Sepies op ons radar is Suidooster, Diepe Waters en Arendsvlei.
Arendsvlei
Shocker van die week…EMILE (Christian Bennett) IS TERUG! Laas toe ons vir Emile gesien het, het hy in die hof teen sy lover, Wendy (Rehane Abrahams), getuig. Het hy uit die tronk ontsnap? Hoekom slaap hy in Mortlocks se kroeg? Ek is te bang om te vra… Maar dinge is baie stil sonder haar, so ek sou glad nie omgee as Wendy hom dalk gehelp het om te ontsnap nie! Emile was dalk nie heeltemal skuldig nie, maar is ook nie ’n engeltjie nie. So as hy terug is, beteken dit hier kom moeilikheid. Wie se hart gaan hy volgende breek? Of het sy tyd agter tralies van hom ’n nuwe, “goeie” mens gemaak?
Tussen Emile wat terug is en Ayesha (Megan Saayman) wat met haar surrogaat-journey begin het, raak dinge nou uiteindelik weer interessant in die Vlei.
Kyk Arendsvlei op DStv Online.
Suidooster
As daar nou een man is wat nie nee vir ’n antwoord kan vat nie, is dit Junaid (Hein Poole). Lyk my daar is iets fout met die man se ore, want so hardkoppig kan iemand nie wees nie. Danni (Vashti Prins) het nou al met hom geskel en mooi gepraat, maar die man wil net nie hoor nie. Hoe meer sy vir hom probeer sê dat sy met Siya (Gantane Kusch) is, hoe harder probeer hy om haar oor te wen. Dit raak nou regtig pateties. Ek weet nie of ek hom jammer kry en of dit my net woedend maak nie. Junaid beter ophou, want een van die dae gaan Danni hom aanval en dan gaan hy seker ’n saak teen haar ook oopmaak. Ek sal bankvas agter haar staan en dit aanmoedig. Só kan ’n man nie dik hou nie.
Siya is ’n hele ander probleem, want hoe langer die storielyn aangaan, hoe moeiliker raak dit om in sy onskuld te glo. Die man weet daar is ’n reeksmoordenaar, maar hy daag steeds op met ’n swart hoodie – nes die moordenaar – by Danni se agterdeur. My hart sou net daar gaan staan. En ongelukkig vir Siya, het hy presies van agter soos die moordenaar gelyk. Ek weet nie meer wat om te glo nie. Is Siya werklik onskuldig? Is Junaid besig om Siya te frame? Pleeg Siya dalk hierdie gruwelike moorde in sy slaap of iets, sonder dat hy bewus is daarvan? Soveel vrae, maar ons sal maar moet wag om te sien hoe dinge uitspeel.
Kyk Suidooster op DStv Online.
Diepe Waters
Ek is nou nie Sanet (Nadia Valvekens) se grootste aanhanger nie, maar selfs ek moet erken dat dit nogals rof moet wees om onder dieselfde dak as jou suster en haar eerste liefde (jou man) te bly. Dit is genoeg om enige persoon se paranoia op hol te jaag. Anja (Reandi Grey) is die klassieke voorbeeld van die sorgvrye suster wat almal van hou, terwyl Sanet seker weens omstandighede meer ernstig uitgedraai het.
Selfs Jacques (Werner Coetser) kon nie sy opgewondenheid bedwing toe hy Anja sien nie. Ek wonder steeds wat tussen Anja en haar ma destyds gebeur het en hoekom sy net verdwyn het. Rossouw (Altus Theart) soek ook antwoorde en ek wag in spanning om haar verduideliking te hoor. Dit moet iets major wees as sy vir 20 jaar nie kontak gemaak het nie. Ek wonder of sy dalk swanger was en haar ma haar toe gedwing het om te verdwyn? Dalk wou haar ma vir Sanet en Rossouw saam hê? Ek het geen idee wat die geheim is nie, maar sy en Rossouw het beslis onopgeloste gevoelens vir mekaar. Hoekom anders sou sy bly toe hy haar smeek om nie weer die pad te vat nie! Arme Sanna (Sanet)!
Kyk Diepe Waters op Catch Up en DStv Online.