Die tonge klap dié week in Suidooster wanneer geheime ontbloot word. En, soos ’n mens sou verwag, is nie almal beïndruk wanneer hulle die waarheid uitvind nie. Intussen maak ’n oproep en ’n brief die mense van Gemoedsdrift benoud en in Boskruin val verhoudings uitmekaar… Lees ons sepievoorskou vir meer oor die drama wat vandeesweek op die kassie uitspeel.
Diepe Waters
Daar word dié week in Boskruin afskeid geneem van een van die laaste in ’n sekere bloedlyn. En behalwe die hartseer, kan dit tot gevolge lei wat die toekoms vir die Swarts-gesin vir altyd gaan verander. Ek wonder regtig wat nou gaan gebeur, want ’n mens hoor elke dag van sulke situasies in gesinne, maar dit raak nog meer ingewikkeld wanneer daar, soos nou, glad nie vrede in die familie is nie.
Zelda (Sandi Schultz) het familieprobleme van haar eie wat haar toekoms gaan beïnvloed. Ek kry die vrou eintlik jammer hierdie keer, want sy wou regtig net help. Hierdie kan nogal ’n ongemaklike besigheid word.
Maar nie meer ongemaklik as dit wat René (Marijke Coetser) wil doen nie. Ek glo beslis daarin om te veg vir dit wat jy wil hê, maar ek wonder of René nie ’n fout maak nie. Lyk my sy het beslis ’n tipe – ’n Swartmarlyne-man!
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Diepe Waters is ook op Catch Up beskikbaar.
Suidooster
René is nie die enigste vrou wat haar oë op ’n sekere tipe man het nie. In Ruiterbosch is daar ’n ma en dogter met dieselfde smaak in mans, maar julle gaan julle oë wil toedruk vir die oomblik wanneer SY ma hulle betrap. Nee, kyk, ek skaam my dood as dit met my gebeur. Dit is nou wel nie jou alledaagse paartjie nie, maar liefde is liefde en almal verdien om geluk te vind… sonder oordeel!
Siya (Gantane Kusch) het ook sy hande vol hierdie week en besluit om saam met die duiwel te werk. Of ek so desperaat sou wees, weet ek nou regtig nie, maar soms moet jy moeilike besluite neem om jou familie te beskerm!
En ’n bekende TV-legende daag in Ruiterbosch op vir ‘n TV-reünie met iemand uit sy verlede. Dit is dalk ’n nuwe karakter, maar met dieselfde storietjies en energie wat aan kykers se nostalgie en hartsnare gaan trek.
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax.
Skemergrond
Hazel (Carmen Maarman) se hart gaan staan amper wanneer Junior (Ayden October) ’n brief ontvang. Dié brief en ’n oproep kom met ’n sekere agenda en ek hoop regtig vir almal op Everlasting se onthalwe dat niks hiervan sal kom nie! Maar as Hazel se bose suster haar wil kry, is dit die perfekte inligting vir nog ’n aanval op die Louws.
Niemand kan my lekkerder laat lag as Manny (Dirk Stoltz) nie! Hierdie week oortref hy weer homself wanneer hy vir die eerste keer in sy nuwe beroep intree. Julle, ek weet sommer ons gaan nog lekker lag vir hierdie storielyn!
Ek bid tog ook net vir Erica (Shimmy Isaacs), want as sy nie vinnig haar houding verander nie, gaan sy haar seun verloor en dít sal baie hartseer wees.
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.