Verlede week se sepies was so vol spanning en kinkels, dit het my gans tien jaar ouer gemaak.
Sodra ek dink dinge kan nie erger word nie, is daar nog ’n stok in die wiel wat die hele wa omdolwe: Van nog twee mense wat uit die dood herrys en Hoërskool Arendsvlei se toekoms wat in gevaar is tot Gys (Justin Strydom) se vrou wat die kat in die donker knyp.
Sepies op ons radar vandeesweek is Diepe Waters, Suidooster en Arendsvlei.
Suidooster
Toe Nazeem (Irvine van der Merwe) vir Zoë (Lauren Joseph) afpers vir aandele in JPD, het ek gedink dit was die grootste skok van die week. Maar om eerlik te wees, het ons almal geweet hy sal een of ander tyd sy ware kleure wys. Nazeem gaan beslis een van die dae die bom rondom hul verhouding laat bars. Ná al die spanning tussen Nazeem en Zoë het ek wragtig nie verwag dat Dirk (Evan Hengst) soos ’n feniks uit die as weer in Ruiterbosch sou verskyn nie. Ons almal het gesien hoe hy tydens sy ma se inhegtenisneming doodgeskiet is. Dieselfde aand wat Bianca (Simone Biscombe) uit die kloue van die orgaansindikaat gered is. Maar min mense sterf mos regtig in sepieland.
Ek sou Dirk een goeie klap deur die gesig gegee het as ek Mymoena (Jill Levenburg) was. Prys die Here dat hy vir sy sondes wil betaal en vir vergifnis smeek, maar in my oë is dit ’n geval van too little, too late. Net omdat sy gewete vir hom pla, beteken dit nie dat Bianca en die res van die Samsodiens na hom moet luister nie. Ek blameer hulle glad nie vir hul reaksie nie. Kom ons kyk maar wat volgende gebeur en of Bianca sy hart groter as myne is! Dalk verbaas sy ons almal en vergewe vir Dirk.
Kyk Suidooster op DStv Online.
Arendsvlei
My hart het nes Janice (Crystal-Donna Roberts) en Lionel (Jody Abrahams ) se harte in stukke gebreek toe Ayesha (Meghan Saayman) in die hospitaal wakker word en hulle hoor dat sy die baba verloor het. Toe die olie in die gang gemors is, het ek geweet Ayesha gaan val. Maar ek wou dit nie glo nie, want ek wou so graag sien hoe Janice en Lionel die kans kry om ouers te wees. Ek weet nie of Ayesha dit in haar het om weer te probeer nie, maar hierdie hele situasie gaan haar en Langes (Bobby Stuurman) net nader aan mekaar bring. Dit was ’n regte romcom-oomblik toe Langes vir Ayesha in sy arms vat en sê, “even though I didn’t know it, my forever began the day I met you”. Praat van ’n tranetrekker!
Ten minste is daar een silwer randjie in Arendsvlei, want soos gewoonlik is die universe teen die Cupidos gekant. Die munisipaliteit soek nou R20 miljoen vir die skool se grond en ons almal weet dit is hul nuwe broer en sy vroutjie wat agter dié plan sit. Kom ons hoop dat die Cupido-familie vinnig agterkom wie teen hulle werk.
Kyk Arendsvlei op DStv Online.
Diepe Waters
Johan (Liam Bosman) en Rossouw (Altus Theart) is nou in dieselfde boot, met die dat albei se meisies aborsies gekry het. Dit is hartseer, maar hopelik sal Johan nou wakker skrik en besef dat hy moet verander. Ek twyfel of dit gaan gebeur, maar ons kan maar net hoop. Sy oom het ’n sagte hart, maar hy speel met vuur. Daar broei nou al vir weke iets tussen Jacques (Werner Coetser) en sy stiefma Meghan (Lea Vivier). Verlede week het Gys hul amper betrap en ek kan nie wag om sy gesig te sien wanneer hy hulle wel uitvang nie. Hulle pas beter bymekaar as Meghan en haar sugar daddy Gys. Lyk my albei die Swarts-broers knyp die kat in die donkerte. Daar is seker iets in die Swartmarlyne se water.
Kyk Diepe Waters op Catch Up en DStv Online.