In sepieland bestaan daar nie iets soos ’n hoofstuk afsluit nie. Dikwels is die versoeking te groot en maak ’n karakter maar weer dieselfde boek oop en verwag verskillende resultate.
Soms moet mens net nie weer teruggaan nie, want soos Taylor Swift in haar trefferliedjie Opalite sing: “I had a bad habit of missing lovers past, my brother used to call it eating… out of the trash, it’s never gonna last.” Einste… Maar watter drama sou daar nou vir ons kykgenot wees as hulle dan nie aan die versoeking ingee nie?
Lees ons sepievoorskou vir meer oor wat vandeesweek op ons sepies ontvou.
Binnelanders
As daar nou een persoon is wat altyd groener weivelde soek, dan is dit Ella (Marlee van der Merwe). Sy hardloop mos met oop arms in die rigting van gevaar. Geluk is nooit goed genoeg vir haar nie. Henry (Francois Lensley) is nou nie juis ’n teddy bear nie, maar hy gee om en sal haar nooit kwaad aandoen of gyselaar hou nie. Hy sal haar nog minder wil vermoor – en vir Ella is dit ’n helse upgrade.
Ongelukkig was die noodlot nog nooit aan haar kant nie, so die standaarde is glad nie te hoog nie. Johan (Gustav Gerdener), wie ons almal weet die meesterbrein agter Binneland se sinkende skip is, wil nou die strydbyl begrawe en ná hierdie week lyk dit dan nou vir my asof Ella vir sy mooipraatjies val. Maar Henry het nou ook nie sy saak gehelp deur so ongevoelig oor ’n groot prestasie te wees nie! As Ella nie rooi gesien het nie, het ek self vir hom deur my TV probeer regruk.
At (Hans Strydom) ontvang ook ’n blast from the past wat vir hom op die plaas kom kuier. Dalk is hierdie ou geliefde juis die antwoord om hom uit sy depressie uit te ruk.
Nuwe episodes van Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Daar is ook elke aand ’n herhaling van die episode om 23:30, asook Dinsdag tot Vrydag om 08:30.
Suidooster
Die resultate oor die nuwe wyksraadslid word een van die dae aangekondig en julle, ek weet nie hoe mense so blind kan wees nie. Ek hoop die laaste reddingspoging wen die stemme vir Ruiterbosch, maar dit gaan baie naby wees. Ek byt nou al my naels in spanning vir die uitslae, want sal die regte kandidaat wen, of net die een wat die beste en vinnigste kan lieg? Julle sal maar moet inskakel, want julle gaan hierdie showdown wil aanskou!

Maar die liefde wil nou ook in die sentrumgange blom, want Zoë (Lauren Joseph) se oë is op ’n sekere miljardêrskind se grond. Maar hoe Zoë hierdie man en kontrak probeer losslaan, het my nou lekker laat skaterlag hierdie week. Nee kyk, daar is nie kompetisie vir Oliver (Stefan Erasmus) se charm nie. Ek wonder of Wade (Dean Smith) regtig so kalm is en of hierdie nuwe kinkel meer as een vriendskap gaan verwoes.
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax.
Skemergrond
Niemand in Gemoedsdrift kan met Meryl (Jaryn Hess) huishou nie en ek blameer hulle glad nie. Mens moet vir jou buurvrou omgee, maar jou buurvrou moet ook darem respek hê. Meryl beledig nog iemand hierdie week en julle gaan nie glo wie dit is nie. Nee, kyk, nou het ek alles gesien! Maar die hotel se mense dink vinnig op hul voete en kry beslis die gemeenskap se aandig.
Ruan (Dann, Jacques Mouton) het ’n nuwe saak en kan dit net nie laat gaan nie. Is dit sy laaste saak of gaan sy engele hom weer beskerm?
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.







