Menu terloops
In Recaps [31 Jul 2026]

‘Lottoland help ’n dorp’: Concordia kry vlerke!


Die ‘Lottoland help ’n dorp’-span se volgende transformasie-projek het in Concordia in die Noord-Kaap ontvou.

Deur Annelene Oberholzer
‘Lottoland help ’n dorp’: Concordia kry vlerke!

“Ons het baie inskrywings vanjaar ontvang, en slegs ses dorpe het dit gemaak tot die finale ronde,” het Maryke Haywood, bemarkingshoof van Lottoland SA vertel oor die dorpies wat in die vyfde reeks van hierdie inspirerende werklikheidsreeks op kykNET aan kykers bekend gestel word.

“Ons sien dorpe wat ek in my lewe nog nooit van gehoor het nie,” het die programaanbieder Leah van Niekerk opgewonde laat hoor en gesê dis vir haar onbeskryflik om telkemale groepe mense van nader te leer ken wat soveel hoop vir die land bring.

En hierdie keer draai die blou bussie se neus Noord-Kaap toe, na ’n anderwêreldse Namakwaland-streek.

Namakwaland

Leah erken toe sy die naam Concordia die eerste keer gehoor het, het sy gewonder of dit nie dalk na die ikoniese Concorde-vliegtuig verwys het nie. Hierdie dorpie is egter so duskant Springbok – en met haar aankoms het Leah gevoel sy is so ’n bietjie in die Flinstone’s se wêreld.

“Ons het hierdie pragtige klipkoppies. Alles is nog so natuurlik moontlik. Daar’s ’n sekere gedeelte in die Bybel waar daar staan: ‘Rondom Jerusalem is daar groot berge. So is die Here rondom sy volk.’ 

“So, as ek na hierdie klippe kyk, dan kyk ek altyd met daai gedagte dat die Here is rondom ons,” het Jolene Parsons, gemeenskapseiendomvereniging-verteenwoordiger en projekspanlid, vir Leah vertel.

Passie-projekte

Oud-skoolhoof Pietie Cloete, projekspanleier, staan ook bekend as Meneer Cloete onder die inwoners. Hy het vir Leah vertel dat die bekommerde inwoners, waaronder hy ook stel, besef het hulle historiese geboue – en veral die Levy-gemeenskapsaal – het hulp nodig. So ook die sportgronde om gemeenskapsbetrokkenheid te help bevorder.

O ja, en vloedligte vir die sportveld want die huidige ligte veroorsaak donker kolle op die veld wanneer daar saans rugby gespeel word. Dit strek natuurlik tot die plaaslike rugbyspan se voordeel – want hulle weet waar om die bal te skop sodat dit in die donkerte land…

Tot 65% van die inwoners is werkloos. Maar benewens dit wek die sosiale verval deur drank en dwelms ook groot kommer. Dit het gelei tot die totstandkoming van die Desert Daisies, want – soos wat Pietie verduidelik – ’n daisy wat in ’n woestyn groei, moet baie hard wees. 

“Hy moet kan oorleef.”

Lottoland
Die verbetering van die sportgronde was op Concordia se wenslysie. Foto’s: Skermgrepe/Verskaf

Die blou koevertjie

“Lees ek nou reg?” wou ’n oorblufte Pietie weet toe Leah vir hom daai blou koevertjie in die hand gestop het. R800 000!

“Ek weet nie of ek vir u ’n drukkie mag gee nie?” wou ’n bewoë Pietie by Leah hoor. 

Natuurlik.

Vier weke later

Dinge by die sportgronde het alreeds aansienlik beter gelyk. Verf, geisers en aksie (amper in ooreenstemming met Leah se wens vir kameras, ligte en aksie met hul terugkeer) het alreeds onder ywerige hande deurgeloop.

Daar was ook reeds ’n diensverskaffer op pad om die brak water aan te spreek.

In die pylvak

Vir Coenie Paul, projekspanlid, het gevoel hulle het redelike vordering gemaak. Maar, soos hy gesê het: “Die mens wik, maar God beskik” en nie alles het sonder teenspoed verloop nie.

“Oudword het ek altyd gedink is vervelig, maar toe Lottoland in die voorgrond tree… Toe maak dit die dae baie aangenaam vir my hier. Ek sien uit om elke oggend op te staan want ek sien die verandering wat in ons dorp aangaan,” het Basil Cloete, projekspanlid, vertel.

Die laaste inloer

Lottoland
Al die werk wat gedoen is om Concordia te transformeer, is deur Concordia se eie mense gedoen.

Dit was ’n baie trotse en tevrede Pietie wat vir Leah weer in Concordia terug verwelkom het. 

Hy het erken die tweede vier weke van die projek was aansienlik taaier as die eerste vier weke. Danksy werkers, vrywilligers van die dorp, die munisipaliteit se mense wat kom uithelp het en kontrakteurs wat by spertye gehou het, het hy vir Leah ’n groot verrassing belowe. 

Én, het hy bygevoeg, al die werk wat gedoen is, is deur Concordia se mense gedoen. Die brak water sal later aangespreek word, want dit was ver bo die begroting. Die vloedligte se gate is reeds gegrawe en beloftes deur die munisipaliteit gemaak, wat gaan help dat die donker kolle op die rugbyveld eersdaags iets van die verlede sal wees.

Lottoland
Die dorp se gemeenskapsaal het groot verbeterings ondergaan.

Die begroting

Materiaal en arbeid: R167 487

Verskaffers: R355 054

Kontrakteur: R213 459

Elektrisiteit: R54 000

Wel, Concordia het niks met daai supersoniese vliegtuig te doen nie – maar hierdie gemeenskap het wel hul eie nuwe vlerke gekry vir opwaarts en vorentoe!


Lottoland help ’n dorp wys Woensdagaande om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) of stroom op DStv Stream. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer
Sien alle opsies