Menu terloops
In Sepies [7 Mar 2026]

Sepievoorskou: Lewens op die randjie en die hart van ’n ma


Ons sepievoorskou vertel jou meer oor waarna jy hierdie week (9 tot 13 Maart) op ‘Suidooster’, ‘Binnelanders’ en ‘Skemergrond’ kan uitsien.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepievoorskou: Lewens op die randjie en die hart van ’n ma

Een gesin staan op die randjie van geluk, terwyl die ander vasklou aan hul perfekte familie. Lees ons sepievoorskou vir meer oor die drama wat vandeesweek op die kassie uitspeel.

Binnelanders

Ná Louis (Germandt Geldenhuys) en Naomi (Je-ani Swiegelaar) se groot gesukkel met ouerskap, bereik hulle uiteindelik hierdie week ’n groot mylpaal… Hannah (Rosa-belle Clasen) word 11 en dit beteken ’n groot feesviering ná ’n moeilike jaar van veranderinge. Tog lyk dit asof hulle en Hannah uiteindelik mekaar gevind het en my hart kan van blydskap bars! Om mense so gaaf soos Louis en Naomi te ontmoet, is nie maklik nie, maar hul huis en hart is altyd oop vir die wat ’n gelukkige plekkie onder die son soek. So ook vir Hannah – maar soos julle teen dié tyd weet, wil die sepie-gode nie regtig vir mense gelukkig sien nie. Daar’s altyd nog ’n bitter kinkel om die draai. 

Iemand daag hierdie week op en kan dit nie verdra dat Naomi en Louis so ’n liefdevolle omgewing vir Hannah geskep het nie. Wat volgende gebeur kan een groot tragedie wees… Ek hoop dat Louis en Naomi nie so naby aan hul hofdatum deur ons sepieskrywers weer onder die bus gegooi word nie! Ons almal kort ’n happy ending vir ’n verandering. 

Maar die Kosters is nie die enigste mense wat met die heelal baklei nie. Joe (Roberto Kyle) moet ’n moeilike besluit maak. Los jy ’n duiwel om dood te gaan? Of red jy as dokter sy lewe, al beteken dit dat jou lewe dan in gevaar is?

Nuwe episodes van Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Daar is ook elke aand ’n herhaling van die episode om 23:30, asook Dinsdag tot Vrydag om 08:30. 

Suidooster

Linda (Melissa Willering) onthou uiteindelik iets oor haar verkragting, maar maak dit dinge makliker of moeiliker vir haar? Om ’n ouer te word, kan mens alreeds angstig maak, maar wanneer Linda vasgevang voel, doen sy iets wat my sommer in trane laat uitbars het. 

Elana (Esther von Waltsleben) wag al haar hele grootmenslewe vir hierdie wonderwerk, haar een groot droom, maar gaan dit regtig waar word en is dit uiteindelik die antwoord tot hulle gebede? 

Elke nou en dan vang sepieland jou omkant en trek dit bitter hard aan jou hartsnare en iets sê vir my dit is die begin van ’n spesiale hoofstuk. Gryp die tissues, ek dink ons gaan dit nodig kry… 

Ongelukkig is dit nie almal se realiteit nie. Vir Rhafiek (Irshaad Ally) word al sy grootste nagmerries nou ’n realiteit. Dit is die een hou na die ander. As ek in sy skoene was, sou ek seker maar net in die bed gebly, want ek sou te bang wees vir wat volgende gaan gebeur. Nee kyk, so kan ’n mens se senuwees nie getoets word nie…

Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax.

Skemergrond

En op daardie noot – hoekom is dit die mense naaste aan jou wat die grootste trauma in jou lewe veroorsaak? Ná JP (Charlton George) se groot bom verlede week gebars het, sukkel Jasmine (Khadija Heeger) nog om tot verhaal te kom met die feit dat haar ouers haar basies aan haar man verkoop het. Maar nou bo-op daai trauma moet hulle ’n plan maak sodat JP se broer hulle nie van elke rand en sent beroof nie. Wat het deur Jasmine se ouers se koppe gegaan toe hulle tot hierdie kontrak instem het? Gelukkig kry hulle hulp, maar iets sê vir my hierdie nuwe gesig uit JP se verlede gaan nog ’n baie groot gemors maak!

Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies