In die voorlaaste episode van kykNET se maatsoekreeks Op my eish! kon nie een van die finale drie meisies wat deur die voormalige rugbyspeler, Ruan Smith, uit 18 potensiële pasmaats (insluitend 2 wild cards) gekies is, genoeg punte op die bord sit om die wenbeker triomfantelik omhoog te hou nie.
Daar was trane en emosies het by tye hoogty gevier. Maar Ruan was vasbeslote – alhoewel daar sterk gevoelens was, kon hy net nie daai finale een kies nie.
Vir die eerste keer in die reeks se vier seisoene was daar geen gelukkige einde waar die liefde geseëvier het nie, selfs nie eers kortstondig nie . . .

In die finale episode het die meeste van die deelnemers aan die reeks by De Harte naby Onderstepoort opgedaag vir ’n reünie. Party was daar om antwoorde te soek, ander het na geregtigheid gesoek.
Die voormalige SA-netbalspeler en TV-aanbieder Vanes-Marie du Toit was daar om vir Ruan en sy wingman, tweelingboet JP, deur die ervaring te help, en ook om met die meisies wat die land aan die gons gehad het, te gesels.

Wat sê die meisies?
Vanes-Marie wou by Cindy-Lee Burrell weet of sy dalk, net dalk, haar bokshandskoene ingepak het. “Ek kort nie bokshandskoene om iemand te bl*ksem nie,” het sy in tipiese Cindy-styl daarop reageer, maar gesê sy’s eintlik rustig.
Charlene Wolmarans het erken dat sy nou meer vrede gehad het as die week vantevore.
“Maar as ek daaroor dink, dan weet ek dis oukei, dit gebeur soos dit moet.”
’n Kykie agter die skerms
Wie kon vergeet wat gevolg het toe Ruan in die vyfde episode tydens ’n swembadpartytjie by die meisies wou weet of daar onder mekaar geskinder of sleg van mekaar gepraat word. “Weet almal wie die persoon is wat k*k praat?” wou Ruan sonder om doekies om te draai weet.
’n Ontstelde Charlene het later daardie aand gesê sy is nie daar vir “kinderk*k nie” en dat Hermi Dempsey ’n bietjie hard op haar was – op dieselfde manier hoe sy met haar praat wanneer daar nie kameras teenwoordig was nie. “Sy wil altyd eerste uitstap as ons moet uitstap,” het Charlene vertel.
Op haar beurt het Maritha Albertyn besluit sy het net mooi genoeg gehad van al die “girl drama” en dat die meisies vir haar as uiters vervelig oorkom.
En toe begin die drama!
Maritha het vir Vanes-Marie gesê dat Ruan se kommer of die meisies met mekaar oor die weg kom, vir ’n paar dae aangehou het en sy het nie gedink dis noodwendig die belangrikste ding nie. “Ek dink nie almal gáán oor die weg kom met almal nie, en ek dink dis oukei,” het sy verduidelik en dat sy dalk soms soos ’n teiken gevoel het.
Maar Cindy se gesig was ’n studie van ongeloof. En met ’n diep-ontevrede frons het sy vingerwysend na Maritha se kant toe, ontplof met: “Sy praat k*k. Die k*k het begin want sy, en wat haar naam ook al is, het loop skinder oor ander meisies in die begin. Dis hoekom niemand van haar gehou het nie.”

Hermi kon nie haar lag keer nie. Sy was gou by om vir Cindy te ondersteun. En dit was duidelik dat die onverwagte aankoms van Chantelle Smith (episode 2) as die eerste wild card van hierdie seisoen dinge liederlik deurmekaar gekrap het.
“Ons het letterlik vir Chantelle, toe sy aangekom het, van die vloer af . . . Minette het haar uit die parking yard gaan optel en haar na ons toe gebring,” het Hermi verkondig. Hulle moes haar getroos het want sy het glo vir Maritha en haar naamlose bondgenoot hoor skinder oor haar.
Chantelle het vermoed dit was omdat sy deel was van Op my eish! met Brendan Peyper en nie dadelik vir almal daarvan vertel het nie. Haar kamermaat was Cindy – en die geskinder oor haar kamermaat was soos ’n rooi vlag voor ’n befoeterde bul.
“Jy praat nie van iemand k*k agter hul rug en voor hulle wil jy nice wees nie. Jy laaik hulle of jy laaik hulle nie.”

Die dagboek-sessies
Vanes-Marie wou by die meisies weet wat hulle gevoel het toe hulle na die tyd die reeks kyk en uitvind wat tydens hierdie sessies kwytgeraak is.
“Mense wat my ken, kan die verkeerde indruk van my kry. So, ek het soos die boelie gelyk,” het Hermi laat hoor. Sy was glo geskok oor alles wat Charlene oor haar kwytgeraak het – waaronder dat sy gevoel het Hermi kyk haar uit haar klere uit – en sy’t nog nooit gehoor van vroue wat dit doen nie.
Toe Charlene op haar beurt wou duidelik maak wat sy bedoel het, was Hermi vinnig om daarop te reageer. Dit was toe dat Ruan besluit het om in te tree. “Julle het nou al tyd gehad om dinge uit te sorteer met mekaar . . . maar daar was tyd om mekaar te bel,” het hy soos ’n redelike skeidsregter probeer om die losgemaal van woorde te beredder.

Terugblik na die soene
Kykers sal onthou Cindy was die eerste een wat daardie oomblik met Ruan gedeel het. Nie te lank daarna nie, was dit Maritha. Toe Minette Prinsloo, gevolg deur Hermi en toe die “moerse spanner in the works”, Bejanke Nel.
Charlene moes langer wag vir haar soen, maar dit het wel gebeur – en vir haar was dit baie romanties.
“Dié wat ek gesoen het, het vir my het dit reg gevoel in die oomblik. Dit was nie my idee om te kyk hoeveel mense ek kan soen nie,” het Ruan erken.
Cindy het gesê dat ten spyte daarvan dat sy die eerste een was, het sy met die besef van die konneksie tussen Ruan en Minette, bloot soos “background noise” gevoel.
Toe Vanes-Marie op Minette fokus, was sy gou daar om haar kant van die saak te stel. “Ruan het ’n paar keer vir my gesoen, dit lyk net of ek hom soen.”
Maar sy het lof vir sy soen-vermoë, veral as sy lê en hy is bo-op haar. Oeps, is dit nou nie TMI nie?

Toe het Vanes-Marie in ’n bulhond verander wat net nie wou los nie. Wat presies het daai aand tussen Minette en Ruan gebeur toe hulle die glamping-oornag (episode 8) gehad het? Dit was ook tydens hierdie episode dat Ruan vir Minette gesê het hy het gevoelens vir haar.
“Jy bly net uit my kamer uit, né,” het Ruan haar daardie aand gewaarsku terwyl hy haar op haar voorkoms gekomplimenteer het. Maar sy het hom gou reggehelp en gesê dat ordentlike meisies weet wat om te doen.
En beide het hart en mond vir Vanes-Marie verseker dat hulle beslis elkeen daai aand in hul eie tent geslaap het. Glo dit as jy wil – of nie.

Bejanke het gesê sy was nie seker hoeveel meisies Ruan tydens die reeks gesoen het nie, maar sy was nie verbaas daaroor nie. Want, wou sy weet, hoe kan jy iemand kies as jy nie weet of daar ook ander konneksies, soos dan ’n soen-konneksie, is nie?
En ja, sy was van Dag 1 af verlief op die man. En ja, sy het lief geraak vir hom, het sy met ’n dapper glimlaggie erken. “Ek het dit geweet. Ek voel dieselfde oor haar,” het dit van Ruan gekom. En hy erken dat hy nie tussen Charlene en Bejanke kon kies nie.
Pak jou tasse
Dit was nie altyd maklik nie. Selfs die produksiespan het by tye nie die vaagste benul gehad wie se beurt dit was om huis toe te gaan nie.
Een van die meisies, Caitlyn McLaren, het self besluit (episode 5) om haar tasse te pak. Nie as gevolg van Ruan nie, maar omdat haar intense beroepslewe dit vir haar bykans onmoontlik gemaak het om voltyds by die reeks betrokke te bly.

Toe Vanes-Marie vir Ruan noem dat kykers die manier waarop hy die meisies ingelig het dat hulle tyd op die stel op ’n einde gekom het, onder andere as blatant bestempel het, het hy genoem dat dit nie iets was waar hy met mooi woordjies en stories wou deel nie.
Hermi het waardering daarvoor gehad dat hy dit oor en verby gekry het.
Carmen Hamman, een van die eerstes wat moes waai, het gesê Ruan verpersoonlik dit wat deesdae die fout is in die afspraak-wêreld: ’n Man wat nie eintlik weet wat hy wil hê nie.
Wingman JP het vinnig ingespring en begin praat oor die feministiese beweging en die bemagtiging van vroue. Dit opsigself is nie ’n probleem vir Ruan nie, maar in sy wêreld is daar ’n rol vir elkeen van die twee geslagte om te vertolk.

Caitlyn het aangedui dat sy Carmen se punt insien. Daar het Ruan dan nou drie meisies gekies, en nie een van hulle is aan die einde van die dag tot as dié een gekies nie.
Dit het Ruan verkeerd opgevryf omdat hy voel Carmen blameer mans vir wat fout is in die afspraakwêreld.
Die groot skok
Wie sou kon glo dat die een wat tot in daardie stadium as Ruan se “uitverkorene” ervaar is, toe wel deur hom huis toe gestuur sou word? Minette?! En toe die eenkant-gesprek nadat hy haar huis toe gestuur het waar die vonke behoorlik tussen die twee gespat het.
“Jy’s die laaste twee, drie dae ’n ander mens. Dis nie hoe hierdie k*k werk nie,” het hy gefrustreerd laat hoor en in die donkerte verdwyn.
Sy het vir Vanes-Marie vertel dat daar twee meisies was onder wie die res van die span van die begin af deurgeloop het. Sy het geweier om hul name te noem, maar die res was gou om te reageer.
“Charlene en Maritha,” het Cindy aangekondig en Minette het dit bevestig.

Maar wat het dit met haar en Ruan uit te waai?
Ruan het vertel hoe hy die verandering in haar gewaar het. Dit het glo plaasgevind toe almal om die tafel gekuier het. Volgens hom het sy opgestaan, om die tafel gestap en katterige aanmerkings begin maak, “heeltemal uit haar aard van die prim en proper, ordentlike Minette wie sy is”.
Minette het nie daarmee saamgestem nie. Vir haar het dit gevoel asof Ruan verskonings gesoek het om haar weg te stuur. Sy het weer Charlene se invloed vir sy besluit blameer.
“Jy maak ons die hele tyd seer. Jy’t heeltyd sulke stabs,” het Minette vir Charlene gesê.
Kan daar tog vriendskappe gesmee word?
Ten spyte daarvan dat almal gehoop het om Ruan se hart te wen en dit tot wedywering kon lei, was daar van die meisies wat onuitwisbare indrukke op die res gelaat het – en dit vir al die regte redes.
Soos Carmen, Hermi, Saartjie Erlank en Jenine Combrinck met wie se vertrek daar groot hartseer was. Verskeie van die deelnemers het tot vandag toe nog gereelde kontak met mekaar en daar kan selfs so ver gegaan word as om te sê dat daar stewige vriendskapsbande gevorm is.
Sê dit weer?
Vanes-Marie het Cindy as een van die snaaksste meisies van die reeks beskryf. En sy’s gek daaroor. “Jy’t net gesê wat in jou kop inkom, en ek het dit gelove!”
Toe het sy vir Cindy uitgelok om een van haar gunsteling sê-dinge te deel. Vir ’n wyle was Cindy effe verleë, maar kykers weet dat daai nooit lank hou nie. “Moet ek dit nou weer sê?” wou sy weet, en Vanes-Marie het haar aangemoedig om dit wel te doen en eienaarskap daarvan te neem.
“Ek het nie groot borste nie, maar ek het ’n lekker p*dda. En dit is die waarheid. Nommer een, soos ek lieg nie. Nee, ek wil dit nie wys nie. Moenie dink omdat ek dit sê, wys ek dit altyd nie,” het sy vinnig verdedig.
En die kommentare van die kykers? “Ek dink ek kan bly wees ek’s ’n sterker mens, want ek dink as iemand anderster wat dalk nie so sterk was nie, die tipe comments en haat gekry het wat ek gekry het, was hulle letterlik in Weskoppies.”
Sleutelbord-boelies
Die afbrekende kommentaar wat in die sosiale media gedeel is, het Op my eish!-vervaardigers genoop om dieper na die boeliegedrag te kyk.
Ruan erken hy het so bietjie meer as ’n maand gevat voordat hy begin “teruggee” het. “Dit is elke keer dieselfde persoon. Dis of iemand met ’n papegaai of ’n blaar of ’n perd op hul profile pic.”

Aan die einde van die dag sê hy dat dit hom eintlik nie affekteer nie. Maar Cindy erken dit maak seer en dat sy in ’n stadium gesukkel het met die kommentaar.
Hermi het ook probleme met die kommentaar, want van die opinies ondermyn ook haar besigheid. En ja, sy is ook net ’n mens en dit het haar seergemaak.
Selfs Charlene het sleg deurgeloop. Maar sy voel mense gee haar nie altyd tyd om haar hart te leer ken nie. Sy het gesê sy kan nie verstaan dat iemand wat geboelie was en weet hoe dit voel, dit op iemand anders kan uithaal nie. En hier het sy onder andere na Cindy verwys wat tydens een van die dagboeksessies gesê het dat sy wat Charlene is nooit ’n man sal kry nie, want “watter man wil aan ’n ander man vat?”. Daar was ook geïmpliseer dat Charlene sielkundige hulp moet kry.
Cindy het dit geheel en al ontken. “Bring dit, dan praat ons.”
Toe Charlene meer daaroor uitgebrei het, het Cindy gesê sy moenie k*k praat nie. Maar toe word die videogreep wel gewys en Cindy moes erken dat haar tirade teen Charlene gemik was. “Sy’t ’n victim mentality. Dis my opinie,” was Cindy se reaksie en sy het uitgebrei oor alles waaroor Charlene gehuil het.
Dit was mos nou onkant-spel en Ruan het baie ferm tussenbeide getree. “As jy nie van mekaar hou nie, dan’s dit fine. Maar daar’s sekere goed – you don’t cross a line. As iemand vir my sê ‘jy’s f*kken mal, jy kort pille’, gaan ek vir jou opf*k. En ek sal jou wys ek gaan jou opf*k. Ons het daai lyn gecross nou. F*kken shake hands and walk away. En moet mekaar nooit weer sien nie. Ek dink ons het te ver gegaan met dit.”
Wie het kosmetiese hulp gehad? Daar was ook baie te sê gewees oor die meisies se voorkoms. Vanes-Marie wou weet wie van hulle het hulself “kosmeties enhance”.
Dit was byna soos ’n Mexikaanse golf met arms wat opgegaan het: Heidi, Chantelle (Smith), Chantelle (Wilson), Carmen, Caitlyn, Minette en Charlene.
Die keuse wat nie gemaak is nie
“As jy daai nuwe liefde het, wil jou nou baie daai persoon wees. Jy moet fully convinced wees,” het Ruan daaroor te sê gehad.
Ná afloop van die reeks het hy tyd afgevat en glo vir byna ’n week lank net geslaap om tot stilstand te kom. Daarna het hy wel weer kontak gemaak met van die meisies. “Daar was oomblikke, en julle sal weet van wie ek praat, waar ek all in was. Maar dit kom neer op self sabotage, dink ek.”

Hoekom het Ruan deelgeneem?
Aan die einde van hierdie episode vertel Ruan vir Vanes-Mari meer daaroor. En het hy tog liefde gevind?
Een ding is seker, kamera-sku Kupido was baie woelig onder die twee manne en ook van die meisies na afloop van die reeks!
Op my eish! saai Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees.