Menu terloops
In Rubrieke [16 Aug 2026]

Sepievoorskou: Die hart kry nie altyd sy sin nie


Ons sepievoorskou vertel jou meer oor waarna jy hierdie week (17 tot 21 Augustus) op ‘Binnelanders’, ‘Diepe Waters’ en ‘Suidooster’ kan uitsien.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepievoorskou: Die hart kry nie altyd sy sin nie

Liefde is veronderstel om alles te oorwin, maar dié week laat ons sepies my ernstig daaroor wonder. Terwyl een gemeenskap gereed maak om liefde te vier, lyk ander verhoudings of hulle skaars nog ’n hou kan oorleef. Voeg daarby ’n paar gevaarlike keuses, onverwagte gesigte en karakters wat dalk die verkeerde mense vertrou en jy het ’n week waarin die hart en kop beslis nie dieselfde taal praat nie.

Lees ons sepievoorskou vir meer oor die drama wat vandeesweek op die kassie uitspeel.

Diepe Waters

’n Langverwagte viering bring Boskruin se gemeenskap uiteindelik weer bymekaar, maar gaan dié geleentheid beter afloop as die ander? As jy my vra, is daardie tuin behoorlik ge-curse, maar dalk is hierdie lovebirds  net die mense om die vloek te breek.

Karla (Daniélle Swanepoel ) se huwelik is intussen meer op die rotse as ooit en eerlikwaar lyk dit nie eens vir my as of sy daarin belangstel om dit te red nie. Maak net ’n besluit en laat die arme man gaan as dit is wat jy wil hê! ’n Huwelik bestaan uit twee mense met gevoelens en keuses. Hier staan ’n man wat alles saam met haar wil hê, maar dit voel soms of Karla net die medaljes raaksien.

Zelda (Sandi Schultz) het dit haar missie gemaak om haar man aan die lewe te hou. Maar terwyl haar web van leuens dreig om ontrafel te word, skuil gevaar om elke hoek. Ek sweer hierdie man is erger as Voldemort se gees in Harry Potter, hy weier eenvoudig om weg te gaan. As ‘n death eater ‘n persoon was, was dit hy.

Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144).

Binnelanders

Ná Tracy (Melinda Viljoen) se surprise besoek, raak dinge nou eers deurmekaar. Ek hou duim vas dat dit die begin van ’n versoening is, maar in die Jakarandastad kan ’n mens nooit te seker wees nie.

Ella (Marlee van der Merwe) probeer dalk nog haar reputasie red, maar hierdie keer is haar motiewe verrassend genoeg op die regte plek. Wanneer ’n pasiënt na Binneland terugkeer, laat haar optrede selfs van die dokters anders na haar kyk. Kan hierdie uiteindelik die begin van Ella 3.0 wees?

’n Bekende gesig keer ook terug en as jy my vra, is die tydsberekening van ’n ongeluk glad nie toevallig nie. Dood en beserings is mos nooit ver wanneer hierdie persoon naby is nie.

En tussen al die hospitaaldrama lyk dit darem of romanse dalk vir ’n paar van Binneland se verpleegpersoneel op die kaarte is. Ek kla beslis nie, want iemand in daardie hospitaal verdien ’n gelukkige liefdeslewe.

Nuwe episodes van Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Daar is ook elke aand ’n herhaling van die episode om 23:30, asook Dinsdag tot Vrydag om 08:30.

Suidooster

Kate (Annelisa Weiland) word hierdie week met ’n ontstellende werklikheid gekonfronteer, maar keuses het gevolge en ek vermoed sy wens nou sy kon die horlosie terugdraai.

Haar seun se lewe val intussen uitmekaar en dit dryf hom tot ’n paar drastiese besluite. Een van daardie besluite steek egter weer ’n grens oor. Ek weet nie hoe maklik hy hierdie keer daarvan gaan terugkom nie.

Dit lyk ook of JPD uiteindelik weer ’n argitek gaan hê, maar hoekom voel dit vir my Zoë (Lauren Joseph) gaan die teleurgesteldste wees? Haar reaksie alleen was goud werd.

Die Samsodiens ontdek intussen dat hulle dalk nie die volle storie het nie, terwyl Lee-Ann (Portia Joel) alles in haar vermoë doen om haar seun uit die tronk uit te hou. Iets sê vir my hierdie storie is nog lank nie verby nie.

Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up en DStv Stream.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
12

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom

Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en 'Ontwaak' tot die bekroonde 'Koek' en 'Wyfie' – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies