Ons sepievoorskou vertel jou meer oor waarna jy hierdie week (28 Julie tot 1 Augustus) in Skemergrond, Binnelanders en Suidooster kan uitsien.
Binnelanders
As Delia (Odelle de Wet) hierdie week ’n deelnemer op Wie word ’n miljoenêr was, sou sy al haar lifelines moes gebruik het om te oorleef. Maar soos mens nou al geleer het, kan jou lifelines jou ook maar in die steek laat.
Die groot kat At (Hans Strydom) is in Pretoria en julle weet wat dit beteken wanneer hy die plaas verlaat… Iemand se kop gaan rol. Behalwe as iemand vir Amor (Laura-Lee Mostert) ’n rat voor die oë kan trek. Ek gaan nou nie my asem hou nie, want uitgeslaap is Amor beslis. Maar almal se geluk hardloop een of ander tyd uit en albei se dae is getel. Hier kom groot sports. Veral ná hierdie week se skokdood – of moet ek eerder sê… moord?
Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
Suidooster
Daar is ’n hele paar mense wat ’n nuwe begin hierdie week kry, maar ongelukkig werk dinge nie presies uit soos wat hulle gedink het nie. Almal se begin kom met komplikasies, verandering en opofferings. Justin (Eden Classens) se situasie het my lekker laat lag, terwyl my hart vir Fiekie (Irshaad Ally) gebloei het. En vir Bianca het my hart van blydskap oorgeloop.
Nie almal is gelukkig om ’n engel in hul lewens te hê soos Kate (Annelisa Weiland) nie, maar tog vind hulle ’n manier om te oorleef. Ek wil regtig nie lag nie, maar soms kan ek myself nie keer wanneer ’n storielyn ’n mens letterlik na ’n ander dimensie toe vat nie. Die skrywers is weer aan die brand met hierdie week se storielyne en dit laat jou emosies wipplank ry.
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax.
Skemergrond
Daar is ware liefde en dan is daar net eenvoudig domheid. Die een gebeur sonder dat mens dit kan keer en die ander is jou eie onnoselheid. Manny (Dirk Stoltz) is een voorbeeld van ’n mens wat nie uit hul foute wil leer nie. Hoe kan jy so verblind word deur jou emosies dat jy nie jou eie ondergang kan sien gebeur nie? Ek verstaan nou hoekom almal in Gemoedsdrift so kwaad is, maar ek verstaan nie hoe Manny dit kan toelaat nie. Vir een inwoner raak dinge dié week net te veel en hulle neem drastiese aksie. Terwyl ander mooi oor hul eie besluite sal moet dink om hul toekoms te kan beskerm.
Maar Manny is nie die enigste een met probleme nie. Sekere besluite sal kykers lekker vermaak, terwyl dit die kerk-anties op hol het. Ek dink hulle oordryf en moet ’n bietjie bykom, maar verandering is mos maar ’n swaar ding op die platteland. Kom ons kyk hoe die nuwe dominee hierdie uitdagings gaan hanteer!
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.