Menu terloops
In Sepies [24 Sep 2023]

Sepievoorskou: Oorlogsvure brand in ‘Suidooster’, ‘Binnelanders’ en ‘Arendsvlei’


Die streep is in die sand getrek, maar wie gaan regtig dié week die wit vlag waai en vir wie begin die oorlog nou eers? Hier is waarna jy hierdie week (25 tot 29 September) op ‘Binnelanders’, ‘Suidooster’ en ‘Arendsvlei’ kan uitsien.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepievoorskou: Oorlogsvure brand in ‘Suidooster’, ‘Binnelanders’ en ‘Arendsvlei’

Ons het die inside scoop oor die grootste storielyne wat hierdie week in Binnelanders, Suidooster en Arendsvlei gaan uitspeel. Moenie worry nie, dié sepievoorskou het geen spoilers nie!

Suidooster

Die soektog na antwoorde oor Brendan (Caleb Arnolds) se ongeluk bereik hierdie week ’n hoogtepunt en niemand kon hierdie wending in die verhaal voorspel nie.  Soos regte gelowiges is Siya (Gantane Kusch) en Danni (Vashti Prins) dankbaar vir wonderwerke, maar dit mag dalk te laat wees vir Ty (Maurice Paige) en Lee-Ann (Portia Joel). 

Wanneer iets met jou kinders gebeur toets dit jou verhouding en dieselfde is waar vir ons sepiekarakters. 

Rassie (Jürgen Hellberg) se toekoms word bedreig, maar voordat hy dit kan red, word hy by een van Nazeem (Irvine van der Merwe) se schemes ingetrek. Dit kan net moeilikheid beteken, maar ongelukkig vir Rassie, gaan hy dit maar op die moeilike manier moet uitvind. Intussen is sy verhouding met Kate (Annelisa Weiland) op die rotse, want sy is niemand se tweede keuse nie! 

Mymoena (Jill Levenberg) maak ’n loopbaanbesluit wat ’n groot impak op meer as een familielid gaan hê. Bloed is altyd dikker as water – totdat dit by geld kom!   

Kyk Suidooster weeksdae om 18:00 op DStv-kanaal 144 (ook aanlyn op DStv Stream) of ná uitsending op Catch Up

Binnelanders

Tracy (Melinda Brink) en Tertius (Reynardt Hugo) deel hul groot nuus en begin ernstig planne maak. Maar is hulle nog op dieselfde bladsy of lewe hulle verby mekaar? Want immigreer is nie speletjies nie en iemand se verlede mag dalk hul planne totaal in die wiele ry. 

Delia (Odelle de Wet) en Steve (Clint Brink) sit vinnig koppe bymekaar om Tertius by Binneland te hou, maar nie almal is gelukkig met hul besluite nie. 

Conrad (Hykie Berg) mag dalk wakker geword het, maar is dit werklik hy of het ’n creepy, onnatuurlike happy Conrad sy ernstige CEO-self vervang? Snaakser dinge het al in sepieland gebeur, maar At (Hans Strydom) weier om enige ander weergawe van sy seun te aanvaar as die hardkoppige Conrad wat hy ken. Die appel val mos nie ver van die boom af nie. Of dalk is dít juis waaroor At bekommerd is. Nicolette (Kate Roothman) word gevra om besties met Bets (Antoinette Kellerman) te word, maar sy beter mooi dink oor haar keuse, want as die duiwel jou eers in sy kloue het, is dit moeilik om te ontsnap. 

Met dinge wat weer na normaal terugkeer, lyk dit asof Louis (Germandt Geldenhuys) en Naomi (Je-ani Swiegelaar) se verhouding dalk die afgelope paar weke se drama gaan oorleef! Dit is meer as wat daar van Karen (Luandri Reynders) gesê kan word, want hierdie een het heeltemal te behep geraak met ’n sekere pasiënt – en dit kan haar breek. 

Binnelanders saai op weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.

Arendsvlei 

Bianca (Riana Alfreds) is so desperaat om ’n verhouding met haar suster te bou, dat sy elke ander verhouding in gevaar stel. Saartjie (Hunter Plaatjies) ontdek die waarheid agter haar geliefde auntie Zyla (Grace Pienaar) se bougee-leefstyl, maar alles is nie so eenvoudig soos wat dit lyk nie. Nou is Saartjie op ’n mission om haar familie te red. 

Dit het guts gevat vir Beatrice (Jolene Martin) en die vroue om so vir Desmond (Alistair Izobell) in sy eie huis te gaan dreig. Hulle het behoorlik oor hul grafte gedans. Na Arendsvlei se eie weergawe van Games of Thrones se ‘Red Wedding’ verlede week in die skoolsaal, beter almal oor hul skouer loer, want Bompie (Jarrid Geduld) het belowe dat die poppe gaan dans. Ek dink die vroue se stunt in Desmond se huis was dalk die finale strooitjie…   

Arendsvlei is elke Maandag tot Donderdag op kykNET & kie (DStv-kanaal 145, ook op DStv Stream) om 19:30 te sien. Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies