Dié week bring groot emosies, moeilike besluite en meer as een karakter wat besef dat elke keuse wel gevolge het. Terwyl sommige probeer om vorentoe te beweeg, word ander deur hul verlede ingehaal en gedwing om hul prioriteite in oënskou te neem. Verhoudings word getoets, geheime raak moeiliker om weg te steek en nie almal gaan die week eindig waar hulle dit begin het nie. Gelukkig is daar ook ’n paar mooi oomblikke…
Lees ons sepievoorskou vir meer oor die drama wat vandeesweek op die kassie uitspeel.
Diepe Waters
’n Uitnodiging sorg hierdie week vir die eerste groot toets in Marco (Xander Venter) en René (Marijke Coetser) se verhouding en die enigste woord wat by my opkom, is cringe. Ná dié week, weet ek nie hoe hulle nog ’n toekoms saam sien nie. Miskien sien hulle dit as ’n sukses, maar ons almal weet mense se idees van sukses verskil.
Gelukkig wys Leandi (Christel van den Bergh) en Rossouw (Altus Theart) dat romanse ná kinders steeds oulik kan wees. Dis natuurlik net as Rossouw nie weer sy eie geluk saboteer nie. Sy geheime besoeker bly ’n gevaarlike speletjie en ek verstaan steeds nie hoe hy soveel genade kan hê vir iemand wat sy lewe so ontwrig het nie!
Gys (Justin Strydom) kry intussen ’n harde wake-up call en ten spyte van alles wat tussen hom en Zelda (Sandi Schultz) gebeur het, kon ek nie anders as om jammer te voel vir hom nie. Zelda neem egter ’n groot sprong hierdie week en ek kon nie gelukkiger vir haar wees nie. Ek vermoed baie kykers gaan meer as een traan afvee soos haar storielyn ontvou.
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.
Binnelanders
Die kompetisie tussen Henry (Francois Lensley) se studentedokters bereik nuwe hoogtes, maar hoe ver is te ver wanneer iemand se lewe op die spel is? Ek wou aanvanklik van Dewald (Phillip Schnetler) hou, maar hy maak dit moeilik. Ek weet steeds nie of hy bloot net té kompeterend is en of daar iets donkerder agter sy optrede skuil nie.
Tracy (Melinda Viljoen) wou nie saam met Tertius (Reynardt Hugo) op ’n vliegtuig klim nie, maar eindig hierdie week in die bos saam met Conrad (Hykie Berg). En iets sê vir my hierdie poging om happy family te speel, kan dalk onverwags meer beteken. Is dit die begin van Tracy en Conrad se sprokie of probeer sy bloot van Tertius vergeet?
Die paartjie waarvan ek die meeste tans hou, is Uys (Gerald Steyn) en Nicolette (Kate Roothman). Maar noudat hulle mekaar uiteindelik gevind het, dreig ’n oproep uit Noord-Amerika om alles te verander.
Nuwe episodes van Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Daar is ook elke aand ’n herhaling van die episode om 23:30, asook Dinsdag tot Vrydag om 08:30.
Suidooster
Zoë (Lauren Joseph) probeer steeds sin maak van verlede week se bomskok, maar haar reaksie los ons met baie vrae. Eerlikwaar verras dit my nie juis nie. Zoë het nog altyd eerste aan haarself gedink en dit maak die pad vorentoe vir almal rondom haar baie ingewikkeld.
Wade (Dean Smith) staan voor moeilike besluite, maar my simpatie vir hom is maar beperk.
Ava (Simone Neethling) word intussen die jongste slagoffer van Nazeem (Irvine van der Merwe) se sjarme en ek kan nie glo wat sy hierdie week aanvang nie.
Die JPD-susters se week eindig op ’n onverwagse noot nadat dinge by die kantoor handuit ruk.
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up en DStv Stream.
Skemergrond
So baie as wat Erica (Shimmy Isaacs) my soms frustreer, moet ek erken dat haar dramatiese waarskuwings dikwels ’n element van waarheid bevat. Hierdie week probeer sy die groter mens wees, maar die vraag is of dit nie dalk reeds te laat is nie.
Christine (Devonecia Swartz) het intussen haar volgende teiken en iets sê vir my hierdie storie gaan die gemeenskap van Gemoedsdrift behoorlik omkrap.
Patty (Gretchen Ramsden) staan ook voor ’n moeilike keuse tussen haar kop en haar hart. En dinge raak nog meer ingewikkeld wanneer ’n onverwagse gesig by die hotel opdaag.
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.