Wat om te kyk vandeesmaand – hier is my redakteurskeuse vir Mei 2025.
Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.
Die brug S2
Weeklikse episodes vanaf Donderdag, 8 Mei 2025, om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. Kyk ook solank die eerste seisoen op Showmax.
“’n Splinternuwe groep spelers in die skadu van die Outeniekwaberge en twee keer meer drama.” Dís wat luidens ’n mediaverklaring op kykers in die tweede seisoen van die realiteitsreeks, Die brug, wag.
Die premis is eenvoudig: In Die brug moet spelers saamwerk om ’n brug te bou om ’n skat – R1 miljoen – te bereik. Dié seisoen het egter meer kinkels as die eerste seisoen – die spelers én kykers is in vir ’n ding! Neil Sandilands is weer die verteller, maar vir eers bly die deelnemers ’n geheim.
Bridget Jones: Mad About the Boy
Vanaf 12 Mei 2025 op Showmax.
Meer as twee dekades ná Bridget Jones’s Diary in ’n absolute fenoneem ontaard het, keer die aktrise Renée Zellweger terug om vir ’n vierde keer die geliefde titelkarakter te vertolk. Soos die vorige drie romcoms, is die nuutste aflewering ook gegrond op Helen Fielding se topverkoperboeke. In dié uittog is Bridget in haar 50’s en wéér enkellopend ná haar man se skielike afsterwe. Sy sukkel egter om aan te pas in ’n wêreld waar sy haar kinders sonder haar geliewe Mr. Darcy moet grootmaak. Dis veral wanneer sy met ’n jonger man (Leo Woodall) begin uitgaan dat die lewe se groot vraagstukke begin kop uitsteek.
Hugh Grant is weer te sien as Daniel Cleaver, met die Oscar-benoemde Chiwetel Ejiofor as haar seun se onderwyser.
Die nuusmakers
Die nuusmakers begin Dinsdag, 27 Mei om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees.
kykNET se nuwe dramareeks, Die nuusmakers, vertel die storie van ’n nuusspan wat midde persoonlike en professionele dramas en uitdagings die aandnuus op televisie saamstel.
Die spil van Die nuusmakers draai hoofsaaklik om Rolanda Marais se karakter, die gesoute nuusleser Adri Joubert. Adri is al vir twee dekades die koel, kalm, gerusstellende gesig en stem van die aandnuus. Maar dan gebeur iets met haar man, en sy beleef hoe haar eie lewe nuus word. Terselfdertyd ruk ’n nasionale krisis ook die land. Sy word gedwing om haar persoonlike trauma opsy te skuif om kykers deur die noodtoestand van voor die kameras te lei.
Ook in die rolverdeling tel onder andere Roeline Daneel, Brendon Daniels, Lea Viviers en Arno Greeff.
Gladiator II
Vanaf 2 Mei 2025 op Showmax.
Gladiator II volg meer as 20 jaar nadat die eerste prent nie net die Oscar vir beste rolprent gewen het nie, maar ook bekend geword het as een van die beste historiese fliekvertellings van alle tye. Russell Crowe se destyde vertolking van die swaardvegter Maximus het van dié karakter ’n ikoniese held gemaak.
En nou is dit om einste Maximus se seun, Lucius (Paul Mescal), wat die opvolgprent draai. Lucius het as jong seun sy pa sien sterf en jare later word hy nou gedwing om ook die Colosseum-arena as krygsvegter te betree nadat sy vrou sterf en hy deur Romeinse troepe gevangene geneem word. Met die toekoms van die Romeinse Ryk op die spel, is Lucius gewikkel in ’n bloedbedrupte politieke stryd teen die tirannieke keisers wat Rome tot in die afgrond regeer.

Ook in die rolverdeling is The Last of Us se Pedro Pascal, asook Denzel Washington. Connie Nielsen hervat haar rol as Lucilla, Lucius se ma.
Ridley Scott het weer die regie behartig – diesnieteenstaande hou die vervolg nie kers vas by die eerste prent nie. Dít is ook dalk effe van ’n onregverdige vergelyking om te maak. Gladiator was werklik enig in sy soort vir sy tyd en hoewel Scott weer aan die stuur is, is sy voorliefde vir grootsheid hier ten koste van die noodsaaklike ontwikkeling van ’n dun premis.
Tog – vir Paul en Pedro kyk ek enige tyd en sonder klagtes!
The Four Seasons
Vanaf 1 Mei 2025 op Netflix.
Dié reeks is gegrond op die gelyknamige 1981-fliek. Die verhaal draai om ’n groep jare lange vriende wie se dinamiek (en gedeelde lewens) heeltemal omgedolwe word as een van die paartjies in die groep besluit om te skei.
Die storie volg die drie paartjies Kate (Tina Fey) en Jack (Will Forte), Nick (Steve Carell) en Anne (Kerri Kenney-Silver), asook Danny (Colman Domingo) en Claude (Marco Calvani), oor die verloop van ’n jaar – vier seisoene én vier verskillende vakansies saam – en neem die uitkringeffek van dié egskeiding in oënskou.

Anatomy of Lies
Vanaf 7 Mei 2025 op Showmax.
As jy ’n Grey’s Anatomy-kyker is of was, weet jy dalk reeds dat Anatomy of Lies op ware gebeure rondom die leuens van een van dié reeks se skrywers en vervaardigers gegrond is. Dié storie se drie episodes bou op die Vanity Fair-artikel wat uiteindelik Elisabeth Finch se gekompliseerde leuens – waaronder dat sy beenkanker gehad het – ontbloot het.
Anatomy of Lies sluit omvattende onderhoude in met onder andere verskeie eks-kollegas met wie sy op Grey’s Anatomy gewerk het en wie meer as ’n dekade ’n rat voor die oë gedraai is. Ook haar eksvrou, Jennifer Beyer, vertel oor hoe sy uiteindelik die leuens en manipulasie ontsyfer het.
Dié dokkiereeks het ’n punt van 100% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes met Common Sense Media wat skryf: “Vir aanhangers van Grey’s Anatomy is dit veral fassinerend om te sien hoe Finch haar opgemaakte persona gebruik het om episodes te skep wat geïnspireer is deur die ware stories van die mense wat sy gemanipuleer het… Kykers sal verstom wees deur die werklike impak van haar valsheid en die verwoestende gevolge wat dit op diegene rondom haar gehad het.”
The Better Sister

Vanaf 29 Mei 2025 op Prime Video.
The Better Sister, gegrond op die gelyknamige roman deur Alafair Burke, is ’n rillerreeks wat oor agt episodes vertel oor die goed en die sleg wat susters uitmekaar kan dryf, maar só ook weer bymekaar kan bring.
Chloe (Jessica Biel) het ’n prentjiemooi lewe: sy het ’n suksesvolle loopbaan in media, haar man is ’n aantreklike prokureur (Corey Stoll) en saam het hulle ’n tienerseun, Ethan (Maxwell Acee Donovan). Daarenteen sukkel Chloe se vervreemde suster, Nicky (Elizabeth Banks), om kop bo water te hou en die demone van haar verslawing gehok te hou.
As Adam dan wreed vermoor word, span die susters saam om die waarheid agter Adam se moord te ontdek en só ook van hul eie komplekse familiegeskiedenis sin te maak.
Nog voorstelle:
Twisters, vanaf 26 Mei 2025 op Showmax. Dié rampfliek volg op die 1996-lokettreffer, Twister. Dit draai om mededingende stormjaers wat data oor tornado’s insamel soos hulle dié warrelwinde oraloor volg.
Grosse Point Garden Society S1, vanaf 21 Mei 2025 op Showmax. Dié reeks volg vier lede van ’n voorstedelike tuinklub wat meer as net wortels (be)grawe as hulle by ’n moord betrek word. Daily Beast beskryf Grosse Point Garden Society as “ ’n geestelike vervolg tot Desperate Housewives gemeng met Big Little Lies.”

Nonnas, vanaf 9 Mei 2025 op Netflix. Ná sy geliefde ma sterf, besluit Joe Scaravella (Vince Vaughn) om ’n Italiaanse restaurant oop te maak met die buurt se oumas as sjefs. Dié komedie is op ’n ware verhaal gegrond.
Fountain of Youth, vanaf 23 Mei op Apple TV+. ’n Vervreemde broer en suster (John Krasinski en Natalie Portman) span kragte saam om die mitiese “Fountain of Youth” te vind.
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →