Ons almal weet teen dié tyd dat geheime skuld maak, maar lyk my niemand in sepieland verstaan dit nie. Van Pretoria tot Gemoedsdrift is dit tyd om in te cash en slegs dié wat regstaan om te betaal sal bo uitkom. Vir die res van ons is dit popcorn-tyd, want nie almal kan hul losprys bekostig nie en dit beteken drama, verraad en benoude spronge.
Daar is niks lekkerder as om te aanskou hoe iemand skroom om planne te maak om hulself uit die moeilikheid uit te kry, terwyl ons almal weet dit eintlik te laat is nie.
Lees ons sepievoorskou vir meer oor die drama wat vandeesweek op die kassie uitspeel.
Binnelanders
Ná verlede week se ongeluk, het Nicolette (Kate Roothman) hierdie week ’n traumatiese ondervinding wat heel moontlik haar loopbaan as chirurg sal bepaal. Ek was nou nie van die begin af ’n Nicolette-aanhanger nie, maar ek is nogal ’n groot aanhanger van #Nuys (Nicolette en Uys). Ek hoop hierdie nuwe kinkel sal hulle nader aan mekaar bring, want dit kan maklik vir hulle uitmekaar uit dryf.
Talia (Megan Troskie) het haar hande vol met LJ (Julian Robinson) en ek weet nie of ek so baie geduld soos sy sou hê nie. Hy kry altyd alles so maklik en dan blaas hy dit self op. Hy kan gerus by Naomi (Je-ani Swiegelaar) leer hoe om konflik te hanteer. Sy het ’n kopseer van haar eie, maar hanteer dit baie beter.
Nuwe episodes van Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Daar is ook elke aand ’n herhaling van die episode om 23:30, asook Dinsdag tot Vrydag om 08:30.
Skemergrond
Christine (Devonecia Swartz) is so desperaat sy sou seker haar eie organe verkoop as sy kon om geld te maak. Maar ek het nuus vir haar… elke slang kry sy dag en ek dink haar tyd het uiteindelik aangebreek! Die enigste probleem is, sy het vir Fabian (Marunzo Thomas) in die tronk gaan kuier en dié mag dalk vir haar ’n reddingsboei gee. Maar gaan sy dit vat of nie? Ek kan nie wag om te sien hoe hierdie een uitspeel nie. Ek is al op van Christine en wil hê dat sy haar plekkie langs Fabian en Beeno (Duncan Johnson) moet kry! Oranje lyk nogal asof dit haar kleur kan wees.
Nog ’n kinkel gaan oor haar pad kom danksy ’n ou gesig wat in Gemoedsdrift opdaag. Maar gaan hulle haar wegjaag of met ope arms verwelkom?
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.
Suidooster
Ruiterbosch gaan kykers weer laat skaterlag dié week wanneer hul eie Bonnie en Clyde in aksie spring. Angie (Char Carrie) en Gary (Craig Adriaanse) is op ’n missie en ek weet nie of dit ’n goeie idee is nie! Ons sal maar moet sien of dit ’n goeie daad of ’n verkeerde besluit gaan wees.
So gepraat van goeie dade – Siya (Gantane Kusch) het met die duiwel in die bed gespring en nou sien ons hoe dit in sy gesig kan opblaas. Nazeem (Irvine van der Merwe) veroorsaak weer vir Fiekie (Irshaad Ally) moeilikheid. In hierdie stadium wens ek net dat sy familie ’n bietjie minder met Nazeem sou skinder. Weet hulle nie teen dié tyd dat hulle hom nie kan vertrou nie?!
Mike (Anrich Herbst) se aankoms in Ruiterbosch veroorsaak groot ongemak, en ek nie wag om te sien wat dit vir ’n sekere paartjie se toekoms beteken nie.
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax.