Wat om te kyk vandeesmaand – hier is my redakteurskeuse vir Vrouemaand, Augustus 2023.
Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.
Wednesday

Die aktrise Jenna Ortega is meesterlik as die enigmatiese Wednesday Addams in dié Netflix-reeks.
Die storie speel af tydens Wednesday se (aanvanklik onwillige) tyd aan Nevermore Academy wat die vertelling dan genoegsaam afbaken om behoorlik in die nooks and crannies van Wednesday se psige, met ’n lieflike laag suurknol-sarkasme bo-op, te delf. Terwyl sy haar ontluikende psigiese vermoëns probeer bemeester, poog Wednesday ook om ’n rits moorde te stuit én die bonatuurlike raaisel oplos waarin haar ouers al vir 25 jaar gewikkel is.
As iemand wat met Christina Ricci in die rol van Wednesday as deel van The Addams Family-flieks grootgeword het, was ek aanvanklik skepties oor of Jenna só ’n eiesoortige – en ikoniese – karakter in die popkultuur sou kon vertolk. Maar ná die eerste seisoen van Wednesday voel ek oor Ortega soos wat ek eers oor Ricci gevoel het. Sy klim pens en pooitjies in Wednesday in, en kry dit reg om veelvlakkigheid tot die vertolking te bring – al laat die grense van die karakter nie veel blatante ontwaking toe nie. Ortega gebruik eerder geringe en goedgeplaaste oomblikke van emosionele patos midde haar oorheersende droë en matter-of-fact-aflewering.
Benewens Ortega, is Emma Myers as Enid Sinclair ook heerlik pret met hoe sy dié karakter vertolk. Gwendoline Christie lewer ook fantastiese spel in ’n rol wat amper te klein is… Dié Game of Thrones-alumna maak van die skoolhoof so ’n lekker kombinasie van perdalks-vriend/perdalks-vyand dat jy meer van haar wíl sien.
Kyk die eerste seisoen op Netflix.
The Handmaid’s Tale

Die Emmy-bekroonde reeks The Handmaid’s Tale, gegrond op Margaret Atwood se gelyknamige boek, speel in ’n distopiese wêreld, Gilead, af. Hoewel die nagmerries wat in beide die boek en die reeks opgesluit is, as fiksie oorvertel word, vind die gebeure daarin al meer gestalte in die hedendaagse realiteite van vroue reg oor die wêreld.
Gilead – ’n samelewing wat eens deel van die VSA was – se verhaal laat jou koud en bang en gewalg. Veral hoe sommige vroue gedwing word om Handmaids te word – slawe wat verkrag word en kinders vir getroude paartjies moet baar.
Elisabeth Moss is meesleurend as die reeks se hoofspeler, June Osborne, oftewel Offred. Haar vertolking as ’n vrou wie se dogtertjie uit haar arms geruk word en van haar man geskei word en dan as seksslaaf (die handmaid van die titel) aangehou word, is pynlik briljant. In talle tonele is dit net Moss se gesig wat praat – ’n hele hart se emosies flits in haar oë: van vrees en woede na trots en haat. Dis swaar, June se storie. Eintlik soms ondraaglik soos sy die heen-en-weer-reis tussen dapperheid en verlammende angs maak. Moss, wat bekendheid in Mad Men verwerf het, is die spil waarom alles in die reeks draai – ook die vertolkings van veral die ander vroue-karakters, soos Yvonne Strahovski as Serena Joy Waterford, Ann Dowd as Aunt Lydia, Alexis Bledel as Emily, en Samira Wiley as Moira.
Kyk die eerste vyf seisoene op Showmax. Die sesde – en finale – seisoen sal na verwagting eers in 2024 vrygestel word.
The Gilmore Girls

Lauren Graham het ma Lorelai gespeel met Alexis Bledel as haar tienerdogter, Rory. Lorelai is die eienaar van ’n gastehuis in Stars Hollow, ’n prentjiemooi dorpie in Connecticut, en bedryf dit saam met haar beste vriendin en die gastehuis se meesterlike sjef, Sookie (Melissa McCarthy in een van haar eerste rolle).
As ons vir Lorelai en Rory in die heel eerste episode ontmoet, is Lorelai laat vir ’n afspraak by Rory se nuwe fancy privaatskool waarvoor Lorelai se stinkryk ouers betaal… in ruil daarvoor dat dié twee Gilmore girls een keer per week by hulle moet kom eet. Omdat Lorelai net 16 was toe sy vir Rory gehad het, val haar verhouding met haar ouers in die “it’s complicated”-kategorie, maar in plaas daarvan dat dié storiehoek in cliché territory val, is dit veral Graham se vertolking wat die storie onmiddellik as iets besonders anker.
Die konflik speel blitsvinnig en effens laf uit – die karakters praat so vinnig dat die vervaardigers ’n dialoogafrigter moes aanstel – en die skryfwerk is puik. Hoewel uur lange episodes se tekste gewoonlik tussen 40 en 50 bladsye is, het The Gilmore Girls gereeld met 80 bladsye (van uitsonderlike skryfwerk) per episode gesit. ’n Mens wonder of daai skryfwerk ooit sonder Graham en Bledel se hartverwarmende chemie en spel dieselfde hoogtes sou bereik het… Ek twyfel.
Kyk dit op Netflix.
Mare of Easttown

In Mare of Easttown vertolk Kate Winslet die rol van ’n speurder, Mare Sheehan, wat die kleine Easttown in Delaware moet polisieër. Terwyl sy die moord van ’n jong ma op die dorp ondersoek, sukkel sy om haar greep op haar eie lewe te hou.
In my destydse resensie (2021) oor die reeks en Winslet se vertolking het ek geskryf “Die nuanse van aktrise Kate Winslet se spel is gevestig in die viering van die ongewone gewoon. Niemand lei immers werklik ’n ‘gewone’ lewe nie – dis net dat fiksie, of silwerskerm-weergawes van ‘ware verhale’ ons eie ervarings in teenstelling so verdof het, dat ons dikwels nie besef op watter helse rit ons is nie. Maar Winslet besef dit. Sy besef al te goed dat nie ons, of ’n meerderheid van TV-skeppers, behoorlik kan raakvat aan hoe besonders ons sogenaamde gewoonheid is nie. En só ook doof is tot die inherente storie-majesteit wat daarin opgesluit is en hardop vir verlossing smeek.”
Winslet se vertolking is steeds een wat uitstaan as ek aan uithalerspel dink. Dit wat sy vir die kyker gegee het, is inderwaarheid ’n begeleide toer deur die nimmereindigende skakerings van rou. Hoe wonderlik is dit nie?
Buiten Winslet, verdien Jean Smart (Hacks) ook ’n pluimpie as Mare se ma, Helen.
How to Get Away with Murder

Die rol van die hoofkarakter Annalise Keating word deur die voortreflike Viola Davis vertolk. Davis het dan ook geskiedenis gemaak as die eerste Swart vrou om ’n Emmy-toekenning vir beste aktrise in ’n dramareeks vir dié vertolking te wen.
Keating is ’n komplekse karakter – she’s not all bad and she’s not all good… En dis hoe ons van haar – en haar baie questionable morele waardes hou. Dat die karakter nie as ’n “tradisionele” held aangebied word nie, gee juis vir Davis meer vleis vir haar vertolking. En, hoor hier, sy maak mooi daarmee – dís ’n bliksemse kragtoer..
Ons ontmoet aanvanklik vir Keating as ’n hoë-profiel regsprofessor wat dan by ’n moord – saam met haar studente! – betrek word. Elke keer as dit lyk asof hulle beheer oor die situasie het, rafel iets anders uit. Oor die seisoene heen het die sondes net bly ophoop. By tye het die storielyn soms effe absurd-dramaties geraak, maar dit is mos ’n Shonda Rhimes-skepping dié…
Kyk al ses seisoene op Netflix.
Grace and Frankie

Hulle is nie vriende nie, glad. Maar dan los hul manne hulle… vir mekaar! Só begin die properse Grace en eksentrieke Frankie se wonderlike vriendskap.
Grace and Frankie is een van die min programme wat werklik ’n breedvoerige en veelvlakkige uitbeelding van vriendskap tussen vrou op TV bied. Daar’s natuurlik The Golden Girls, en I Love Lucy, maar meer onlangse uitbeeldings sien meestal ’n tweedimensionele vertelling waarin die vrinne waarskynlik een of ander tyd in kompetisie met mekaar kom. Daar is wel wonderlike uitsonderings soos die fantastiese Broad City, (meeste episodes van) The Bold Type (op Showmax), en dan, Grace and Frankie.
Grace and Frankie is ’n amperse liefdesbrief aan vroue-vriendskap met Jane Fonda en Lily Tomlin as die titelkarakters. Die chemie tussen die twee is dalk danksy hul werklike vriendskap – die twee is al dekades lank beste vriendinne – maar dis dalk ook omdat beide bloot ongelooflike toneelspelers is. Saam is hulle nog beter, ’n heerlike duo met odd couple-energie.
Kyk al sewe seisoene op Netflix.
Kyk ook dié TV-reekse met sterk vroue as hoofkarakters:
- Stranger Things met onder andere Winona Ryder en Millie Bobbie Brown op Netflix.
- Jane the Virgin met Gina Rodriguez en ander op Netflix.
- Hacks met Jean Smart en Hannah Einbinder op Showmax.
- The Flight Attendant met Kaley Cuoco op Showmax.
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →