Iewers oor die afgelope Desembervakansie het ek toevallig op ’n 15-minute lange blooper-reel van Casper De Vries se skreeusnaakse reeks, Cas Oppie Kassie, afgekom. Ek het die reeks verslind toe dit sowat twee jaar gelede op Showmax vrygestel is, maar een van die tonele in die blooper-reel kon ek nie plaas nie. Dit het my laat wonder of ek dalk ’n episode misgeloop het. Ek het die woord “kassie” in Showmax se search bar ingetik en toe moer ek af in ’n totale ander hasegat af (as one does). Want reg langs ou Casper se gevreet verskyn ’n ander kykopsie, Oppi Kassie.
Dié reeks van twee seisoene met altesaam 39 episodes is toe al die tyd ’n juweel wat die geskiedenis van Suid-Afrikaanse televisie dokumenteer. Dit volg TV se plaaslike wortels vanaf die 1970’s, die ontstaan en impak van DStv en kykNET, en als tussenin.
Met die ontslape Franci Swanepoel as aanbieder wonder ek of daar ooit ’n derde seisoen van Oppi Kassie sal wees. Dit is immers belangrik om die vordering van ons kunste te dokumenteer om só nie net ons waarvandaan te verstaan nie, maar ook waarheen ons op pad is. Ek sal byvoorbeeld baie graag die storie agter die ontstaan van Showmax wil sien!
Hier is 14 dinge wat ek glad nie van Suid-Afrikaanse TV geweet het nie (en reeds binne slegs die eerste ses episodes van Oppi Kassie ontdek het).
Ons eie “Dr. No!”
In die 60’s het die minister van pos en telekommunikasie, dr. Albert Hertzog, gesê dat televisie “oor sy dooie liggaam” na Suid-Afrika sou kom. Hy het dit beskryf as “slegs ’n miniatuur-bioskoop wat in die huis ingedra word waaroor ouers geen beheer het nie.” Hy het dit ook “the devil’s box” genoem. Trouens, tydens ’n kabinetsvergadering het hy vir meer as ’n uur lank “nee!” gesê vir televisie in SA, waarna die Engelse pers hom summier “Dr. No!” gedoop het.
Agteros
Suid-Afrika was een van die laaste moderne lande wat die COVID19-entstof gekry het… uhm… ek bedoel televisie! Televisie!
Huis koop of sein koop?
Die eerste sender wat genoeg krag gehad het om sein landwyd te versprei, het in 1966 sowat R45 000 gekos. Die prys van ’n heel gemiddelde huis het daai jaar sowat R9 516 beloop.
Splinternuut
Agteros kom ook in die kraal. Omdat ons een van die laaste lande was om TV te kry, het dit sy voordele gehad. Toe die SAUK se uitsaaikompleks sy deure oopgemaak het, was dit die nuutste en beste in die wêreld. Alles was onder een dak gehuisves, insluitend kantore, radiofasiliteite, ’n popboufabriek, ’n kostuumafdeling, grafiese en fotografiese afdelings, opleidingsentrums, nuuskantore, nuusateljees, klankateljees en so meer.
Personeel-tekort
Tegniese personeel was ’n groot kopseer. Daar was nie genoeg van hulle nie en 20% van uitgawes is aan tegnici toegeskryf. Tersiêre onderwysvereistes was 50% vir wiskunde en wetenskap, maar die SAUK het bloot mense in hordes aangestel en boonop vir hul studies en salarisse betaal!
En hier kom Riaan
Omdat TV so nuut was, het die SAUK op mense met ervaring uit die radiowêreld staatgemaak. Dit is geen verrassing dat almal se gunsteling-vampier, Riaan Cruywagen, ingespan is nie.
Eerste nuusprogram
Die nuusspan was só besig om hul vaardighede op te skerp en te leer om hierdie nuwe formaat te hanteer dat die eerste nuusuitsending per toeval gebeur het. TV-nuus was veronderstel om in September 1975 met uitsendings te begin, maar op 28 April 1975 het ’n gewapende man met die naam van David Proctor besluit om die Israeliese konsulaat in Foxstraat, Johannesburg, te beset. Die storie het soveel internasionale nuus gemaak dat hulle geen ander keuse gehad het as om dieselfde aand ’n nuusprogram uit te sit nie.
Verna se whiskey
’n Klein, uitverkore groepie SAUK TV-pioniers moes regoor die wêreld reis om te verstaan hoe televisie in verskillende lande werk – die aspekte van bestuur, inhoudsproduksie van programme en die aankope daarvan. Hulle moes baie TV kyk in hotelkamers. Verna Vels (Liewe Heksie) was deel van hierdie span en hulle het gewoonlik vergaderings in haar hotelkamer gehad nadat hulle die hele dag TV moes kyk. Hoekom het almal altyd in haar kamer vergader? Sy sou die enigste persoon wees wat nog whiskey oorgehad het.
SAUK TV
Die eerste kanaal was bloot SAUK TV genoem. Dit het aanvanklik slegs tussen 18:00 en 23:00 uitgesaai – die een deel in Afrikaans en die ander in Engels.
Koeldrank koop is duur koop
Die heel eerste Afrikaanse TV-drama was Blomme Vir Ma. Die grootbaas van die SAUK, Pieter de Bruyn, het amper sy kop verloor omdat die produksiespan dit gewaag het om R67 se koeldrank op die produksierekening te drink terwyl hulle vir nege dae in die son gewerk het! Hy het geweier om dié onkoste-eis, wat deur Hannie Human ingehandig is, goed te keur. Twee jaar later sou Hennie op eie gesag ’n hele plaas vir ’n produksie koop!
En toe kom advertensies
Advertensies is in 1978 vir die eerste keer uitgesaai. Soos met enigiets nuuts en onbekends, was daar weerstand. Aanvanklik het kykers dit gehaat en daar was selfs aksiegroepe daarteen gevorm, maar mettertyd is dit net aanvaar.
Wielie Walie
Wielie Walie was die eerste kindertelevisieprogram wat uitgesaai is. Dit het die basis vir kindertelevisie in Suid-Afrika geword. Die skepper, Louise Smit, het dit beskryf as “opvoeding op ’n roomys”.
Sarel Seemonster
Die rook wat uit Sarel Seemonster in Wielie Walie se neusgate geborrel het, was eintlik sigaretrook wat deur ’n pyp deur die poppespelers geblaas is. Hulle was sommer ook die stemkunstenaars.
Liewe Heksie en hondehare
En hoe is ons geliefste Liewe Heksie se hare gemaak? Hondehare wat vasgegom is. Woef!