Kyk, Valentynsdag is nie vir almal nie, maar ʼn voorspelbare, melodramatiese romanse bied ʼn seldsame tipe ontvlugting. Ons beveel dié romantiese tienerflieks aan:
Op Showmax
Jou Romeo
In dié Afrikaanse romantiese tienerkomedie kom Shakespeare en kolfbeurte bymekaar as die hulp van ʼn hoërskool se krieketheld ingeroep word om die dramaklub se produksie van Romeo and Juliet te red.
By die Hoërskool Monument in Krugersdorp smag Yvette (Elani Dekker) haar lewe lank al daarna om Juliet op die verhoog te speel. Maar die sportmal skoolhoof (vertolk deur Pierre Breytenbach), sny die drama-begroting, wat almal se drome in die hek laat duik.
Yvette oortuig die supergewilde Marko (Ruan Wessels) om Romeo te speel.
Die een ding lei natuurlik tot die ander – ʼn lid van die sport-kliek val vir iemand uit die huis van dramatiese kunste…
Dis voorspelbaar, dis pret en dis net reg vir Valentynsdag.
If I Stay
Mia Hall (Chloë Grace Mortez) is ʼn talentvolle tjellis met drome om musiek aan Julliard te studeer wanneer sy en haar gesin in ʼn motorongeluk op ʼn ysbedekte pad is. Nou is haar grootste besluit nie meer of sy haar musiekdrome wil najaag nie,
maar of sy aan die lewe wil bly vasklou, of eerder wil sterf.
In terugflitse na haar lewe voor die ongeluk, leer ʼn mens haar ouers ken. Die fliek se hooffokus is egter die ontluikende liefde tussen Mia en die rocker Adam (Jamie Blackey). Terwyl Mia in haar hospitaalbed lê, staan sy ook langs Adam terwyl hy haar smeek om te bly leef. Maar kan sy, ná ʼn reuse-verlies?
Die fliek is gegrond op Gayle Forman se YA-roman en Mortez is ʼn wonderlike, subtiele aktrise wat met haar spel voorkom dat die fliek te schmaltzy raak.
Jy gaan baie snesies nodig hê vir hierdie een. En dalk iemand om jou hand vas te hou, as jy wil.
After, After We fell & After We Collided
Daar is baie melodrama en mooi mense in hierdie reeks flieks wat die stormagtige, smeulende liefdesverhaal van Tessa (Josephine Langford) en Britste bad boy Hardin Scott (Hero Fiennes Tiffin) volg.
Die twee ontmoet mekaar as eerstejaars op universiteit, waar good girl Tessa voor Hardin se smeulende sjarme swig. Hy breek haar hart, sy breek syne. Hy wys hy is eintlik ʼn ou met ʼn sagte hart, maar is hy? En waarom spin hy haar so vas in sy web? (Buiten vir die ooglopende feit dat hy lyk soos hy lyk…)
Die Amerikaanse skrywer Anna Todd het die After-reeks as fan fiction geskryf. Dis glo geïnspireer deur One Direction – en meer spesifiek deur Harry Styles. Todd het die stories op haar selfoon geskryf en dit in 2014 op die fan fiction-app Wattpad gepubliseer. Daar het ’n uitgewer dit raakgesien.
Een resensent beskryf dit as “Fifty Shades Light”, ʼn ander een as Twilight sonder die vampiere. Nog ʼn ander beskou dit as ʼn remake van ʼn remake van ʼn boeiende tienerdrama…
Maar die flieks se lojale fan base voel verseker ʼn veer vir enige kritiek van Tessa en Hardin se (voorspelbare, uitgerekte, sexy) liefdesverhaal. Kies maar self wie se mening jy ernstig wil opneem… As ontvlugting, werk die After-flieks goed.
The New Romantic
Die liefde is dood. Lank lewe die liefde?
In hierdie soortvan rom-kom/anti-rom-kom skryf Blake (Jessica Barden) ʼn rubriek oor verhoudings vir die universiteitskoerant. Maar haar eie verhoudings is nowhere en haar sekslewe is nie veel om oor (wel, huis toe) te skryf nie.
In ʼn poging om haarself as skrywer te bewys begeef sy haar as gonzo-joernalis (dis as ʼn joernalis glad nie voorgee om objektief te bly nie en eintlik deel van die gebeure word) in ʼn wêreld van sugar babies en sugar daddies. Sy knoop só dan ʼn verhouding met ʼn 40-plus Ian (Timm Sharp) aan ter wille van ʼn goeie storie.
Intussen skryf sy anoniem oor die ervaring en haar rubriek is ʼn wegholsukses. Tot Ian uitvind. En Blake haarself begin bevraagteken. Grens wat sy doen aan prostitusie? Is sy nie maar net nog ʼn weergawe van Viv (Julia Roberts) in Pretty Woman nie?
Die fliek het ʼn meer voorspelbare romantiese einde as wat ʼn mens sou verwag.
Nog romanse op Showmax:
Op Netflix
Along for the Ride
Dié fliek sal jou laat vergeet van beurtkrag en misdaad en politiek en die gevare van ʼn matriekvakansie op Plet of Durban… Dit speel af teen die agtergrond van ʼn wêreld waar 18-jarige meisies alleen in hul motors kan klim om na ʼn ander deel van die land toe te ry. Waar selfs die partytjies by iemand-se-ouers-se-huis heilsaam is. Waar niemand se pa’s baie bekommerd is as hul dogters in die donkernag alleen langs die see gaan sit en tob nie.
Maar dié fliek, gegrond op ʼn YA-roman deur Sarah Dessen, werk. Dís deels te danke daaraan dat die karakters mense is waarvan jy mens hou. Daar is ook ʼn welkome afwesigheid van tipiese tienerfiek-clichés.
Die rolverdeling is ook goed. Daar is Auden (Emma Pasarow) wat in die vakansie by haar clueless, afwesige pa (Dermot Mulroney, eens die heart throb…) gaan kuier. Andie MacDowel (fabulous met haar grys hare en tekens van natuurlike veroudering!) speel as Auden se bitter, feministiese professor-ma. ʼn Fantastiese, onderbenutte Kate Bosworth beïndruk as die uitgeputte, gefrustreerde stiefma met ʼn baba.
Die storie draai om Auden se laaste somervakansie voor universiteit by haar pa en sy tweede vrou, Heidi, in die kusdorpie Colby Beach. Sy het nie juis ʼn verhouding met haar pa nie. Haar ma het haar ook grootgemaak met ʼn vrees om uit haar gemaksone te klim.
Sy is sosiaal ongemaklik en sy sit met die bagasie van haar ouers se bitter egskeiding op haar skouers. Meestal, wil sy in Colby Beach ʼn ander weergawe van haarself word. Dis dalk nie ʼn nuwe uitgangspunt vir die YA-genre nie, maar dit werk hier sonder te veel dwang.
Eli (Belmont Cameli) slaap net so sleg soos Auden en die twee ontwikkel ʼn gemaklike vriendskap. Eli maak dit sy missie om Auden te help om die dinge te doen waarvoor sy nog altyd te bang was.
Pasarow is lieflik as die ernstige Auden wat dikwels die verkeerde ding sê. Sy en Cameli het regtig chemie. (En jammer om so oppervlakkig te wees, maar sy is mooi en hy is baie hot, wat natuurlik help vir dié tipe fliek.)
En dan is daar Auden se eerste ware vriendskappe met drie ander meisies – gewilde Maggie (Laura Kariuki) met die onverwagse stokperdjie, tipiese borrelende Leah (G Hannelius, wat nuwe lewe in haar ietwat stereotipiese karakter blaas) en quirky Esther (Samia Finnerty). Dis ʼn verfrissende blik op die vriendskap tussen vroue.
Die klankbaan is ʼn lekker somer-playlist.
The In Between
Die aktrise Joey King is soos die poster girl van YA-flieks op Netflix. Sy was die gesig van The Kissing Booth en destyds se Ramona and Beezus waarin sy teenoor Selena Gomez gespeel het.
Sy het ʼn onopgesmukte girl next door met ʼn edge-kwaliteit en daar is iets relatable aan haar wat ʼn mens maklik laat glo in haar karakters.
In dié bonatuurlike romanse speel King vir Tessa, wat ʼn ongeluk oorleef waarin haar ou Skylar (Kyle Allen) sterf. Tessa begin agterkom Skylar probeer met haar kommunikeer uit die tussen-in wêreld tussen die lewe en die dood.
Hul liefdesverhaal, wat begin in ʼn fliekteater waar hy die hele Franse-fliek sonder onderskrifte vir haar vertaal, word in terugflitse vertel. Ook Tessa, ʼn aangenome tiener, se lewensverhaal van verwerping en ʼn onvermoë om te glo sy kan liefgehê word.
Dit is ʼn storie oor eerste liefde en verlies, oor oorgange en aanvaarding. Dis skaamteloos sentimenteel en soetsappig – presies net soos hierdie tipe fliek behoort te wees.
Boonop het King en Allen ʼn gemaklike chemie (hulle is beautiful saam, okei!). Dit is heeltemal geloofwaardig dat hulle dadelik hals oor kop vir mekaar val.
Ja, dit herinner ʼn mens aan Ghost en If I Stay, maar dis okei. Dis ʼn sweet liefdesverhaal met ʼn hoofkarakter wat worstel met bekende tiener-vrae en dis die perfekte Valentynsdagkykstof.
Love & Gelato
Die roomys in Rome is een van die heel lekkerste goed wat jy in jou lewe kan proe en in dié coming of age fliek vind ernstige, akademiese Lina dalk net uit waarom dit so is.
Die fliek is, soos baie van die kykstof op Netflix wat op tieners gemik is, op ʼn boek gegrond. Jenna Evans Welsch se roman met dieselfde naam was verlede jaar ʼn ruk lank die topverkoper-boek op Amazon se “teen and young adult clean and wholesome romance”-kategorie.
Die Amerikaanse Lina (Susanna Skaggs) se ma sterf ná sy lank siek was. Lina reis dan alleen na Rome om die einde van haar hoërskoolloopbaan te vier, maar ook om haar ma se laaste wens te vervul. Dit was ʼn stad wat haar lewe verander het, maar sy het Lina nooit vertel waarom nie.
Natuurlik kruis Lina se pad met twee oulike, teenoorgestelde, Italiaanse ouens sʼn. Daar is krulkop Lorenzo (Tobia De Angelis) wat droom daarvan om ʼn sjef te word, en die charming, aantreklike rykmanskind Allesandro (Saul Nanni). Wie sal Nina kies terwyl sy die strate van dié romantiese stad verken?
All the Bright Places
Elle Fanning en Justice Jesse Smith speel die hoofrolle in hierdie tienerdrama oor twee sensitiewe, verlore siele wat troos vind in mekaar.
Volgens The Hollywood Reporter se Beandrea July is All the Bright Places ʼn verfrissende blik op tienerkwessies en ʼn vars aanslag tot die YA-genre. Volgens July plaas die fliek onderwerpe soos rou, trauma en geestessiektes onder die vergrootglas sonder om te maak asof die liefde alles in ʼn kits in ʼn sprokie kan verander. Dit is ʼn fliek wat met tieners praat oor hoe om te cope met die moeilike kaarte wat vir hulle uitgedeel word.
Nog romanse op Netflix
- Under the Amalfi Sun
- To All the Boys I’ve Loved Before
- What a Girl Wants
- Kissing Booth & The Kissing Booth 2
- He’s All That
- A Cinderella Story
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →