Menu terloops
In Sepies [10 Apr 2023]

Sepies: Leuens plaas lewens op die spel in ‘Diepe Waters’, ‘Arendsvlei’


Hierdie week raak dinge nog meer dramaties op ons skerms in die sepies ‘Diepe Waters’ en ‘Arendsvlei’.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepies: Leuens plaas lewens op die spel in ‘Diepe Waters’, ‘Arendsvlei’

Daar is net een woord om die atmosfeer in verlede week se sepies op te som en dit is… cringe!

Ek was diep gespanne terwyl ek meeste van die tonele gekyk het. Meestal oor ek nie geweet het of ek moet kyk of wegkyk nie. Uiteindelik kon ek myself nie keer nie en het myself aan die tasbare drama en spanning oorgegee. Etlike akteurs het hulself oortref met onvergeetlike toneelspel. En daarmee saam hou die kinkels net nie op nie! Verlede week se aksiebelaaide drama was dalk intens, maar ook ’n heerlike bederf vir stoere sepieliefhebbers soos ek (en dalk jy?).

Diepe Waters

Verlede week het dinge regtig plofbaar op Diepe Waters geword. Die bom oor Rossouw (Altus Theart) en Anja (Reandi Grey) se verhouding het in ’n epiese en onvergeetlike episode in die Swarts-gesin se gesigte gebars. Dit kon nie meer cringe gewees het al het die skrywers hoe probeer nie. Die teks het my by tye na my asem laat snak. Ek het uit ongemak op my tande gebyt, want die woede en uitdrukkings op hul gesigte was net te veel. Dit het gevoel asof ek ’n moerse kettingbotsing dophou, terwyl ek eintlik moet wegkyk.

Die geheime het die Swarts-gesin soos vuishoue, die een na die ander, getref. Eers bars Karla (Daniélle Swanepoel) voor die predikant in woede uit en begin op haar pa en tannie skree oor hul verhouding. Die arme predikant was so skaam hy wou net wegkom. Sanet (Nadia Valvekens) het rooi gesien en het Anja amper te lyf gegaan. Die statige Sanet was so kwaad, sy was nie eens gepla met die feit dat almal haar shapewear kon sien nie. Sy was reg om te baklei en wou net straat toe met Anja! Jy kon sien hoe die lewe en kleur uit Meghan (Lea Vivier) en Jacques (Werner Coetser) se gesigte verdwyn het. Hulle was seker verlig dat dit nie hul geheim is nie… Maar dit het dalk wel gedien as ’n voorsmakie van wat kan gebeur as dit op die lappe kom.

Dit het ook nie gehelp dat hierdie geheim in die middel van die hernuwing van hul troubeloftes uitgekom het nie. Liewe genade. En toe kom Anja met die ander groot bom. Gys (Justin Strydom) het haar destyds gedwing om ’n aborsie te kry en die kind was sy eie kleinkind. In daardie oomblik kon jy vir Gys met ’n veer omtik. Die oomblik was priceless. Ek wag al vir maande hiervoor en dit was beslis die wag werd. Maar dit was nie al wat gebeur het nie. In ’n ware crescendo-oomblik, het Karla besluit sy het genoeg van hierdie sirkus gehad. Sy het haar eie lewe probeer neem en haar ma was te dronk om te kan help. Het Sanet hierdie keer groot genoeg geskrik om op te hou drink?

Kyk Diepe Waters op Catch Up en DStv Online.

Arendsvlei

Saartjie (Hunter Plaatjies) is toe nie so slim soos wat sy gedink het nie. Letterlik en figuurlik, want behalwe dat sy op haar klasse op universiteit druip, steek sy nie regtig haar dwelmprobleem goed weg nie. Maar kom ons hoop dit sal binnekort iets van die verlede wees.

Simone (Dawn Fisher) is wel baie slim en het vinnig ’n lokval vir die siek Derrick (Travis Snyder) gestel. Hy het sonder twyfel daarvoor geval en gaan nou hopelik vir jare in die tronk vrot. Maar in sepieland wurm mense hulself mos vinnig uit die tronk uit… Ek kan myself nie in Ivy (Octavia Meissenheimer) se skoene plaas nie. Ek sal so skaam wees as my man my so in die gemeenskap en by my werk verneder het. Ek weet nie hoe sy na hierdie een nog in in die Vlei sal kan bly nie, veral omdat sy nie vir Simone beskerm het nie.

Kyk Arendsvlei op DStv Online.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

20

Wat om te kyk: 20+ gewilde boeke wat in TV-reekse omskep is

Van 'Recipes for Love & Murder' en 'Reënboogrant', tot 'Spooksoeker' en 'Dinge van ’n kind' – soveel boeiende boeke wat omskep is in soveel skitterende TV-reekse. Hier is ons keur van dié reekse wat jou gaan bekoor, inspireer en ontroer.

Meer

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
Sien alle opsies