Menu terloops
In Gons [14 Okt 2025]

Nóg ’n Deon Meyer-boek word in spannende nuwe TV-reeks omskep


’n Nuwe internasionale aksieriller-reeks, ‘The Invisible’, met Jozua Malherbe en Amy Jephta as regisseurs en gegrond op Deon Meyer se trefferboek ‘Blood Safari’, is op pad kassie toe. 

Nóg ’n Deon Meyer-boek word in spannende nuwe TV-reeks omskep

The Invisible blyk al die nodige elemente vir ’n eg-Suid-Afrikaanse aksieriller-reeks te hê: internasionale sterre, ’n meesterlike storieverteller en ’n dinamiese kreatiewe span. The Invisible, gerugsteun deur M-Net, ITV Studios, Scene23 en die Berkeley Media Group (BMG), is ook die eerste projek deur ’n Suid-Afrikaanse vervaardiger wat in samewerking met ITV vervaardig word, lui ’n mediaverklaring. 

Die reeks, bestaande uit agt episodes, se rolverdeling sluit in die bekroonde Australiese aktrise Abbie Cornish (Limitless, Three Billboards Outside Ebbing, Missouri) en die Skotse ster Dougray Scott (Mission Impossible 2, Enigma). Boonop is dié twee ook die uitvoerende vervaardigers van die reeks.

Suid-Afrikaanse swaargewigte, waaronder Kim Engelbrecht (Reyka, Eye in the Sky), Tim Theron (Trackers, Heart of the Hunter) en Tumisho Masha (Mandela’s Gun, Invasion) is ook deel van die span, met verskeie ander akteurs wat later bekend gemaak sal word.

The Invisible
Tim Theron saam met Abbie Cornish. Foto’s: Verskaf

Waaroor gaan The Invisible?

In The Invisible word plaaslike stropers deur ’n geheimsinnige moordenaar in die skaduwee van die Krugerwildtuin uitgewis. Die taak rus op die plaaslike speurder, inspekteur Jack Phatudi (Tumisho Masha) om agter die kap van die byl te kom. Dan kruis sy paaie met ’n voormalige lyfwag met ’n duister geskiedenis, ene Decker (Dougray Scott), wat ’n Suid-Afrikaanse uitgewekene, Emma (Abbie Cornish), moet beskerm wanneer sy terugkeer om haar vermiste broer te probeer opspoor.

The Invisible
Dougray Scott en Abbie Cornish vertolk die hoofrolle en is uitvoerende vervaardigers van The Invisible.

Die vonke begin spat wanneer die drietal ’n samesweringskomplot oopvlek wat tot ’n destydse politieke sluipmoord op ’n belangrike Afrika-leier strek. Wat gaan hulle met die skokkende waarheid doen? Dié geraamtes kan immers die geskiedenisboeke herskryf, maar daar is natuurlik gevaarlike rolspelers wat bereid is om te moor om die waarheid te verberg…

Feit of fiksie?

Volgens Nomsa Philiso, direkteur van inhoud: algemene vermaak, Engelse- en Portugees-sprekende Africa van MultiChoice, is The Invisible ’n kontemporêre Suid-Afrikaanse oorvertelling wat deur ware gebeure geïnspireer is. Daaronder sluit in die vliegtuigongeluk waarin Samora Machel, die voormalige president van Mosambiek, gesterf het.

Die rolspelers

Vir Cobus van den Berg, uitvoerende vervaardiger by Scene23, is The Invisible, ná afloop van die sukses met Trackers en Heart of the Hunter wat groot internasionale aandag getrek het, die perfekte volgende hoofstuk. “Dit is meer as net ’n TV-reeks. Dis ’n geleentheid om ons talent, ons landskappe en ons storievertelling op ’n internasionale verhoog te vertoon.”

Op sy beurt, meen Deon Meyer, wat die reeks saam met William Josef Schneider (wat die leiding geneem het met die aanpassing vir TV) geskryf het: “Om te sê ek is trots, dankbaar en opgewonde oor The Invisible as ’n TV-reeks, is ’n enorme onderskatting van hoe ek voel. 

“Ons het vir twee jaar baie hard gewerk om die reeks bymekaar te bring en nou is dit finaal in produksie saam met ’n uitstekende uitsaai-vennoot, wonderlike skrywers, skitterende internasionale akteurs, ’n briljante regisseur en die beste filmspan ter wêreld. Hoe cool is dit?”

Waar en wanneer?

Die reeks se première sal op M-Net (DStv-kanaal 101) plaasvind, maar meer uitsaaibesonderhede is nog onbekend.  

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

As jy hou van kosprogramme

Afrikaans kook groot! 10+ Afrikaanse kosprogramme om op DStv en Showmax te kyk

Ons is maar net mense, ons dink met ons pense... En daar is wraggies baie kosprogramme – in Afrikaans – waarin lipafleklekker geregte opgedis word.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 8 stories in November misloop

Die finale seisoen van die TV-fenomeen 'Stranger Things'; ’n nuwe 'Kokkedoor'; liefdesintrige in 'Maxton Hall' se tweede seisoen; en Guillermo del Toro se 'Frankenstein' tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Dikker as water’-kykgids vir November 2025

Doğa maak ’n groot besluit oor haar studies terwyl ’n misverstand tussen Pembe en Abdullah ontstaan. Hier is ’n voorsmakie van wat vandeesmaand op 'Dikker as water'-kykers wag.

Meer

Jou ‘Diepe Waters’-gids vir November 2025

Karla en Arno se verhouding word op die proef gestel en Danie se gevaarlike obsessie dryf hom tot uiterstes... Hier is waarna ‘Diepe Waters’-kykers vandeesmaand kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies