Ons sepievoorskou vertel jou meer oor waarna jy hierdie week (19 tot 22 Augustus) in Diepe Waters, Suidooster, Binnelanders en Skemergrond kan uitsien.
Diepe Waters
Daar is nie baie meisies wat dieselfde tyd as hul ma ’n bride-to-be is nie en vir die Swarts-meisies is dit ’n groot fees. Karla (Daniélle Swanepoel) neem ’n onverwagse besluit, een wat ek beslis nie sou gemaak het nie, maar tog dink ek is dit ’n groot mylpaal vir hierdie ma en dogter se verhouding. As mens dink hoe moeilik hierdie verhouding tydens Karla se skoolloopbaan en eetversteuring was, kan mens amper nie glo dat hulle nou op hierdie punt gekom het nie. Moet nie eens praat van die tyd toe sy en Arno (Jean Henry) die eerste keer saam was en weggehardloop het nie! Ek sou netso kwaad vir my dogter gewees het, so hierdie week se ommeswaai is ’n baie spesiale verrassing.
Maar ongelukkig is dit nie vir almal ’n goeie week nie! Gys (Justin Strydom) kry ’n verrassing van sy eie wat sy hele toekoms gaan verander en dit ruk die hele gemeenskap van Boskruin.
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Diepe Waters is ook op Catch Up beskikbaar.
Binnelanders
Tracy (Melinda Viljoen) hou darem daarvan om ’n gat vir haarself te grawe en in plaas daarvan om eerlik te wees, raak daardie gat net al dieper. Soms is dit moeilik om haar te bejammer, want mens wil net vir Tracy deur die televisie skud en sê, ‘Word wakker! Hou op met die leuens!’ Ai, maar tog maak sy ’n groot deurbraak hierdie week en onthou sy iets wat haar situasie dalk kan red. Of dit nou die waarheid of mind games is, kan ek nou nie verseker sê nie. Ek hoop wel dat dit haar huwelik sal kan red en dat dit wel waar is, want daai plot twist sal nogal lekker wees. Dit maak dinge darem ’n bietjie minder voorspelbaar.
Tracy se verhouding is nie die enigste een wat deur leuens bedreig word nie! Amor (Laura-Lee Mostert) is ’n interessante karakter… Mens wil haar haat vir wat sy doen en die leuens wat sy daagliks versprei, maar ’n gedeelte van my kry haar so jammer. Ek weet nie meer of ek ’n gelukkige einde of die tronk vir haar wil hê nie.
Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
Suidooster
Die bom het vir Justin (Eden Classens) en Frankie (Mienke Ehlers) gebars en nou moet hulle damage control doen… Of moet hulle net die hele situasie ignoreer? In my opinie doen hulle nie iets verkeerd nie en was haar ouers se reaksie nogal drasties! Iets sê vir my hierdie familie se probleme lê dieper as ’n nuwe roommate vir Frankie. Ek probeer ook uitvind of hulle valse mense is en of hulle eintlik nice is maar net te eng standaarde vir hul kind het. Dit is 2025, ouers moet besef dat kinders baie meer opsies het deesdae en dat sukses baie anders vandag lyk. Maar wat weet ek! Arme Nazeem (Irvine van der Merwe) leer ook dat jy nie iemand kan help wat nie regtig jou hulp soek nie. Ek is nou ook nie altyd sy grootste aanhanger nie, maar wat tans gebeur is nogal wreed.
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax.
Skemergrond
Ná maande se ongeluk is dit uiteindelik Louis (William Adams) se tyd om te shine! Die Pienaars het regtig dié goeie nuus nodig gehad. Louis se nuus is nie net ’n seëning vir hom nie, maar vir sy hele familie. Geen wonder hulle het dit ’n gemeenskap-event gemaak nie. En al is dit Louis se oomblik, het Erica (Shimmy Isaacs) sommer dubbel die vreugde gekry. Daai oomblik was priceless en ek het darem lekker geskerts vir die lawwigheid. Tog te oulik! Ek gun dit vir haar, want beurt is beurt! Ongelukkig lyk dinge nie so rooskleurig in die Louw-huis nie. JP (Charlton George) gaan hom nou wragtig laat vang deur die slang ! Hoe enige iemand nog vir Christine (Devonecia Swartz) kan glo, weet ek nie. Maar eish, as die waarheid so diep sny dan moet ’n mens dit seker glo.
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.