Menu terloops
In Recaps [2 Apr 2026]

‘Op my eish!’: Die deelnemers se lippe ‘ervaar’ Ruan keer op keer – en ’n bom bars!


Ja, daar word al te lekker kat geknyp in kykNET se maatsoekreeks ‘Op my eish!’ – en dis nie altyd in die donker nie. 

Deur Annelene Oberholzer
‘Op my eish!’: Die deelnemers se lippe ‘ervaar’ Ruan keer op keer – en ’n bom bars!

Sy’t soos Kiepie in die 11de episode gevoel toe Cindy die enigste van die Op my eish!-deelnemers was wat eerlik geantwoord het toe joernalis Jaco Hough-Coetzee wou hoor wie al die voormalige rugbyspeler Ruan Smith “se lippe ervaar” het. Minette en Bejanke het soos die dood geswyg. Al wat Charlene kon uitkry was: “Askiesie! Wanneer het dit dan nou gebeur?” 

Dit het ook duideliker geword dat lojaliteit onder die meisies net so ver strek as ’n enkellaag-naellak op ’n kleintoontjie. Nadat Saartjie huiswaarts moes keer, was die oorblywende vier nou in sterk op pad doellyn toe. En diep in hul harte wou elkeen die een wees wat aan die einde van die reeks deur Ruan gekies word. 

Maar iewers is iemand se opmars na die doellyn gepypkan.

’n Laaste kans . . . of vier

Ruan het elkeen van die meisies alleen op ’n intieme romantiese uitstappie geneem om bietjie klarigheid in sy kop en sy hart te kry oor saam met wie hy dalk die pad vorentoe wil stap. Eerste aan die beurt was Charlene wat genooi word op ’n uitstappie wat die meisies intussen die make or break date gedoop het. Sy moes Ruan tydens ’n skattejag vind.

Charlene se beurt

Kort voor lank was sy in die Jimny, gewapen met ’n tweerigtingradio, op soek na Ruan. Die roete was rof, die leidrade nie so maklik nie én sy het die verkeerde skoene aangehad vir hierdie uitstappie. Maar toe sy eindelik vir Ruan opspoor, was daar geen huiwering nie! Die twee se lippe het mekaar vuurwarm ervaar. En weer. En weer . . . “Finally,” het Charlene triomfantelik uitgeroep. Oor ’n glasie vonkelwyn het sy vir Ruan bedank dat hy haar altyd veilig laat voel.

Op my eish
Ruan en Charlene se lippe het uiteindelik met mekaar kennis gemaak. Foto’s: Skermgrepe

“Elke keer as ons connect, dan laat jy my voel soos die enigste persoon in die vertrek,” het sy vir hom gesê. “Dis of jy al klaar weet hoe om my lief te sal hê.”

“Ja, ja, ja,” het dit van Ruan gekom. “Dit sal nie moeilik wees nie,” het hy vervolg voordat hy enige misverstande uit die weg wou ruim. Maar met ’n “wag eers” het Charlene hom sommer net daar weer tot stilte gesoen.

“Jy’s eintlik een van die mees genuine-ste mense hier. En ek sê dit eerlikwaar. Jy’s amper onbewus van wat om jou aangaan,” en dis hoekom sy volgens Ruan soms misverstaan word.

Op my eish
Charlene was oorstelp met vreugde nadat sy en Ruan uiteindelik gesoen het.

“O, ek trou jou nou,” het Charlene verklaar toe sy wou weet hoe Ruan voel oor honde saam op die bed voel – en hy bevestig het dat syne in alle geval op sy bed slaap. Tussendeur kan die twee nie hul lippe van mekaar af hou nie. En dis nog voor die jenewer-proesessie op die plaas.

Ruan het homself in ’n penarie bevind. Hy het nie meer geweet wat om te dink en waar om te begin nie want hy het die dag saam met Charlene ongelooflik baie geniet.

Maar daar’s ’n onrustigheid in die waters by Kilima. Toe Bejanke by Cindy probeer uitvis wat sy op haar afspraak met Ruan gaan aantrek, het die antwoord seepglad gekom: “So min as moontlik”. En Cindy is gewoonlik nie iemand wat doekies omdraai, of nie doen wat sy sê nie.

Cindy se beurt

Terwyl die dun glimlaggies nie hul spanning kan wegsteek nie, was Minette vasbeslote om haar alles te gee vir wat voorlê. Maar eers is dit Cindy se beurt. En haar kommentaar aan Charlene: “Solank jy net genoeg [van Ruan se] energie oorgelos het vir my.”

Gaan sy goud vind aan die einde van die verlate Leydsdorp se stofstrate? “Die tema is nogal gepas. Cowboys en crooks. Amper soos straight shoot, nes ek dit kan handle,” was Cindy se opinie oor haar skattejag wat voorgelê het.

Sy was allesbehalwe beïndruk toe een van die leidrade haar na die poskantoor gestuur het.  “Poskantoor? Waar’s ’n poskantoor? Ons is in Leydsdorp. Ons soek ’n poskantoor in Leydsdorp. Rêrig? Ons is in ’n spookdorp,” het sy haar lot bekla. Na nog ’n paar leidrade het sy by die kroeg opgedaag. En nee, Cindy was nog steeds nie beïndruk nie.

“Het jy by hierdie k*k afgeklim by jouself?” wou sy ontstig van Ruan weet toe sy besef het daar’s ’n kelder onder die kroeg. Sy het toe maar ingegee en die trappies na benede getakel om haar laaste leidraad te kry.

Op my eish
Cindy het vir Ruan vertel dat sy die vorige aand vir die eerste keer bang gevoel het oor wat moontlik voorlê.

Terug bo op Moedertjie Aarde, het sy vir Ruan raakgeloop. Drankies was gereed, die tafel was gedek en die twee het reggemaak vir gesels. Dit was biegtyd vir Cindy en sy het vir Ruan vertel dat sy die vorige aand vir die eerste keer bang gevoel het oor wat moontlik voorlê . . . “f*kken bang, doodsielsbang”.

“Dis lekker om te sien dat jy ’n bietjie vulnerable is,” het Ruan haar gerusgestel. Later het sy pront erken sy is boonop verlief op hom. Na ’n heerlike aandete en ’n paar piksoentjies was Cindy vasberade: “Nee, uh-uh, ek moet jou kelder toe vat”.

So gesê, so gedaan. “Laat ek nou een ding vir julle sê, ons het vanaand mekaar wárm gevry,” het sy later vertel. 

En Ruan? “Ons is definitief kindred souls.

Op my eish
Ruan en Cindy het, in Cindy se woorde, mekaar “warm gevry”.

Bejanke se beurt

Vir haar langverwagte afspraak is Bejanke na die Kings Walden Garden-landgoed genooi om daar tydens die skattejag haar pad na Ruan te vind. Sy het erken daar’s gevoelens en dat daar ’n gedeelte van haar hart reeds Ruan se naam daarop het. Maar ten spyte van haar vrees vir seerkry, was sy van plan om vir hom te vertel wat op haar hart is. “Ja, hy gee vir my butterflies en hy laat my smile, hy laat my happy en gerus voel as ek by hom is,” het sy verklap.

Tydens die ete het hulle ernstige gesprekke gevoer rondom kinders – en hoe Bejanke dit met haar kinders sal hanteer as daar dalk iets tussen hulle vorder. Niks is onoorkomelik nie, is die boodskap wat gelaat word.

Op my eish
“Hy gee vir my butterflies en hy laat my smile, hy laat my happy en gerus voel as ek by hom is,” het Bejanke oor Ruan verklap.

Die bietjie ontspan na ete het natuurlik weer ’n kombers op die grasperk ingesluit. “Dis gevaarlik,” het Bejanke laggend opgemerk. Kykers sal mos onthou wat die vorige keer (episode 10) gebeur het toe daar ook ’n kombers betrokke was – en Ruan na afloop daarvan gemor het oor die “m**rse spanner in the works”. Dit was mos einste Bejanke en daai soen.

Nadat sy die dapper stap geneem het en vir hom vertel het dat sy ernstig oor hom voel, het hy reageer deur te sê dat hy ook baie sterk gevoelens jeens haar koester. Natuurlik moes dit ook bevestig word met ’n paar soene.

Minette se beurt

Haar afspraak met Ruan het by die Silver Mist-oord plaasgevind. En sy kon kwalik haar opgewondenheid die oggend in toom hou. Haar skattejag het perde, ’n papegaai en ’n verrassende kinkel ingehou. Sy moes te perd na die eindpunt ry. Gaan Minette dalk Ruan se “ruiter-in op die wit perd” wees?

Op my eish
Ruan en Minette se aand het met ’n soen of twee tot ’n einde gekom.

Nadat hy haar om verskoning gevra het dat hy die afgelope paar dae ‘’n bietjie “afwesig” was, het hy erken dat sy kop is ’n “bietjie f*kken deurmekaar nou”, maar dat hulle tog wel iets spesiaal deel. En natuurlik het die aand met ’n soen of twee tot ’n einde gekom.

Terug by Kilima

Ten spyte van die drietal wat op Minette se terugkeer gewag het, se moedige poging om nie té gespanne te voel oor wat voorlê nie, het die onsekerheid wel ’n tol begin eis. Iemand moet huis toe gaan, maar wie?

Op my eish
Ruan het die viertal geskok met sy besluit.

Terwyl hulle by Minette wou uitvind hoe haar dag verloop het, het Ruan kort voor lank by hulle aangesluit. Dit was sulke tyd. Iemand moet groet. “Aan die einde van die dag, kan ek net gaan op wat ek voel en wat ek dink – ek sê dit heeltyd – wat gaan werk. Dit gaan soos ’n skok kom, maar ek gaan dit nie lank hou nie,” het ’n duidelik-beswaarde Ruan die viertal toegespreek.

What the actual . . . we did not expect it,” het dit van een van die stomgeslaande meisies gekom toe Ruan sy besluit bekend maak. “Dit was die laaste naam wat ek gedink het uit sy mond gaan kom.”

“Iets het gebeur. I don’t know what, maar iets het gebeur,” het dit vanuit ’n ander hoek gekom.

“Ek is nog besig om die bomskok te process,” het die derde meisie daarop reageer.

Intussen het die gesprek tussen Ruan en die meisie wat hy gekies het om te gaan, onstuimig geraak en ’n paar harde woorde en beskuldigings het tussen die twee geval. “Dis nie hoe hierdie k*k werk nie,” was sy laaste woorde aan haar voordat hy weggestap het die donkerte in. 

Op my eish
“Dis nie hoe hierdie k*k werk nie,” was Ruan se laaste woorde aan Minette.

Op my eish! saai Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. Kyk ook S2 en S3 van Op my Eish! op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
30

30 Afrikaanse flieks wat jy vir oulaas op Showmax kan kyk

Met Showmax se dae getel, gaan ons binnekort ’n groot gros Afrikaanse speelfilms, kortprente, reekse en dokkies op dié plaaslike stroomdiens moet groet. Maak dus ’n plan om vir oulaas een van die gewildste Afrikaanse flieks op Showmax te kyk.

Meer

Jou ‘Binnelanders’-kykgids vir Maart 2026

Daar is ’n meer-as-vriendskap-vonk tussen Uys en Nicolette en as Hannah verdwyn, is almal op hol. Dít en nog meer is wat op ‘Binnelanders’-kykers vandeesmaand wag.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir Maart 2026

Rhafiek kry skokkende nuus wat die Samsodiens verpletter en Zoë en Angie begrawe – skynbaar – die strydbyl... Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in Maart kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies