Twee van ons gunsteling-karakters vind weer hul pad na mekaar en spandeer ’n romantiese aand saam, terwyl ’n onverwagse swangerskap ’n ander paartjie se toekomsplanne in die wiele ry en iemand word danksy hul geliefde se werk as gyselaar aangehou… Lees ons sepievoorskou vir meer oor die drama wat vandeesweek op die kassie uitspeel.
Suidooster
Die liefde het klomp verrassings vir Ruiterbosch se inwoners hierdie week en dit maak my as kyker baie opgewonde. ’n Fan favourite-paartjie se paaie kruis weer hierdie week en ek hoop regtig ons kry hierdie keer ’n troue. As julle uitvind wie dit is, sal julle verstaan hoekom ek dink dit een groot fabulous jol sou wees as dié twee die knoop deurhaak. Hulle was nog altyd een van my gunsteling-paartjies en hierdie keer dink ek die tyd is dalk net reg vir hulle. Hoe sê hulle? “Timing is everything”.
Ongelukkig is die lewe nie vir almal maanskyn en rose nie. ’n Ander paartjie se paaie skei en om eerlik te wees, is dit beter dat dit nou gebeur as wat hulle net mekaar se tyd mors. Al lyk hulle op papier perfek vir mekaar, weet ons almal dit sou nooit gewerk het nie. ’n Kaalvoet kêrel is nou net nie dié prinses se vibe nie. En niemand, nie eens sy, sal my kan oortuig dat ek verkeerd is nie.
Wanneer Linda (Melissa Willering) kom kuier, is daar nooit ’n tekort aan pret en vermaak nie, maar hierdie keer is daar niks om oor te lag nie. Dít het my, nes die ander, omkant gevang en ek het dit beslis nie sien kom nie. Daar is ’n groot rede hoekom sy haarself in Ruiterbosch bevind en dit raak almal om haar.
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax.
Skemergrond
Van Ruiterbosch tot in Gemoedsdrift hou die verrassings net nie op nie. Vlek (Christian Bennet) word in ’n hoek gedruk en dit lei tot ’n nagmerrie vir een gesin. Ongelukkig het ek al lankal ’n gevoel gehad dat dinge so sou uitspeel. As ’n skurk in sepieland mos vasgevang voel, dan word iemand ontvoer. So kan julle raai wie se lewe hierdie week in gevaar is?
Iets wat ek nie voorspel het nie, is die gas wat hierdie week by Everlasting opdaag. Ek kan nou al vir julle sê een broer is die goeie ou en een soek net moeilikheid. Besluit julle wie is wie!
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.
Diepe Waters
Ná Pam (Tracey-Lee Oliver) se sukses verlede week, het ek geweet dit sal nie hou nie. Sy word hierdie week verraai en dit was regtig cringe om te kyk. Pam se hart is net te goed.
Ongelukkig kan ek dít nie van almal sê nie. Leandri (Christel van den Bergh) speel met vuur en almal weet dit. Iemand gaan seer kry. Dit is regtig net ’n bom wat wag om te bars!
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Diepe Waters is ook op Catch Up beskikbaar.
Binnelanders
Joe (Roberto Kyle) kan ook nooit sy geluk geniet nie. Met sy liefdeslewe weer op koers, val sy gesin se lewens uitmekaar uit. Hoe hy uit hierdie een gaan kom, weet die Vader alleen. Maar hoe kan sy ma dáái van haar kinders verwag? Dit is nogal next level. Ek is reg vir die aksie en my popcorn skiet al.
Ella (Marlee van der Merwe) staan ook by ’n kruispad in haar lewe en ons sal maar moet sien of sy ’n goeie besluit gaan neem of nie…
Nuwe episodes van Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Daar is ook elke aand ’n herhaling van die episode om 23:30, asook Dinsdag tot Vrydag om 08:30.







