Menu terloops
In Rubrieke [14 Jun 2026]

Sepievoorskou: Ongemaklike verrassings vang almal onkant


Ons sepievoorskou vertel jou meer oor waarna jy hierdie week (15 Junie tot 19 Junie) op ‘Binnelanders’, ‘Skemergrond’, ‘Diepe Waters’ en ‘Suidooster’ kan uitsien.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepievoorskou: Ongemaklike verrassings vang almal onkant

Dié week wys weer hoe vinnig goeie bedoelings in groot probleme kan verander. Terwyl sommige karakters probeer vasklou aan liefde en lojaliteit, word ander gekonfronteer met waarhede wat hulle eerder wil vermy. Van ongemaklike verrassings tot besluite wat niemand sien kom het nie, daar is dié week oorgenoeg drama om kykers vasgenael te hou.

Lees ons sepievoorskou vir meer oor die spanning wat vandeesweek op die kassie uitspeel.

Suidooster

Terwyl Wade (Dean Smith) probeer aanpas by sy nuwe werklikheid saam met Angie (Char Carrie), neem hy nog ’n lewensveranderende besluit wat die res van Ruiterbosch in ’n baie ongemaklike posisie plaas. Ek weet eerlikwaar nie wat deur Wade se kop gaan nie. Hierdie besluit kan óf die begin van sy beste hoofstuk, óf die begin van sy grootste nagmerrie, wees. Ek sou beslis nie dieselfde keuse gemaak het nie, maar sterkte aan hom.

Net toe ek gedink het Nazeem (Irvine van der Merwe) gaan uiteindelik ’n beter mens wees, bewys hy my weer verkeerd. Ava (Simone Neethling) het gedink sy doen hom ’n guns, maar soos dinge hierdie week ontvou, vermoed ek sy gaan wens sy het nooit betrokke geraak nie. Ek het regtig gedink sy is slimmer as dit, maar liefde maak mens soms blind.

Intussen tree Bianca (Simone Biscombe) baie anders as gewoonlik op en geld speel ’n groter rol as wat sy dalk wil erken. Min mense kan soos Bianca tussen kalm en chaos wissel en hierdie week bewys sy weer hoekom.

Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up en DStv Stream.

Binnelanders

Ella (Marlee van der Merwe) speel ’n baie gevaarlike speletjie. Sy het al minder plekke om weg te kruip, maar plaas steeds haar vertroue in die verkeerde man. As sy single is ná sommige van haar keuses, gaan ek nie baie simpatie hê nie.

Ongelukkig vir Tracy (Melinda Viljoen) en Conrad (Hykie Berg), is Ella weer op die verkeerde tyd by die verkeerde plek. En soos ons almal weet, volg drama gewoonlik kort op haar hakke.

Een van die grootste gesprekspunte van die week is ’n van wat almal op hul tone hou. Maar wat beteken dit vir die toekoms van Binneland?

Dewald (Phillip Schnetler) neem dinge te ver en begin wonder of daar nog ’n plek vir hom by Binneland is. Sy volgende skuif verdeel sy kollegas behoorlik. Ek weet steeds nie of ek jammer vir hom moet voel en of dit bloot die gevolge van sy eie dade is nie.

Bonnie (Antoinette Modise) soek weer na liefde, maar iets sê vir my sy gaan weer ’n moeilike les leer.

Nuwe episodes van Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Daar is ook elke aand ’n herhaling van die episode om 23:30, asook Dinsdag tot Vrydag om 08:30.

Diepe Waters

René (Marijke Coetser) en Marco (Xander Venter) vind dié week uit hoe hul toekoms moontlik kan lyk en dit voel nogal wreed. Boskruin was lanklaas só ongemaklik.

Zelda (Sandi Schultz) probeer haar wittebrood geniet, maar moeilikheid vind haar mos altyd. Ek weet nie wie Zelda hierdie keer kwaad gemaak het nie, maar die leidrade wat hierdie week gelos word, laat my wonder of nog ’n groot ramp op pad is.

Nog ’n vrou kry hierdie week ’n geskenk wat sy glad nie verwag het nie. Ek mag verkeerd wees, maar nie alle verrassings is noodwendig goeie verrassings nie.

Rossouw (Altus Theart) herleef dele van sy verlede en hierdie is beslis een van die storielyne wat ek nie gaan mis nie. Die groot vraag bly natuurlik of geskiedenis homself gaan herhaal en of mens wel sommige hoofstukke kan herskryf. 

Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Skemergrond

Patty (Gretchen Ramsden) kry hierdie week die grootste skok van haar lewe en word weer herinner dat liefde nie altyd eenvoudig is nie. Tog voel dit vir my asof dit dalk Patty se tyd is om geluk te vind. Daar is natuurlik geen beloning sonder risiko nie en ek hoop sy besluit om die kans te waag.

Louis (William Adams) beleef meer as een lewensveranderende situasie hierdie week en die gevolge daarvan gaan veel verder strek as net sy eie lewe.

Dirk (Wilhelm van der Walt) blaf intussen vir die verkeerde boom en ek hoop hy sien die gevaar betyds raak. Hy het reeds een keer daarin geslaag om ernstige gevolge te vermy. Ek twyfel of hy weer dieselfde geluk gaan hê.

Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies