Menu terloops
In Rubrieke [18 Apr 2026]

Sepievoorskou: Die waarheid kom teen ’n prys in Ruiterbosch én Everlasting!


Ons sepievoorskou vertel jou meer oor waarna jy hierdie week (20 tot 24 April) op ‘Skemergrond’, ‘Binnelanders’ en ‘Suidooster’ kan uitsien.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepievoorskou: Die waarheid kom teen ’n prys in Ruiterbosch én Everlasting!

Terwyl familiebande in Gemoedsdrift en Ruiterbosch hierdie week getoets word, kry die liefde uiteindelik ’n kans om in Pretoria te blom. Ek wens meer mense sou eerlik wees oor hul gevoelens; dit sal almal baie tyd en trane spaar. Maar sonder hierdie verkeerde besluite, angs en teleurstelling sou ons nooit ons sprokieseindes en drama-fix nie.

Daar is ’n groot skok wanneer een familielid in Ruiterbosch die waarheid agter ’n gebroke verhouding uitvind. Dít terwyl ’n skurk in Gemoedsdrift ’n ander familielid van hul laaste waardigheid stroop.  

Lees ons sepievoorskou vir meer oor die drama wat vandeesweek op die kassie uitspeel.

Binnelanders

Die raaisels rondom Nicolette (Kate Roothman) se gesondheid is nog nie opgelos nie, maar haar nuwe kêrel maak dit hierdie week sy missie om ’n oplossing te vind. Ongelukkig is daar vriende wat jaloers en uitgesluit voel wanneer Uys (Gerald Steyn) skielik nie meer al sy tyd en aandag aan hulle wil spandeer nie. Uys dink hy het ’n antwoord, maar hierdie hele storielyn voel meer soos ’n episode uit Greys Anatomy as Binnelanders. Kan dít regtig die antwoord wees? Hou maar jul fone naby, want as julle soos ek is gaan jy onmiddellik dinge begin Google… Die liggaam kan darem ’n snaakse ding wees.

Maar die liefde is nie vir almal beskore nie! Bonnie (Antoinette Modise) kry hierdie week baie goeie nuus, maar of sy die kans gaan aangryp weet ek nie. Die hart kan mens soms snaakse besluite laat maak.

Nuwe episodes van Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Daar is ook elke aand ’n herhaling van die episode om 23:30, asook Dinsdag tot Vrydag om 08:30.

Skemergrond

Die volgende fase van Christine (Devonecia Swartz) se plan is nou in aksie, maar sy besef hierdie week dat sy maar ’n klein vissie in die see van skurke is. Hierdie vrou se boosheid het geen perke nie en familie beteken beslis nog minder vir haar. Nie dat enigiemand nou juis tou staan om bloed saam met haar te deel nie. Ek kan regtig net nie glo dat sy so laag sal daal nie. Selfs vir Christine is dit te erg.

Haylee (Sharfa du Plessis) bevind haarself in warm water hierdie week en daar is nie ’n enkele gedeelte van my wat haar bejammer nie. Wat het in haar lewe so verkeerd gegaan dat sy Christine van alle mense as haar held sien?! Christine raak nou regtig bekommerd en ek verlekker my in elke oomblik daarvan.

Is dit te laat vir Kirby (Chante Grainger) om ’n nuwe bladsy om te slaan? Sy ontdek dié week wat gebeur wanneer jy jou met die semels meng!

Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.

Suidooster

Mike (Anrich Herbst) vind hierdie week uit dat spyt altyd te laat kom. Hy het seker gedink hy gaan in Ruiterbosch aankom en onmiddellik sy vrou en dogter se harte terugwen. Maar hy leer vinnig dat vroue nie net vir jou gaan wag nie. En dan vind hy iets uit wat hom heeltemal onkant vang. Maar hy is nie die enigste een nie!

Riaan (Daniel Coetzee) weet nie hoe hy dit het nie. Inligting word gelek en dit plaas hom in ’n baie moeilike situasie. ’n Gedeelte van my wil graag hê dat hy geluk moet vind, maar my kop sê heeltyd hy moes geweet het hoe dinge sou uitdraai!

Dinge ruk handuit vir Siya (Gantane Kusch) en ek kan nie meer kyk nie. Hoe gaan dinge uitdraai en watter kant gaan die pastoor kies? 

Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies