In die 10de episode van kykNET se maatsoekreeks, Op my eish! het die voormalige rugbyspeler Ruan Smith gedink hy’s op die regte spoor met ’n konneksie wat hy met een van die meisies gevoel het. Maar toe . . . Terwyl Heidi en Jenine hul tasse moes pak en huiswaarts keer, het Ruan nog gedink Minette mag dalk net die een wees wat die vlinders laat vlinder. Tot waar hy en Bejanke mekaar van naderby leer ken het en hy tot sy grootste verbasing besef het hierdie meisie is ’n “moerse spanner in the works”.
En die kollig verskuif na . . .
Vir die oorblywende vyf vroue het daar ’n taai dag voorgelê. Dit was hulle beurt om deur joernaliste met reguit, en soms ongemaklike, vrae gepeper te word. Gaan dit van hulle ontspoor en gaan Ruan teenspoed optel?

Charlene het nie senuweeagtig daaroor gevoel nie. “Ek dink mense wat op hul senuwees is, is dalk omdat hulle nie die waarheid moet praat nie,” was haar opinie.
“Ek is heel op my plek en reg vir hierdie ding, maar ek sien die ander meisies rondom my spartel ’n bietjie,” het dit van Cindy gekom.
Die joernaliste het onder andere SARIE, Huisgenoot, Rooi Rose en Maroela Media verteenwoordig. Ruan het eerste aan die beurt gekom en betreklik filosofies sy ervaring gedeel. Maar toe kom Jaco Hough-Coetzee aan die beurt. “Van die dames wil ek graag weet: Wie van julle – handjies op – het al Ruan se lippe ervaar?” het hy sommer met die hele deur, kosyn én veiligheidshek die Op my eish!-huis binnegeval.
Stilte. Doodse stilte. Tot waar Cindy haar hand gelig het. Kykers sal onthou sy en Ruan het mekaar “ervaar” tydens ’n piekniek in die vierde episode.

“Net een?!” wou Jaco verbaas weet. Want Minette en Bejanke het tot dusver soos die graf geswyg. “Oh, my word. Sit ek daar, Kiepie, die enigste een met die hand in die lug. En ek kyk só . . . en niemand se hande is in die lug nie,” het dit van ’n verstomde Cindy gekom.
Maar sy het dit nie daar gelaat nie en wou by die res weet of hulle te skaam is om daarmee uit te kom.
“Dis iets tussen my en hulle wat persoonlik is,” het Ruan die stilswye van die ander probeer regverdig.
Bejanke het gevoel dis iets wat sy nie met die media wil deel nie, terwyl Minette gesê het sy’s nie die tipe wat soen en daaroor uitwei nie.


Nog ’n swanger stilte
Nadat Ruan elkeen van die vyf se spesiale kenmerke met die media gedeel het, was een van die volgende vrae ook een wat almal weer vir ’n geruime tyd tjoepstil gelaat het. Dit was daarop gemik om uit te vind hoe goed hulle oor die weg met mekaar kom ten spyte van hul uiteenlopende karaktereienskappe.
Charlene het eindelik die ys gebreek deur bloot te sê hulle kom goed oor die weg. Maar wag ’n bietjie. Wie onthou nog die speletjie in die sesde episode toe Ruan by die meisies wou weet: “Weet almal wie die persoon is wat k*k praat?”
“Ek is ’n baie rustige persoon. Ek neem nie deel aan katterigheid of enigiets soos dit nie,” het Bejanke haarself verdedig toe Jaco wou weet of daar enige naels van haar kant gewys is.
Maar in einste episode ses was dit Bejanke, Cindy en Heidi wat soos die drie musketiere mond-agter-die-hand kommentare oor die ander deelnemers gemaak het – en dat Cindy haar met ’n skalkse glimlaggie aangemaan het met: “Nee, nee, nee Bejanke. Ken jou plek.”
‘Ouboet’ v ‘jongboet’ en daai pasmaat
Ruan se wingman is sy tweelingbroer, JP, wat eerste die lewenslig aanskou het. Toe verskyn die fokus na hom met Marteli Brewis wat wil weet of Ruan na hom luister en of hy dink Ruan se pasmaat sit aan die tafel saam met hulle twee.
“Ek dink verseker sy sit hier,” het hy geantwoord en dít het uiteenlopende reaksies onder die vyf meisies ontlok.
“Hy sal na my toe kom en vra wanneer hy dit nodig het, maar ek wil ook terugstaan en toelaat dat hy dit self besluit,” was JP se antwoord.
Toe Minette gevra word of sy dink daar is iemand in die groep wat beter by Ruan sal pas, het sy ’n reguit antwoord ontwyk en net gesê dit berus by Ruan om daai besluit te neem.
Wat dink die meisies van Ruan?
Weer was dit Charlene wat eerste die gaping gevat het toe almal gevra is wat van Ruan het hulle die meeste beïndruk of verbaas. “Hy’s ’n ongelooflike diep mens met ’n baie hoë EQ (emosionele intelligensie) wat vir my verskriklik aantreklik is in hom. En as hy vir jou kyk, is dit the real deal.”
Minette het akkoord gegaan met Charlene se opsomming en bygevoeg dat hy baie dieper is as wat hy voorgee. “Hy kyk dieper as wat mense wil hê hy moet sien.”
“Wat het ek van Ruan ontdek?” het Cindy afgeskop – en toe lank stilgebly en skuinsweg na sy kant toe geglimlag. “Ruan en JP is heeltemal verskillend, nommer een. Ruan is sagter as JP en . . . ja, bietjie van ’n humeur, maar ek laaik dit.”
En kinders in die toekoms?
“Ek het hier ingekom, en ek was redelik set in my ways dat ek nie meer kinders wil hê nie. Maar ek het ook al gesprekke gehad met van die dames wat hier sit. Wat down the track kan gebeur, is ’n gesprek op Dag 1 en nie ses maande down the track nie.”
Konneksies?
Ruan het bevestig dat daar definitief sterk konneksies is met almal maar die eindfluitjie het nog lank nie geblaas nie.
“Daar’s van die meisies wat dink dis klaar game over. Glad nie. Elke aand as ek in die kamer lê, moet ek alles opweeg sonder mense, sonder opinies. En dis glad nie ’n done deal nie.”
Dit het gelyk asof hierdie bemoedigende nuus vir Charlene was. Sy kon nie help om te glimlag nie. Vir haar het dit uitgestaan dat Ruan genoem het daar is meisies wat dink hulle is klaar onder die uitverkorenes. En sy kan aan twee moontlikhede dink, maar gaan sy dit waag om die name te noem?
Ruan het erken dat daar vlinders is, maar verlief? “Ek dink ja,” het hy geantwoord. Maar hy het ook genoem dat hy werklik nie besef het hoe moeilik hierdie proses gaan wees nie. Die man was amper in trane terwyl hy daaroor gepraat het.
Gelukkig het die volgende vraag komiese verligting gebring. Het die tweeling ooit plekke omgeruil? “Ons het die eerste aand,” het JP onder groot gelag van almal daar met die sak patats na vore gekom. Maar die omruil was van korte duur en die meisies het gou besef wie is wie.
Die tyd raak kort
Tydens ’n heerlike middagete na afloop van die media se besoek, het Ruan almal tot die werklikheid teruggeruk toe hy noem dat dinge nou einde se kant toe staan. Maar hy het darem ook elkeen bedank vir hul tyd en geduld, en dat hulle steeds deel van sy reis met Op my eish! is.
Maar daar was nog tyd vir speletjies speel. Dié keer is dit “spin the bottle” – en Cindy was nie baie opgewonde daaroor nie. Dis iets wat sy in haar eerste jaar op hoërskool gespeel het. Op haar beurt was Minette senuweeagtig want dit was haar eerste kennismaking met die speletjie.
Die kans op ’n rampspoedige einde was groot, want die meisies het die geleentheid gekry om mekaar vrae te vra sou die bottel voor een van hulle tot stilstand kom. O ja, en daar was ook ’n piksoentjie van Ruan in die vooruitsig afhangend van die bottel se posisie.
Soentjies en vrae
Saartjie was die eerste een om ’n piksoentjie te kry, maar sy wou veel eerder vrae vra. En toe Saartjie die bottel tol en dit op Cindy te lande kom, was Saartjie reg met haar vraag – het sy haar soenery met Ruan geniet? “Saartjie is baie parmantig,” het Cindy na die tyd opgemerk. En die soen? “Die beste tyd van my lewe.”
Cindy se bottel-tol het Charlene die volgende teiken gemaak. En sy het nie die vaagste benul van wat sy vir haar wou vra nie. Toe sit sy haar servet opsy, staan op en met “kom ek wees nou maar daai persoon” na Charlene gestap en gee vir haar ’n piksoentjie op die mond.
“Sy kla mos sy kry so min aksie, so . . . laat sy maar vir Ruan van my mond af soen,” was Cindy se rede vir daai ene.
“A first for everything,” was Charlene se reaksie.
Op haar beurt wou Bejanke by Cindy weet wat die lelikste ding is wat sy nog ooit van ’n persoon gesê het tydens Op my eish! se dagboeksessies. En toe Cindy eers begin, het dit ’n tydjie geneem voordat sy tot stilstand gekom het. Om maar net ’n paar te noem: “Daai ding is fake”, “Daai ding moet haar tasse pak”, “Ek dink sy’s vol k*k”, ensovoorts, ensovoorts . . .
En toe dit Cindy se beurt is, het haar bottel sowaar voor Ruan geland. Sy’t nie ’n oomblik gehuiwer nie en wou weet of hy dink sy soen lekker. Praat van ’n bokkie in kopligte vasgekeer! “Jy wil nie met jou tande soen nie, en jy wil ook nie te veel tong gebruik nie. Bietjie lippies, bietjie tong, byt op die lip,” het Cindy haar tegniek opgesom.
‘Gaan jy my kies?’
Ruan het besluit om al die meisies dieselfde vraag te vra – en dit is of enigeen hom sal kies aan die einde van die reeks. Soos te verwagte, was almal dit eens dat hulle wel daar wil wees en langs hom wil staan.
Maar, en dis die gewigtige máár, het hy daarna bygevoeg: Iemand moet huis toe gestuur word. En dit gaan sommer na middagete gebeur.
Bejanke kon nie haar trane keer nie. Dit was nie omdat sy nie haar tasse moes pak nie maar omdat iemand aan wie sy baie geheg geraak het, die trekpas gekry het. Dit het nie lank geduur voordat die oorblywende vier ook maar die nattigheid op hul wange moes wegvee nie.

Op my eish! saai Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. Kyk ook S2 en S3 van Op my Eish! op Showmax.