Menu terloops
In Rubrieke [19 Jul 2026]

Sepievoorskou: Nie alles is soos dit voorkom nie…


Ons sepievoorskou vertel jou meer oor waarna jy hierdie week (20 tot 24 Julie) op ‘Binnelanders’, ‘Diepe Waters’ en ‘Suidooster’ kan uitsien.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepievoorskou: Nie alles is soos dit voorkom nie…

Dié week herinner sepieland ons daaraan dat eerste indrukke nie altyd die volle waarheid vertel nie. Terwyl sommige karakters nuwe hoofstukke aanpak, ontdek ander dat die antwoorde waarna hulle so desperaat gesoek het, nie noodwendig die vrede gaan bring waarvoor hulle gehoop het nie.

Lees ons sepievoorskou vir meer oor die drama wat vandeesweek op die kassie uitspeel.

Suidooster

Dit is ’n groot week vir Frankie (Mienke Ehlers) ná al die kinkels wat sy die afgelope paar weke moes oorkom. Maar soos ons weet, is niks ooit eenvoudig in Ruiterbosch nie. Ek moet erken dit was nogal lekker om te sien hoe sy haar nuwe hoofstuk probeer navigeer, al is ek nie heeltemal oortuig dit gaan lank hou nie. Wanneer die druk begin opbou, sorg dit vir ’n paar ongemaklike konfrontasies.

Die Samsodiens kry intussen ’n nuwe huisgas en iets sê vir my hierdie een gaan hul geduld behoorlik toets. Tieners kan soms wolwe in skaapsklere wees en ek hoop die familie laat hulle nie té maklik om die bos lei nie. Hier kom beslis moeilikheid.

Zoë (Lauren Joseph) is terug, maar wat beteken dit vir Ruiterbosch se bekende liefdesdriehoek? Ek twyfel of sy haar besluit sommer gaan heroorweeg, maar diep binne dink ek steeds sy en Wade (Dean Smith) behoort bymekaar.

Kate (Annelisa Weiland) hou intussen aan met krap waar sy dalk eerder moes los. Ek sê altyd sommige deure is beter toe. As jy aanhou soek na die waarheid, moet jy ook gereed wees vir wat jy gaan uitvind.

Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up en DStv Stream.

Diepe Waters

Dit is ’n groot week vir Bianca’s-kroeg, maar die groot aand eindig op ‘n heel ander noot as waarop ons gehoop het. Die ontploffing is gelukkig nie letterlik nie, maar ek dink ’n woedende ouer kan soms net so gevaarlik wees. Ek het geweet hierdie een is op pad. Maar jong mense oortuig hulself mos dikwels dat hulle met enigiets kan wegkom.

’n Tragedie tref Boskruin en hoewel dit ongelooflik hartseer is, wonder ek of daar dalk tog iets goeds daaruit vir Zelda (Sandi Schultz) kan kom. Ek hoop regtig dit word ’n blessing, want anders gaan hierdie storielyn net onnodig hartverskeurend wees. Die groot vraag is natuurlik hoe Zelda die nuus gaan oordra.

Daar is ook ’n nuwe gesig in Boskruin en iets sê vir my dié persoon bring dubbel soveel moeilikheid as wat sy suster reeds veroorsaak het.

Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Binnelanders

Soos gewoonlik lyk dit of moeilikheid vir Ella (Marlee van der Merwe) wag. Sy probeer hierdie week weer die skuld op Joe (Roberto Kyle) pak, maar eerlikwaar dink ek sy moet eers in die spieël kyk. Ek kan skaars glo dit is dieselfde stil en vriendelike Ella wat ons jare gelede ontmoet het. Sy begin my al hoe meer aan Gita McGregor van 7de Laan of selfs Brooke Logan van The Bold and the Beautiful herinner. Ek kan eenvoudig nie meer byhou met al die drama en leuens in haar lewe nie.

Terwyl Ella stories spin, word iemand anders hierdie week verkeerdelik daarvan beskuldig dat hulle lieg. Dit wys net weer hoe maklik mense glo wat hulle wíl glo, eerder as om iemand ’n regverdige kans te gee. Ek vermoed meer as een karakter gaan hierdie week spyt oor hul vooroordele wees.

Bonnie (Antoinette Modise) en Joe ontvang albei nuus wat hul lewens in verskillende rigtings stuur. Daar is rede om te glimlag, maar ook genoeg om ’n mens wakker te hou. As ek Joe was, sou ek beslis ’n mental health day nodig gehad het.

Nuwe episodes van Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Daar is ook elke aand ’n herhaling van die episode om 23:30, asook Dinsdag tot Vrydag om 08:30.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies