Menu terloops
In Rubrieke [20 Jun 2026]

Sepievoorskou: Trane, verrassings en groot oomblikke dié week


Ons sepievoorskou vertel jou meer oor waarna jy hierdie week (22 tot 26 Junie) op ‘Binnelanders’, ‘Skemergrond’, ‘Diepe Waters’ en ‘Suidooster’ kan uitsien.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepievoorskou: Trane, verrassings en groot oomblikke dié week

Dié week loop emosies hoog en meer as een storielyn gaan kykers diep raak. Terwyl sommige karakters iets kry waarvoor hulle lank gewag het, word ander gekonfronteer met moeilike afskeide, onverwagse verrassings en besluite wat hul toekoms kan verander. Lees ons sepievoorskou vir meer oor die drama wat vandeesweek op die kassie uitspeel.

Skemergrond

Louis (William Adams) staan hierdie week voor ’n moeilike besluit en wat hy kies, gaan nie net sy eie lewe raak nie. Die gevolge gaan deur almal op Everlasting gevoel word. As daar nou een karakter is wat keer op keer bewys dat hy ’n ware gentleman is, is dit Louis. Ek ondersteun sy geluk 100 persent en ek hoop die lewe beloon hom uiteindelik vir al sy uitdagings en die opofferings wat hy maak.

Hou die tissues naby, want hierdie week gaan die trane vloei. Daar is ‘n viering wat kykers se harte sommer warm gaan laat klop, maar daar is ook ’n emosionele oomblik wat een van die mooiste tonele van die reeks tot dusver is. Soms beteken liefde dat jy iemand moet laat gaan.

Intussen neem Christine (Devonecia Swartz) haar jongste plan na ’n heel ander vlak. Hierdie keer bly dit nie net by dreigemente of manipulasie nie en ek is baie nuuskierig om te sien hoe hierdie een gaan uitdraai.

Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.

Diepe Waters

Pam (Tracey-Lee Oliver) kry hierdie week ’n onverwagse besoeker wat haar house opening behoorlik kan ontwrig. Maar dalk is dit presies die wake-up call wat sy nodig het. Ek vermoed hierdie storielyn gaan nog vir lekker vermaak sorg.

Karla (Daniëlle Swanepoel) kry intussen die grootste skok van die week en ongelukkig is dit nie die soort verrassing waarvoor mens dankie sê nie. Ek kon haar teleurstelling behoorlik voel en dit maak dinge net nog moeiliker by die huis.

Maar die grootste opskudding kom wanneer ’n ingryping plaasvind. Sommige gaan as wenners wegstap, terwyl ander die stukke moet optel. Ek sit nogal op die draad met hierdie een. Ek glo in geluk en liefde, maar soms is liefde alleen eenvoudig nie genoeg nie.

Zelda (Sandi Schultz) bevind haar weer in ’n situasie wat net Zelda kan regkry. In plaas daarvan om eerlik te wees, doen sy dinge weer op haar eie manier.

Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Suidooster

Die spanning tussen die Samsodien-sibbe bereik hierdie week breekpunt. Wat veronderstel was om ’n lekker familienaweek weg te wees, verander vinnig in iets anders.

Bianca (Simone Biscombe) doen weer wat Bianca die beste doen en verander ’n klein probleem in ’n groot een.

Ava (Simone Neethling) maak ’n onaangename ontdekking en haar reaksie het my behoorlik verras. Nie alle vroue hanteer teleurstelling dieselfde nie en iets sê vir my hierdie storie gaan nog baie interessant raak.

Intussen raak dinge net moeiliker vir Ruiterbosch se threesome. Ek weet eerlikwaar nie meer wie se kant ek moet kies nie. Al wat ek weet, is dat Wade (Dean Smith) vinnig ’n plan moet maak, anders wag daar vir almal ’n baie lang nege maande.

Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up en DStv Stream.

Binnelanders

Tertius (Reynardt Hugo) kry hierdie week skokkende nuus en ongelukkig lyk dit of Conrad (Hykie Berg) se planne ook deur hierdie verwikkelinge beïnvloed gaan word.

Dewald (Phillip Schnetler) ontbreek beslis nie aan selfvertroue nie, maar wat hy hierdie week aanvang, voel minder soos selfvertroue en meer soos roekeloosheid. Sy optrede verdeel die hospitaal behoorlik en met goeie rede!

Thalia (Megan Troskie) het nog altyd ’n sagte plek vir verlore siele gehad, maar haar nuutste projek voel groter as wat sy dalk besef. Ek wonder of sy regtig voorbereid is vir wat voorlê, want iets sê vir my hierdie storielyn is net besig om momentum op te bou.

Nuwe episodes van Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Daar is ook elke aand ’n herhaling van die episode om 23:30, asook Dinsdag tot Vrydag om 08:30.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies