Menu terloops
In Sepies [29 Mar 2026]

Sepievoorskou: Groot besluite en nog groter drama wag!


Ons sepievoorskou vertel jou meer oor waarna jy hierdie week (30 Maart tot 3 April) op ‘Suidooster’, ‘Binnelanders’ en ‘Skemergrond’ kan uitsien.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepievoorskou: Groot besluite en nog groter drama wag!

Groot trane toe een familie hierdie week vir inwoners van Ruiterbosch groet, terwyl die terugkeer van drie ou gesigte in Gemoedsdrift dinge beslis gaan omkrap! Maar wat is ’n sepie sonder drama, trane en feesviering? Dit is soos om spek sonder eiers te eet – it’s just not the same! Lees ons sepievoorskou vir meer oor die drama wat vandeesweek op die kassie uitspeel.

Suidooster

Daar was baie om te vier en dan was daar ook baie trane om af te vee. Ek het lanklaas so ’n snot-belaaide goodbye aanskou. Van begin tot einde kon ek nie ’n meer perfekte afskeid voorspel nie. Dit het alles wat ’n mens wil sien: hart, trane én nostalgie. Dit was regtig ’n liefdesbrief aan kykers en die band wat hierdie gesin met kykers ontwikkel het. En al het hierdie goodbye aan my hartsnare getrek, is dit nogal lekker om vir ’n slag ’n sprokieseinde te kry. 

Al bring hierdie week se storielyn ’n einde aan een gesin se hoofstuk in Ruiterbosch, bring dit ook groot geleenthede vir ander – maar sal hulle die geleentheid kan aangryp? Rhafiek (Irshaad Ally) maak ’n besluit wat sy familie se lewe kan verryk, maar dit kan ook hul lewens onherroeplik verander. Ongelukkig maak hy daai besluit alleen en nou sal ons moet sien hoe dinge uitdraai. 

Maar Rhafiek is nie die enigste een wat kanse waag nie. Nog ’n ou kan homself net nie help nie…

Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax. 

Binnelanders

Tracy (Melinda Viljoen) begin my nou regtig omkrap. Sy moet nou finaal besluit watter kant toe sy wil gaan. Net toe ek dink sy en Tertius (Reynard Hugo) kan ’n nuwe bladsy omslaan, erken sy ’n paar goed wat my asem weggeslaan het. As ek so geskok is, kan ek nie eens dink hoe Tertius moet voel nie. Daar is dinge wat mens net nie kan terugvat nie en ek dink Tracy het nou daardie punt bereik. 

Ella (Marlee van der Merwe) speel al vir weke met vuur en hierdie week vind kykers uit of dit die moeite werd was en of sy haar vingers gaan verbrand. Ek dink julle gaan verbaas wees! 

Intussen baklei een paartjie vir oorlewing, maar Binneland-stereo gaan hulle óf help óf sink! Watter een dink jy is dit?   

Nuwe episodes van Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Daar is ook elke aand ’n herhaling van die episode om 23:30, asook Dinsdag tot Vrydag om 08:30. 

Skemergrond

Twee tronkvoëls is weer besig om planne te maak en julle gaan nie glo wie terug in die prentjie is nie. Dit laat my nou wonder of dit heeltyd die plan was en of een van hulle net per ongeluk weer met die ander opgeëindig het. 

Arme Erika (Shimmy Isaacs) kan ook net nie wen nie. Elke keer as haar lewe floreer, moet iets of iemand haar onder toe trek. (As ek eerlik is, is dit altyd dieselfde persoon…) Nou kan julle maar raai wie onverwags in Gemoedsdrift opdaag! Ek bid tog net almal het Manny (Dirk Stoltz) se houding en dat hy nie weer met hul koppe smokkel nie. Maar Erika is nie die enigste een met ’n geheim nie.

Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
30

30 Afrikaanse flieks wat jy vir oulaas op Showmax kan kyk

Met Showmax se dae getel, gaan ons binnekort ’n groot gros Afrikaanse speelfilms, kortprente, reekse en dokkies op dié plaaslike stroomdiens moet groet. Maak dus ’n plan om vir oulaas een van die gewildste Afrikaanse flieks op Showmax te kyk.

Meer

Jou ‘Binnelanders’-kykgids vir Maart 2026

Daar is ’n meer-as-vriendskap-vonk tussen Uys en Nicolette en as Hannah verdwyn, is almal op hol. Dít en nog meer is wat op ‘Binnelanders’-kykers vandeesmaand wag.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir Maart 2026

Rhafiek kry skokkende nuus wat die Samsodiens verpletter en Zoë en Angie begrawe – skynbaar – die strydbyl... Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in Maart kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies