Kykers het tydens die afgelope tien episodes met verstomming gekyk hoe kleiner dorpies in die huidige seisoen met hul groter begrotings ongelooflike transformasies ondergaan het en goeie gemeenskapsgesindheid gebou het.
Ja, Lottoland help ’n dorp het elke keer daadwerklik ’n verskil in hierdie spesiale gemeenskappe gemaak wanneer die aanbieder, Leah van Niekerk, en haar span daar ’n draai gemaak het.
Die tyd het nou aangebreek om die sesde dorp in die reeks te besoek, die laaste dorp van die seisoen: Rhodes, die dorpie met nét 24 vaste inwoners . . .
“Dit is onbeskryflik om te dink ons is by ons 44ste dorp,” was Leah se reaksie toe sy en haar span diep in die Oos-Kaap by hierdie juweeltjie van ’n dorp beland het. En daar moes baie myle afgelê en grondpaaie getrotseer word om by hierdie dorpie wat oorloop van geskiedenis uit te kom.
Dis jou dorp
Sandra Reeders, projekspanleier, het vir Leah baie hartlik verwelkom. Maar, het sy erken, as sy nie so jonk en verlief was toe sy destyds op Rhodes beland het nie sou sy in alle waarskynlikheid nooit in so ’n verafgeleë plekkie gebly het nie. Deur die jare heen het sy egter so lief vir Rhodes geraak dat sy haarself deesdae nêrens anders kan sien bly nie.
Henri Reeders, projekspanlid, het genoem dat toerisme ’n baie belangrike deel van die dorp vorm, soos byvoorbeeld die Ben10-bergpasse.
Volgens Lucas Geyer, projekspanlid, is hierdie die tien hoogste grondpad-passe in die Oos-Kaap – en dis veral gewild onder motorfietsryers en diegene met 4×4-voertuie. Die landskap, van onder in die vallei tot bo-op die verskillende passe, is benewens die uitdaging wat die grondpad-passe aan avontuurlustiges bied, ook absoluut asemrowend. Die nagenoeg 200 km-rivier is natuurlik ook ’n groot aantrekkingskrag vir diegene wat graag lyn natmaak en dis glo die beste bestemming in die land vir forel-hengelaars.
Tydkapsule
Lucas was net so positief oor hoe veilig die dorpie is, ’n plekkie waar kinders nog soos kinders van ouds in die strate kan rondspeel en fietsry sonder enige vrese.
Dan is daar Fritz Pistorius wat vertel het hoe hy aan slapeloosheid ly in die stad, maar sommer met die eerste nag hier het hulle sonder sukkel meer as tien uur aaneen geslaap. Dis ook hy wat Rhodes beskryf as ’n tydkapsule wat jou laat voel hoe die lewe hier ’n eeu gelede was.
Thatho “Leki” Mojake, projekspanlid, was net so positief oor Rhodes. En, het hy vertel, daar is nie eintlik misdaad nie. As daar wel iets gebeur, is dit baie maklik om die rakkers vas te trek.
Rhodes se byna-onaangeraakte argitektuur en geskiedenis is iets wat groot byval gevind het by Judith Browne, projekspanlid. Dis ook raar dat ’n hele dorp ’n erfenisgebied is, het sy vertel.
Ten spyte van die min mannekrag (dit sluit vroue in!) is hierdie gemeenskap druk besig om mooi na hul dorpie te kyk. Daar was wel al waardevolle skenkings, soos byvoorbeeld die roostuin danksy Ludwig’s Roses, ’n groot skaakbord waar inwoners en besoekers kan speel en selfs ’n kruietuin. Danksy funksies waartydens fondsinsameling gehou is, kon hulle darem die twee tennisbane speelbaar maak, maar dis nie heeltemal op standaard nie.
Rhodes is ook die grootste werkverskaffer vir die nabygeleë Zakhele en, soos Henri verduidelikheid het, dra die afwesigheid van dokters en ’n hospitaal daartoe by dat die gemeenskappe na mekaar omsien.
Help, Lottoland!
Alhoewel hy ’n ywerige kykNET-kyker is, het Henri nie geweet hoe om die pad vorentoe te takel nie en het hy gedink daar sal maar iemand moet wees wat die inisiatief met Lottoland help ’n dorp verder te voer. Toe het daar ’n bekende kuiergas uit die Kaap opgedaag – niemand anders nie as die aktrise en Kwêla-veldaanbieder Therese Bam en haar gesin nie. Dit was juis sy wat hulle aangemoedig het om in te skryf.
Dis toe dat hy besef het hy moet die “iemand” wees. Henri en sy jongste dogter, Tracy, ’n student van Potchefstroom, het ook net ’n week gehad om hul projek in te skryf.
Van die projekte wat hulle graag tot stand wou bring, was die regruk van die dorp se twee ingange, ’n laning bome en baie belangrik: ’n sokkerveld vir die jongspan om op te speel en aan kompetisies deel te laat neem. Dan is daar die Herbert Baker-ontwerpte poskantoor wat behoue moet bly.
Nog iets wat vir Sandra ná aan die hart gelê het, was die herinnering aan toeka se klein dorpies met ’n watervoor, ’n groentetuin en ’n melkkoei. Sy het gevoel deur dit weer terug te bring, sal dit ook bydra tot die algemene gevoel van Rhodes.
Vir die toeriste het sy gedroom van ’n rolbal- en jukskeibaan en om natuurlik die tennisbane op te gradeer. Dan’n wandelroete om nog meer van Rhodes se natuurskoon in te adem . . .
Leah was baie ingenome met die idee van ’n sokkerveld, veral nadat Thato vertel het dat Zakhele met sewe sokkerspanne spog. Maar ongelukkig moet hierdie spanne ver reis om teen ander te kompeteer omdat dié sokkerveld veel te wense oorlaat. Slegs die skape wat daarop wei, kon die grasveld ten volle benut…
Die groen koevertjie
Toe Leah by Sandra wil weet wat hul Plan B gaan wees as daar dalk nie befondsing beskikbaar is vir enige van hul projekte nie, het sy vasbeslote bevestig dat hulle steeds vorentoe gaan beweeg, al sal dit “stukkie vir stukkie vir stukkie” wees.
Leah het vir haar gesê dat Lottoland help ’n dorp nog nooit ’n plekkie soos Rhodes gesien het nie – en dat hulle maar weer moet kom kuier. Met daardie woorde het sy die groen koevertjie aan Sandra oorhandig.

’n Baie onseker Sandra wat nie geweet het wat om daarmee te doen nie. Maar toe sy die inhoud van die koevertjie gelees het, kon die oorblufte Sandra nie anders as om ’n klein gilletjie te uiter nie. Ja, R700 000 gaan beslis vir Rhodes die hupstoot gee waarvoor hulle self so hard werk. Henri het erken dat hy nie skaam gaan wees om ’n traan oor hierdie goeie nuus te stort nie.
En alhoewel Leah self baie opgewonde is oor die projekte, kon sy nie help om bekommerd te wees oor hoe die nodige voorraad en toerusting by Rhodes gaan uitkom nie. Gaan trokke op daai pad kan ry, het sy gewonder. En natuurlik is die winter op hande . . .
Vier weke later
Henri was baie trots om te noem dat die span lekker aan die gang is met hul projekte. Maar hy noem ook dat hy hom lelik misgis het met die omploeg van die sokkerveld. Daar was baie dooie gras en ook klippe wat die werksaamhede getroef het. Al manier om die ou gras te kon verwyder, was met hande-arbeid.

Dan was daar ook onsekerheid aan die kant van Zakhele se inwoners toe hulle die doenigheid rondom die sokkerveld gadegeslaan het. Sommige het selfs gedink Henri is besig om dit vir eie gewin oor te neem. Gelukkig kon Thato hulle tot kalmte maan en verduidelik dat daar nou “regte gras” vir die sokkerveld geplant gaan word.
Die tennisbane het meer gekos as waarvoor aanvanklik beplan is. Maar planne is gemaak – en nou is daar sommer ook ’n piekelbal-baan bo-op die tennisbane uitgemerk. Een boom se wortels het onder een van die blaaie ingegroei en skade veroorsaak, maar dit is nou verwyder en die baan se nuwe blad is nou reg vir aksie.
Volgende week
Met baie afwesige huiseienaars moes Sandra en Henri by tye klippe kou om almal ingelig te hou en seker te maak dat dinge vorentoe kan gaan. Gaan hulle dit regkry?
Lottoland help ’n dorp wys Dinsdae om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) of stroom op DStv Stream. Episodes is ook ná uitsending op CatchUp beskikbaar.







