Menu terloops
In Sepies [16 Jan 2023]

Sepies: Kwik styg vinnig soos karakters konkel en knoei


As dit is hoe die jaar begin, gaan 2023 een vir die boeke vir ons sepies wees. Die storielyne is reeds meer hittig as die Karoo in die hoogsomer. Ek staan gereed vir al die spanning, gekonkel en rugstekery wat uit ons sepieskrywers se penne kom. Hierdie is die sepies met die lekkerste, skokkendste (en soms belaglikste) storielyne dié week.

Sepies: Kwik styg vinnig soos karakters konkel en knoei

Sjoe, ek het verlede week whiplash gekry van al die draaie en swaaie wat tans in ons sepies plaasvind. Ek kon my lag nie hou toe Parra (Jonty Isaacs) vir Laetitia (Quantita Adams) teen haar skoonma probeer waarku nie en heel ernstig afsak met “ons moet ons geld by die munisipaliteit vrou kry, sodat ons daai heks kan betaal om op haar bleddie besemstok te klim en hier weg te vlieg.” ’n Vreemder kombinasie is daar nie in sepieland nie, maar elke lyn uit hul monde is goud.

Dan is daar nóg drama in Susan (Natasha van der Merwe) se lewe as sy vir Keith (Christiaan Schoombie) met haar gunsteling mode-item, die nederige plakkie, bykom toe dié vent haar soos ’n warm patat los.

In Diepe Waters en Binnelanders voel dit asof elke storielyn ’n tydbom is wat enige oomblik kan ontplof. My senuwees is wraggies elke aand in flenters.

Sepies op ons radar vandeesweek is Suidooster en Arendsvlei.  

Arendsvlei

As iets genoem word, beter jy ’n mental nota vir toekomstige verwysing maak! Onthou julle toe Debra (Kay Smith) se geliefde oupa op sy sterfbed die skokkende nuus gedeel het dat sy dierbare vriend, George Cupido, vir Gertie (Celeste Matthews-Wannenburgh) verneuk het en ’n skelm kind gehad het? Wel, dié einste kind is nou hier en hy soek sy familie! Die Cupido-familie is nog besig om van hul Wengrid-PTSD te herstel en nou val Anthony George Saaiman (Terence Bridgett), uit die bloute uit. Wendy/Ingrid se kamma-halfbroer is glo op soek na familiebande.

As iemand wat bloed met ’n psigopatiese vyand van my deel uit die niet te voorskyn kom, sou ek vir hulle die deur wys. Vriendelik, maar vinnig. Op een of ander manier moet ek my vrede bewaar. Ek voel almal verdien ten minste een kans in die lewe, maar ek weet darem nie of Anthony sonder agendas en bybedoelings kom nie. Ek sou ook bang wees en twee keer dink voordat ek hom met ope arms verwelkom. Fool me once, shame on you. Fool me twice… shame on me!

Ek wens darem ek het Hein (Merlin Balie) se geluk met geld gehad! Hoeveel sakkies en tasse met duisende rande gaan hy nog optel? Ek bid dieselfde gebede, maar die enigste geld wat ek vind, is die verlore R10 in my jeans of baadjie se sak. Dit is beslis nie duisende rande wat ek optel nie. Maar Hein bid net, dan verskyn daar geld. Shame, ek is bly dat hy die oond kan regmaak, maar wat gaan arme Parra en Laetitia doen as hulle uitvind dat Petra (Shimmy Isaacs) hul geld in die verkeerde soort bank gestoor het en Hein dit toe gevind het? 

Kyk Arendsvlei op DStv Online.

Suidooster

Hulle sê karma is ’n slinkse feeks, maar al het Susan erg drooggemaak, is dit wat met haar nou gebeur ook baie sleg. Ek sal ook bitter vinnig wil wegtrek as ek my vrou en kêrel met ’n ekstra skelmpie verneuk het… En boonop my werk vir hom opgegee het! En dan los hy my asof ek net ’n fling was. Eina! My ego sou dit nie kan hanteer nie. Ten minste slaan Justin (Eden Classens) nie mis nie en Elana (Esther von Waltsleben) het ’n hart van goud, want albei het Susan ondersteun toe die skindertonge begin klap het.

Ek hoop tog Justin en Elana hou verby. Al het Susan nou hopelik haar les geleer, sou ek nie verder my tyd op haar mors nie.

En op daardie noot… Ek hoop die skille val van Zoë (Lauren Joseph) se oë af, want Nazeem (Irvin van der Merwe) sal nooit verander nie. Hy gaan haar nog lelik indoen. Sy is beslis nie vir die tronk gemaak nie en oranje is nié haar kleur nie.

Kyk Suidooster op DStv Online.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies