Menu terloops
In Sepies [3 Jan 2026]

Sepievoorskou: Nuwe jaar, nuwe kinkels en nuwe gesigte wat ou wonde kom oopkrap!


Ons sepievoorskou is terug en vertel jou meer oor waarna jy hierdie week (5 tot 9 Januarie) in ‘Suidooster’ en ‘Skemergrond’ kan uitsien.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepievoorskou: Nuwe jaar, nuwe kinkels en nuwe gesigte wat ou wonde kom oopkrap!

Ná Aiden (Theodore Jantjies) se bittersoet en hartverskeurende verlowing aan Liné (Mila Guy) verlede week, oomblikke voor haar dogter se sterfte, is daar nog ’n man in sepieland wat hierdie week die moed bymekaar probeer skraap om die ja-woord te vra. Dit terwyl ander nie die helse GROOT rooi gevaartekens in hul eie verhoudings kan raaksien nie. Lees ons sepievoorskou vir meer oor die drama wat vandeesweek op ons sepies uitspeel.

Suidooster

Ons sepieskrywers is nie die enigste mense wat dié jaar sommer sterk wil afskop nie. Dit lyk asof Tristan (Arno Greeff) planne van sy eie het. Ongelukkig is dit nie net ’n lysie of jaar wat hy goed wil afskop nie, want sy ego is mos groter as my lysie van nuwejaarsvoornemens! Angie (Char Carrie) is altyd gereed om vir die mense om haar te baklei, sy sal selfs haar fab oorbelle uittrek sodat sy jou beter kan verdedig, maar ’n uitkyk-antie van haar eie soek sy beslis nie. Kaashifa (Jawaahier Petersen) ken die tekens, sy praat immers uit ondervinding, maar dit lyk asof sy die enigste een is wat dit raaksien. Niemand anders, Angie ingesluit, wil iets doen of sê nie… En as ek moes raai is daar net een manier hoe hierdie storielyn eindig… Die verband om haar arm behoort jou genoeg te vertel. 

Vir Angie is daar nog tyd en uitkomkans, maar vir soete Jenna (Judi Hattingh) het die tyd uitgeloop. Kry ’n groot boks tissues, ’n sny sjokoladekoek, en die kalmeerdruppels, want hierdie gaan ’n moeilike een wees. Ruiterbosch, neem afskeid van poetsbakker Jenna en dit is ’n regte tranetrekker. Dan is daar ook ’n verassing of twee wat jou sommer harder sal laat snik.

Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax.

Skemergrond

Terwyl een ma se hart in stukke is oor die kind wat sy aan die dood moes afstaan, breek ’n ander se hart vir die kind wat voor haar staan, maar wie sy glad nie herken nie. Ek weet nie wat erger is nie: om vir ’n kind te rou wat nou sonder pyn en in vrede is, maar nie meer by jou kan wees nie, of om te rou vir ’n kind wie se siel en alles wat jy van daai kind liefgehad het lankal nie meer daar is nie. Hazel (Carmen Maarman) bevind haarself tans by hierdie kruispad en dit is alles behalwe eenvoudig. Junior (Ayden October) neem dinge hierdie week te ver. Sy woorde sny skerper as sy ouma se kombuismes en sy ma is nie sy enigste slagoffer nie. 

Hazel kry minstens hierdie week ’n paar antwoorde, maar haar familie is nie die enigstes wat tans swaarkry nie. Nadat ’n nuwe gesig haar verskyning op Oujaarsaand in Gemoedsdrift gemaak het, doen Gloria (Hunter Plaatjies) iets wat Kevin (Gershwin Mias) nog meer omkrap. Mens weet nog nie presies wat vir rustige Kevin so kwaad gemaak het nie, maar hierdie kinkel het beslis my aandag…

Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk in 2026: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

Van dáái yshokkiespelers tot ‘Bridgerton’ se Aspoestertjie-verhaal, die terugkeer van die geliefde vampierslagter Buffy en nog ’n 'Game of Thrones' spin-off – hier is ’n keur van die TV-reekse wat vanjaar op kykers wag.

Meer

Wat om te kyk: Sit dié reekse op jou moet-kyk-lysie vir Januarie 2026

Die volgende romantiese rondomtaliedans in 'Bridgerton', die terugkeer van die trefferreeks 'Een keer om die son', en die Afrikaanse weergawe van 'The Office' tel onder my top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Dís waar jy die 2026 Golden Globe-benoemdes plaaslik kan kyk

Van die heerlike derde seisoen van ‘The White Lotus’ en Seth Rogen se briljante ‘The Studio’ tot die ingrypende dramareeks ‘Adolescence’ en die fabelagtige fanfare in ‘Wicked: For Good’ – hier is al die reekse en films wat benoemings vir 2026 se Golden Globes ontvang het, én waar jy dit plaaslik kan kyk.

Meer
10

Wat om te kyk: 10 Kersfeesflieks vir die feestyd

Van een van die mees romantiese flieks van alle tye tot een baie, baie spesiale Kersbriefie – hier is ons keuse van Kersfeesflieks om oor dié feestyd te kyk. 

Meer
Sien alle opsies