ek sou self totaal paniekbevange gewees het as dit met my gebeur het.

Daar is ook ’n nuwe gesig in die gange van Binneland en iets sê vir my hierdie karakter gaan dinge behoorlik omkrap. 

Intussen bly Ella (Marlee van der Merwe) se verlede ’n manier vind om haar in te haal. Sy het die afgelope tyd van stil en teruggetrokke na vurige vegter gegaan en ek weet nie of ek daarvan hou nie. Ek is beslis nie haar grootse fan op die oomblik nie.

Nuwe episodes van Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Daar is ook elke aand ’n herhaling van die episode om 23:30, asook Dinsdag tot Vrydag om 08:30.

Suidooster

Justin (Eden Classens) ontdek hierdie week dat vriendskap met ’n A-lister baie meer drama as voordele bring. Ek kan nie glo hy het dinge só ver laat gaan nie, want gewoonlik is hy slimmer as dit.

Angie (Char Carrie) kry ’n dubbele skok hierdie week en ek weet nie watter een die seerste maak nie. Albei situasies sou my heeltemal omgekrap het en sy hanteer dit eintlik baie beter as wat ek sou.

Die groot vraag is natuurlik hoe Ruiterbosch op beide Justin en Angie se nuwe realiteite gaan reageer. Hierdie is die tipe goed wat selfs ’n hegte vriendegroep kan verdeel.

Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up en DStv Stream.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies