Wat om te kyk vandeesmaand – hier is my redakteurskeuse vir Februarie 2023.
Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.
Dear Edward
Vanaf 3 Februarie op Apple TV.
Rou is ’n eienaardige ding. By tye ’n lewendige herinnering van liefde, verlies en menslikheid. Ander tye weer ’n onwaarskynlike bron van vreugde, as die verlange lank genoeg bedaar om asem te skep. In Dear Edward is rou die spil waarom die storie draai. Die vreeslik visceral bestaan daarvan is helder in die oë van ’n 12-jarige seun – die enigste oorlewende van ’n vliegtuigongeluk. Dis nie net hy wat van sy realiteit, die een waarin sy hele gesin dood is en hy by sy tannie gaan woon, probeer sin maak nie.
Soveel as wat die reeks Edward se trauma en tragedie – met meesterlike sorg en tempo – beskou, is daar ook ander rouklaers wat mekaar by ’n ondersteuningsgroep ontmoet. Dis hier waar ons vignette – soos in die regte lewe ook maar – van diegene wat agterbly kry. Soos Dee Dee (Connie Britton met nog ’n briljante vertoning), die vrou wat haar man en beste vriendin verloor het – net om te besef hy het ’n dubbelle lewe gelei. Ook soos Edward se tannie, Lacey (Orange is the New Black se Taylor Schilling), wat midde haar eie seer ’n plek van liefde en veiligheid vir Edward probeer skep. Deur die verskillende ervarings van die nagevolge van ’n tragiese gebeurtenis te verweef, word Dear Edward ’n amperse portretstudie van rou, van die mense se diepste begeerte tot heling.
Dat Dear Edward deur Jason Katims geskep is, kon ’n mens maar raai, selfs al is dit op Ann Napolitano se gelyknamige boek gegrond. Net een mens maak sulke TV. Katims het veral in reekse soos Friday Night Lights en Parenthood gewys dat hy ’n verteller is wat nie durf om die storie te minag nie. Sy reekse is ryk aan volronde karakters en ryp emosie. Katims skrik nie vir trauma of trane nie. Eintlik is Katims se grootste seëning aan sy gehoor dat hy ons laat huil. Linda Holmes van NPR skryf: “Hierdie is ’n ruk-jou-binnestes-uit-reeks. Dis ’n reeks waar elke oomblik, al blyk dit oënskynklik klein te wees, eintlik konseptueel groot is – gelaai met gevoelens, gelaai met betekenis…”
Ook onder my topkeuses vir vandeesmaand:
Hello Tomorrow!
Vanaf 17 Februarie op Apple TV.
Daar’s timeshare in Hermanus en dan is daar timeshare op die maan. Hello Tomorrow! speel af in ’n retro-toekomstige wêreld waar ’n huis op die maan glad nie verregaande is nie. Trouens, hoekom gaan hou jy nie sommer vakansie daar nie? Die reeks, met die uitmuntende Billy Crudup in die hoofrol as Jack, vertel van ’n groep reisiende verkoopsmanne wat met tyddeel op die maan smous. Jack is die groot kokkedoor wie se onwrikbare geloof in die toekoms amper aansteeklik is. Só kry hy dit reg om nie net sy kollegas te inspireer nie, maar ook mense wat desperaat is vir ’n bietjie hoop. Hulle val gou vir sy maanpraatjies. Kort voor lank blyk sy beloftes dan wraggies te goed om waar te wees.
Buiten Crudup, bestaan die res van die rolverdeling uit nog briljante spelers, waaronder Alison Pill, Hank Azaria en Haneefah Wood.
DAM S2
Die eerste episode van DAM se tweede seisoen is vanaf 16 Februarie op Showmax beskikbaar. Daarna sal nuwe episodes weekliks op Donderdae beskikbaar wees om te stroom.
Met die aanvang van die tweede seisoen is dit drie maande ná die gebeure van die Lentefees wat in die finale episode van die eerste seisoen afgespeel het. Dit lyk asof die kultusgroep se offerande gewerk het – reën het toe wel neergesak. Maar Yola onthou niks sedert haar terugkeer van haar pa se begrafnis nie. Dan word daar boonop ’n massagraf ontdek.
Vir die tweede seisoen van dié Showmax Original-rillerreeks, keer Lea Vivier en Pallance Dladla terug as Yola en Themba met Natasha Loring wat ook haar rol as Yola se suster, Sienna, hervat. Loring het ’n SAFTA vir dié vertolking gewen.
“Ons tel op waar ons in Seisoen 1 opgehou het: met baie vrae,” sê Loring.
“In die eerste seisoen het ek my suster in ’n psigiatriese hospitaal laat beland, en my karakter moet nou daardie skuldgevoelens verwerk. Sienna se reis in hierdie seisoen gaan nie net daaroor om uit te vind waar haar suster is en wat met haar gebeur het nie. Dit gaan ook oor verantwoordelikheid neem vir van die harde waarhede wat ek oor my familie en die dorp waarin ek woon, uitgevind het. Ek probeer eienaarskap neem van wie ek is en my stem en vryheid vind.”
Die reeks is deur die viermalige SAFTA-wenner, Alex Yazbek, geskep, met die eerste seisoen wat in 2021 vrygestel is. Die eerste seisoen tel dan ook onder die top-10 reekse met die meeste kykers op Showmax in 2021. Dit het ook die meeste benoemings vir ’n dramareeks by die 2022 SAFTA-toekennings ontvang.