Menu terloops
In Redakteurskeuse [6 Okt 2022]

Redakteurskeuse vir Oktober 2022


Wat om te kyk: Die redakteurskeuse vir Oktober sluit in die finale seisoen van briljante komediereeks, ‘Derry Girls’, die Silwerskermfees-bekroonde rillerfliek, ‘Gaia’ en ’n lieflike nuwe dramareeks oor die TV-sjef Julia Child, ‘Julia’.

Deur Rozanne Els
Redakteurskeuse vir Oktober 2022

Wat om te kyk vandeesmaand – hier is my redakteurskeuse vir Oktober.

Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.

Derry Girls S3 

“Om afskeid te neem, is hartseer, maar Derry Girls se finale seisoen lewer soveel grappe moontlik op voordat kykers hierdie lieflike groep kwaaddoeners vaarwel roep,” lui die kritici se konsensus op die resensiewebwerf, Rotten Tomatoes.

Terwyl die reeks as ’n geheel met ’n punt van 99% op dié webwerf spog, kry die derde – en laaste – seisoen welverdiende volpunte. Dit sit nie ’n voet verkeerd nie. Dis nostalgies sonder stroperigheid, met ’n vinnige pas wat jou net-net genoeg tyd gee om asem te skep (maar ook nie altyd nie) soos die vlymskerp dialoog van die akteurs se lippe rol. 

Derry Girls, wat in Januarie 2018 in Ierland – waar die storie afspeel – vrygestel is, het ’n veel wyer en internasionale gehoor gekry toe dit ook aan die einde van daai jaar op Netflix beskikbaar gestel is. Vier jaar later is dit ’n blink juweel in Netflix se komedie-stal – een van die blinkste. Trouens, die kombinasie van talentvolle spelers, ’n briljante teks, en regie wat dié twee elemente met sorg en fantastiese tydsberekening bymekaar voeg, maak dit een van die beste komediereekse op televisie as geheel. 

Die reeks speel af in die 1990’s teen die agtergrond van die Noord-Ierse konflik en sektariese geweld tussen Katolieke en Protestante, ook bekend as die “Troubles”-tydperk. Die storie volg die wedervaringe van vyf tieners: Erin Quinn (Saoirse-Monica Jackson), Erin se niggie, Orla (Louise Harland), hul vriende Clare (Nicola Coughlan) en Michelle (Jamie-Lee O’Donnell), en Michelle se neef James (Dylan Llewellyn). Ons het oor die verloop van die eerste twee seisoene gesien hoe die karakters in absolute absurde situasies beland soos hulle hulself en mekaar leer ken en verstaan. Die derde seisoen sluit hierdie coming-of-age-reis dan af. 

Soos die London Evening Standard skryf: “Dit gaan moeilik wees om dié meisies – wat nou soos ou vriende voel – te groet, maar dit was ’n wilde rit.”

Vanaf 7 Oktober op Netflix.

Gaia

Gaia vertel die verhaal van ’n boswagter (Monique Rockman) wat in die bos beseer, en dan deur twee off-the-grid survivalists (die bekroonde Raising Wolves– en Pulse-akteur Carel Nel en Alex van Dyk van Die Stropers) gered word. Die boswagter kom egter gou agter dat iets vreemd met dié twee aan die gang is…

Die ekologiese gruwelprent, wat in die Tsitsikamma Nasionale Park afspeel, het ’n punt van 85% op Rotten Tomatoes en het wyd lof ingebesoem. Decider beskryf dit onder meer as “visueel kragtig… vreemd, mooi en waglik.”

Die fliek het vroeër vanjaar by die Silwerskermfees sy plaaslike debuut gemaak. Dit het ook sy internasionale première by verlede jaar se SXSW-fees in Austin, Texas, gehad.

Gaia het die prys vir beste kinematografie by SXSW, sowel as die toekennings vir beste rolprent, regisseur, redigering, klankontwerp en hare en grimering by die Silwerskermfees gewen. 

Dié fliek, geskryf deur Tertius Kapp en met regie deur Jaco Bouwer (’n fenomenale span), is ook vir internasionale verspreiding geoormerk.

Stroom Gaia vanaf 31 Oktober op Showmax.

Julia

Dié reeks is ’n fiktiewe vertelling van hoe die geliefde sjef Julia Child haar boek, Mastering The Art of French Cooking, in ’n TV-reeks omskep het. Dié reeks, The French Chef, sou uiteindelik vir tien jaar (1963-1973) uitgesaai word. Daarmee het Julia ’n charismatiese kookpersoonlikheid geword. Soveel so, dat ’n mens haar eintlik die oorspronklike TV-sjef kan noem. Lank voor Nigella, lank voor Jamie Oliver, lank voor Gordon Ramsay, was daar dus die uwe, Julia Child. 

Buiten dat Sarah Lancashire briljant in die rol van Julia is en haar met ’n intieme vreugde vertolk, is die reeks ook ’n fassinerende blik op die meer tegniese, agter-die-skerms-elemente van hoe TV gemaak word. 

“Dit is ’n manjifieke storie, terselfdertyd vreugdevol en melancholies met ’n subtiele emosionele kompleksiteit,” lui Times UK se resensie. 

Kyk Julia vanaf Dinsdag, 11 Oktober om 22:00 op M-Net (DStv-kanaal 101), asook DStv Online.

Ook op my moet-kyk-lys:

Die Real Housewives van Pretoria 

Vanaf 13 Oktober wys Renske Lammerding, Marié Bosman, Talana Kuhn, Kiki La Coco, Mel Viljoen en Rhona Erasmus wat dit verg om in hul hoëhakskoene te loop.

Die Real Housewives van Pretoria is die vyfde weergawe van die Real Housewives-formaat in Afrika

Luukse voertuie, herehuise, eksotiese vakansies en heftige argumente maak maar net van die drama uit… En daar is hope en hope en hope drama op pad!

Die Real Housewives van Pretoria saai vanaf 13 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uit. Dit sal gelyktydig op Showmax beskikbaar wees. Die reeks bestaan uit 13 episodes.

Jan RSVP S4

Jan RSVP Redakteurskeuse

Jan Hendrik van der Westhuizen, Suid-Afrika se eerste Michelin-ster-sjef, keer terug na die kassie met ’n vierde seisoen van sy gewilde TV-reeks, JAN RSVP. Soos met die vorige seisoene draai elke episode om ’n kosavontuur wat vir spesiale gas voorberei word. Dié seisoen delf hy egter ’n bietjie dieper in Suid-Afrika se kostradisies.

Onder die gaste vir dié seisoen sluit in bekendes soos Tannie Evita Bezuidenhout, Coenie de Villiers, Ina Paarman, en die sjef Mokgadi Itsweng. Die geregte wat hy vir dié smulpape voorberei word later by die spyskaart van sy restaurant in Nice, Frankryk, gevoeg. 

Vanaf 16 Oktober om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147). Dit sal ook op Catch Up en Showmax beskikbaar wees. Die eerste drie seisoene is reeds op Showmax beskikbaar om te stroom.

Kry Netflix met DStv

DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies