Wat om te kyk vandeesmaand – hier is my redakteurskeuse.
Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.
Westworld S4
“You’re gonna reap just what you sow…”
Dié rondomtalie-reeks is al op my moet-kyk-lys van dag een. Met sy debuut in 2016 het HBO vir ons veel meer as ’n distopiese verhaal oor die lot van die mensdom gegee. Die game-changer was dat dié verhaal die lelikheid van menswees voorop geplaas het. Nou nog probeer dit nie sy karakters van hul sondes verontskuldig nie.
Dis twee jaar sedert die afloop van die derde seisoen van die reeks wat deur Jonathan Nolan en Lisa Joy geskep is. Die reeks is gegrond op die gelyknamige fliek uit 1973 wat deur Michael Crichton geskryf en geregiseer is. Crichton het onder meer ook die Jurassic Park-boeke en -flieks geskep. Vir die vierde seisoen keer onder andere Evan Rachel Wood, Thandie Newton, Aaron Paul en Ed Harris terug om die gevolge van hebsug en magsbeheptheid in ’n wêreld wat besig is om sy laaste gryntjie menslikheid te verloor, in storietaal oor te dra.
Wat ons van die vierde seisoen kan verwag, is heeltemal duister. Behalwe dat James Marsden skielik weer in die lewe geroep word nadat sy robo-karakter Teddy in die tweede seisoen dood is. En dat Dolores (Rachel Wood) rêrig dood is. Dié aktrise keer egter as ’n ander, nuwe karakter tot die storie terug.
Die min woorde wat HBO al oor die vierde seisoen gedeel het, lui bloot so: “’n Donker swerftog oor die lot van leef op aarde.”
Ja, help nie veel nie.
Maar die mag en magic van Westworld as vermaak lê deels in sy onheilspellende, onvoorspelbare verloop. Ek moet dalk net vrede maak dat dié een reeks is waar hoe minder jy weet die kyk al beter maak. Die bemarkingsplakkaat vir die nuwe seisoen gee dalk effe meer weg met die woorde “adapt or die” daarop gedruk. Dit bring ons terug na een van die sterkste temas in die reeks: Die konflik tussen dit wat moontlik is en die etiese vraagstukke wat om dit tol.
Soos ons al dieper in die wêreld van kunsmatige intelligensie beweeg, word die reeks al meer relevant. Dit laat my eintlik sidder.
Op Showmax vanaf 27 Junie (weeklikse episodes).
Peaky Blinders S6
“One last deal to be done. Then we Peaky Blinders rest.”
Só sê die skynbaar vreeslose bendebaas Tommy Shelby (Cillian Murphy) in die lokprent van die sesde – en laaste – seisoen van Peaky Blinders.
Dié absoluut, geheel en al, totale briljante reeks is losweg gegrond op die werklike Peaky Blinders-bende wat in die 19de eeu amok in Birmingham gemaak het. Met die finale seisoen op hande besef ek eintlik nou eers hoe genadeloos die vertellers met ons senuwees was. The things we’ve had to endure. Meer drama in agt minute as in agt seisoene van Grey’s Anatomy, ek belowe jou. Dis net dat dit so subtiel gespeel word – en daarmee bedoel ek nie sag nie. Eerder layered om plek te maak vir die stories binne stories binne stories wat andersins verborge sou bly.
Een van die grootste uitdagings vir die laaste aflewering is natuurlik die hartseer heengaan van die aktrise Helen McCrory voordat verfilming voltooi is. McCrory het ’n integrale deel van die verhaal as die matriarg van die Shelby-familie, Polly Gray, gehad.
Die reeks is reeds sedert 2013 soos TV-stapelvoedsel. Dit is een van die min reekse wat oor die afgelope dekade konsekwent in gehalte was. Maar so gewoond aan die hoogstaande gehalte wat ek is, is ek steeds nie aan die nimmereindige geweld in die reeks nie. Maar dis hoe die Shelby-broers werk om dinge gedoen te kry. Aan die hoof is nié die oudste broer nie, Tommy, wat met intimiteit deur Murphy gespeel word. Paul Anderson is Arthur, die oudste broer wat te veel van ’n fokop van alles maak en dus nie met familiesake toevertrou kan word nie.
Ander karakters en akteurs wat vir die verwagte hoë-oktaan seisoen terugkeer is Tom Hardy as Alfie, en Finn Cole as neef Michael Gray.
Vanaf 10 Junie op Netflix.
Station Eleven S1
Station Eleven draai om die lot van ’n groep mense wat ’n verwoestende wêreldwye pandemie oorleef het en ’n nuwe samelewing probeer daarstel.
Station Eleven is gegrond op die gelyknamige boek deur Emily St. John Mandel. Só groot en gesiene is die TV-verwerking dat dit ’n punt van 98% op Rotten Tomatoes het. Boonop het dit al reeds ’n rits toekennings ingepalm. Welverdiend, elke liewe een, waaronder vir Mackenzie Davis wat vir haar rol as Kirsten Raymonde as beste aktrise by die Critics’ Choice-toekennings geprys is.
Ja, dis waar. ’n Mens wil dalk nie kyk na ’n reeks oor ’n pandemie terwyl jy self een probeer oorleef nie, maar in sy beendere is Station Eleven oor veel meer as dit. Dis die after wat hier saak maak. The “show must go on” of it all. Dis ’n herinnering dat enige tipe trauma, hetsy ’n break-up, ’n pandemie wat die einde van ’n beskawing kan meebring, die dood van ’n geliefde – letterlik enige trauma – nie tyd kán stop nie. Rou moet jy. Lewe moet jy. Aangaan moet jy. The show must go on.
It’s not for nothing dat die reeks se middelpunt ’n groep oorlewendes is wat ’n bestaan probeer maak as reisende kunstenaars. Soos ’n sirkus van ouds, amper. Maar selfs 20 jaar nadat ’n baie erge grieppandemie (onthou julle toe mense gesê het Covid is net erge griep? Want ek doen.) amper die mensdom geheel en al vernietig het, is die wat oorleef het steeds nie veilig nie. Nou word die groepie kunstenaars deur ’n gewelddadige kultusgroep bedreig.
Die post-apokaliptiese reeks is deur Patrick Somerville geskep en wyk af van die boek met groot veranderinge. Onder dié tel dat die reeks in Amerika afspeel eerder as in Kanada soos in die boek. Buiten Davis is Himesh Patel (Don’t Look Up), Screen Actors Guild-wenner Lori Petty (Orange is the New Black), en Cannes-wenner Gael García Bernal (Y tu mamá también) ook in die rolverdeling.
Kyk nou op Showmax.
Ook op my moet-kyk-lys:
Law & Order: Organized Crime
Binge nou die eerste seisoen van hierdie nuwe Law & Order spin-off.
Desert Rose
Weeklikse episodes vanaf Donderdag, 2 Junie, om 20:30 op M-Net (DStv-kanaal 101) en op DStv Online.
Pulse
Lees meer oor die reeks hier.
Vanaf 23 Junie op Showmax.
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →