Ek is so gewoond aan die drama in sepieland, maar vergeet skoon dat daar ook oomblikke is wat aan jou hartsnare trek en die trane laat rol. Sepies op ons radar vandeesweek is Suidooster, Binnelanders en Diepe Waters.
Diepe Waters
Asof Johan (Liam Bosman) nie reeds die swart skaap in die familie is nie, bars die bom toe in sy ma, Sanet (Nadia Valvekens), se gesig. Shocker: Johan het ’n meisie swanger gemaak. Ek gaan nie eens probeer jok en sê dat ek verbaas is nie, want ons almal het hierdie sien kom. Die feit dat hy dit ontken het, is ook nie iets wat my verbaas nie. Sy tannie se reaksie het wel onmiddellik my aandag geprikkel…
Ons almal weet teen dié tyd dat iets groot tussen Anja (Reandi Grey), haar oorlede ma en Gys (Justin Strydom) gebeur het. Ons weet nog nie wat nie, maar dit was groot genoeg dat sy vir meer as ’n dekade lank verdwyn het. Toe Anja met Rossouw (Altus Theart) praat oor Johan se oopsie, het haar lyftaal en gedrag boekdele gespreek. Ek is oortuig daarvan dat Anja swanger was en dat Gys en haar ma haar gedwing het om van die kind ontslae te raak. Dit is ook sonder Rossouw se wete gedoen en seker omdat hulle haar gedwing het. Rossouw gaan sy pa nooit vergewe as hy van dié geheim uitvind nie.
Kyk Diepe Waters op Catch Up en DStv Online.
Suidooster
Terwyl die mat vir ’n tweede keer onder Wade (Dean Smith) se voete uitgeruk is, het die trane Vrydagaand gerol nadat Bennie (Richard September) en Linda (Melissa Willering) hul keuses gemaak het. Ek lag gewoonlik vir hierdie twee wat hul rolle so goed en met oortuiging vertolk. Hulle is simpel, maar briljant. Ai, ek het gedink hulle sal altyd mekaar se mossie en kanarie wees, maar ’n gelukkige einde was toe nie vir hulle beskore nie. Toe Bennie krokodiltrane begin huil soos hy vir Linda verduidelik hoekom hulle nie kan saam wees nie, het ek dit ook sommer verloor. Dit was so mooi en hartroerend toe Bennie vir Linda uit liefde laat gaan het, omdat hy eerder by sy ma wil bly en tee met die anties ná buurtwagdiens wil geniet. Hy kon sien dat sy onafhanklik wil wees en het sy mossie vrygelaat om haar vlerke te sprei.
Ek wens daar was meer van hierdie oomblikke, maar ten minste het Angie (Char Carrie) op haar manier vir Wade ook vrygelaat. Angie het haar foute, maar ek dink sy was regtig vir Wade lief. Hierdie keer wil sy net die beste vir hom hê. Dit is meer as wat ek van Nazeem (Irvine van der Merwe) kan sê.
Nazeem dink net aan homself. Glad nie oor wat goed vir Zoë (Lauren Joseph) of haar huwelik is nie. Ek hou van hierdie kant van Nazeem, maar moes hy ’n getroude vrou kies? En weet hy watter chaos Tim gaan veroorsaak as hy eers uitvind? Hier kom moeilikheid.
Kyk Suidooster op DStv Online.
Binnelanders
At (Hans Stydom) het genoeg gehad. Maar ek dink die tyd weg van sy mense het hom goed gedoen. Sy Big Brother-oomblik het vir hom tyd gegee om perspektief te kry. Ek dink hy besef uiteindelik dat hy ’n groot fout gemaak het toe hy vir Conrad (Hykie Berg) onterf het. Dié twee sal dit nooit erken nie, maar hulle is soos vinkel en koljander. Conrad is sy pa se seun. Ek dink hulle gaan uiteindelik die strydbyl begrawe as At soos die feniks wat hy is triomfantlik terugkeer. Maar voor dit gaan hy gou eers vir ’n paar mense die skok van hul lewe gee…
Kyk Binnelanders op DStv Online.