Net toe hulle hul lot in die lewe aanvaar, word Wade (Dean Smith) en Elana (Esther Von Waltsleben) se wildste drome waar. Dít terwyl dit lyk asof Tertius (Reynard Hugo) aanhou hoop vir ’n toekoms wat nie meer bestaan nie… Lees ons sepievoorskou vir meer oor die drama wat vandeesweek op die kassie uitspeel.
Diepe Waters
Rhafiek (Irshaad Ally) se TB-nagmerrie in Suidooster hou my reeds snags wakker, en nou besef ek deur Liam (Abel Knobel) se ADHD-storielyn dat ek nie regtig so baie daaroor weet soos wat ek gedink het nie. Hoe hy daai joernalis aangeval het, was kommerwekkend, maar dit lyk asof ons hierdie week ’n heel ander kant van Liam leer ken. En hy is nie die enigste een nie!
Net toe Zelda (Sandi Schultz) haar stiefdogter beter wou leer ken, wys die jakkals haar ware kleure! Julle! Ons almal weet Zelda kan ruthless wees, maar dit tref mens nogal diep wanneer ’n skurk hul lewe probeer omkeer en dan deur ’n vals engeltjie aangeval word. Zelda verdien gewoonlik wat met haar gebeur, maar my hart pyn vir hoe dinge hierdie week uitspeel. Ek voel al vir ’n paar weke dat iets nie reg is nie, maar wat nou gaan uitspeel, is belaglik. Geen wonder Zelda verander nie haar houding nie. Ek sou maar ook ’n jakkals wees as die lewe heeltyd vir my sulke klappe uitgedeel het.
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Diepe Waters is ook op Catch Up beskikbaar.
Suidooster
Daar is groot feesviering in Ruiterbosch hierdie week! Dit is die einde van ’n era en die begin van ’n ander. Julle sal net so verbaas wees soos ek wanneer julle uitvind hoe ons tot by hierdie punt gekom het. Soms verbaas Bridgette (Denise Newman) my, maar ek weet ook dat haar gunste nie altyd uit die goedheid van haar hart kom nie. So ek moet wonder hoekom sy nou juis hierdie keer so ’n barmhartige samaritaan was. Tog gun ek Wade hierdie nuwe hoofstuk in sy lewe! En ingeval ’n sekere dame nou skielik in sy lewe gaan wil wees, het Angie (Char Carrie) nuus vir haar.
Ons almal weet Angie het nie op haar mond geval nie, maar Angie wys beslis vir Ruiterbosch se prinses hoe jy jou man moet beskerm! YOU GO GIRL!
Elana en Susan (Natasha van der Merwe) staan by ’n kruispad. Ons almal weet waar Susan se hart lê, maar ek wonder wat gaan Elana se finale besluit wees. Persoonlik dink ek nie dit is ’n moeilike besluit nie, maar sepieland vind altyd ’n manier om jou te verbaas…
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax.
Binnelanders
Dit raak nou te hartseer om Tertius en Tracy (Melinda Viljoen) se saga te aanskou. Hoe kan twee mense vir mekaar bedoel wees en tog aanhoudend so uitgedaag word? Dit sou my persoonlik al lankal gebreek het. In hierdie stadium weet ek nie of dit nog die moeite werd is vir hulle om te probeer nie. Hierdie week word hulle wel gedwing om ’n besluit te maak.
Enigiemand wat dink dat At (Hans Strydom) se hart van klip gemaak is, het hom nog nie rondom sy kleinkinders of familie-kleintjies gesien nie. Daar is min wat oom At nie vir die kinders in sy lewe sal doen nie. Dinge raak nou benoud in die Koster-huis en Naomi (Je-ani Swiegelaar) se senuwees hang aan ’n draadjie. Maar is dit te laat of is daar nog hoop?
Nuwe episodes van Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Daar is ook elke aand ’n herhaling van die episode om 23:30, asook Dinsdag tot Vrydag om 08:30.