Menu terloops
In Sepies [24 Aug 2025]

Sepievoorskou: Groot skok in ‘Binnelanders’, slim vang sy baas in ‘Suidooster’


Verraad, impulsiewe besluite en ’n ernstige ongeluk is deel van die drama wat vandeesweek op ons sepies uitspeel. Lees ons sepievoorskou vir meer.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepievoorskou: Groot skok in ‘Binnelanders’, slim vang sy baas in ‘Suidooster’

Ons sepievoorskou vertel jou meer oor waarna jy hierdie week (25 tot 29 Augustus) in Suidooster, Binnelanders en Skemergrond kan uitsien.

Skemergrond

Maak nie saak hoe hard die gemeenskap teen Christine (Devonecia Swartz) baklei nie, sy bly nou eenmaal ’n slang wat niemand anders vrede gun nie. Net toe ek gedink het Christine is op haar plek gesit, dink sy hierdie plan uit. Ongelukkig kan sy nie hierdie keer alleen die skuld dra nie! Ek weet JP (Charlton George) is seergemaak en lewe al jare in die skaduwee van ’n spook, maar ek het regtig nie gedink hy sal sy familie dít aandoen nie. Christine het geweet wat sy doen, maar JP het ’n keuse gehad en ek dink hy het sommer swak gekies. En dan kruip hy nog van sy kinders en vrou weg. Besluit nou of jy ’n man of muis is, JP! Gee ten minste vir Jasmine (Khadija Heeger) ’n kans. Sy het wel ook haar eie bed gemaak, want vir wat teken sy al jare hierdie hartjies? Hoe het sy gedink sou dinge uitdraai as iemand dit ontdek? Nou is dit slegs die Here se genade wat hierdie familie kan help… 

Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.

Suidooster

Shandy (Kay Smith) gaan nog uitvind dat jy nie ’n meesterskurk soos Nazeem (Irvine van der Merwe) kan flous nie. Het sy regtig gedink sy gaan met haar tricks wegkom? Twee keer het sy gedink sy gaan Nazeem vang en twee keer het hy aan haar bewys dat hy nie met toe oë deur die wêreld beweeg nie. Hy mag dalk in ’n rolstoel wees, maar hy eet beslis wakker pies. Ek wou regtig nie lag toe Shandy haarself uit hierdie situasies probeer praat nie – hoe meer sy verduidelik, hoe dieper raak daai gat wat sy vir haarself grawe. Ongelukkig is ek nie oortuig dat Nazeem by sy eie besluite gaan hou nie. Lyk my die liefde kan tog blind wees, veral omdat Shandy nie Laylla is nie. 

Maar Nazeem is nie die enigste man wat swak besluite neem nie! Ruiterbosch se nuwe power couple is allesbehalwe ’n perfekte paartjie. Ná hierdie week moet Mike (Anrich Herbst) eerder sy mond hou voordat hy vir sy dogter preek, want selfs die “goeie” mans kan maar sleg wees! Kry eers jou eie huis en lewe in order voordat jy jou bors uitdruk en vir iemand anders wil voorsê. En dan praat ek nie eens van daai sielkundige nie! Mens kan ook niemand meer vertrou nie.

Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax.

Binnelanders

Riaan (Erik Holm) gaan sy vingers nog erg verbrand met sy nuwe liefde! Hoe kan ’n mens toelaat dat iemand jou so om die bos lei? Amor (Laura-Lee Mostert) het Riaan en die res van die hospitaal presies waar sy hulle wil hê, maar sy het nie daardie stemboodskap verwag nie! Slim vang altyd sy baas en ek kan nie wag vir haar om haar dag te kry nie. Die groot kat kom vir jou! 

Tog is Amor nie die een wat regtig hierdie week in gevaar is nie. Dinge het nou te ver gegaan met Tracy (Melinda Viljoen) en wat volgende gebeur, het die hele Binneland op hol. Ek het regtig nie gedink dit gaan so eindig nie en nou hoop ek net dat wat ek verwag nie gaan gebeur nie. Dit sal so sleg vir hierdie arme gesin wees. 

Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies