Menu terloops
In Wat om te kyk [27 Nov 2024]

‘Lottoland help ’n dorp’: Hartbeesfontein ’n hartsdorp van groot drome


“As jy nie welkom voel op Hartbeesfontein nie, dan is daar iets groot fout. Want hierdie mense hou daarvan om jou te verwelkom,” meen ‘Lottoland help ’n dorp’-aanbieder, Leah.

Deur Annelene Oberholzer

Stroom nou

‘Lottoland help ’n dorp’: Hartbeesfontein ’n hartsdorp van groot drome

Programaanbieder en sangeres Leah van Niekerk sê Lottoland help ’n dorp is waar gewone mense die verantwoordelikheid neem om hul dorpe beter te maak.

“Dit wys vir my ons het ’n paar fantastiese Suid-Afrikaners in hierdie land. Nie net ’n paar nie, ’n hele klomp.”

Dis jou dorp . . .

“Uiteindelik is Lottoland help ’n dorp in Hartbeesfontein in die Noordweste,” vertel Freda de Klerk, projekleier.

Hierdie is haar eerste besoek aan Hartbeesfontein en vir Leah lyk die omgewing ’n bietjie valer as van die ander plekke wat sy al besoek het. Maar toe val die son op die landerye, en dit kry daardie goue stralekrans. Dan duik die oase op: Hartbeesfontein.

Lottoland
Leah en Freda stap deur die dorp. Foto: Skermgreep

“Hartbeesfontein is ’n hartsdorp. Die mense wat hier bly, is regtig lieflike mense,” sê Freda. Sy kan nie genoeg praat oor die hoe die mense saamstaan en saam dinge dryf nie.

“Die hele dorpie bestaan uit die wildsplase wat hier om die dorp is. Dis wat die dorp interessant maak. En die dorpie self? Baie spot en sê dis die ouetehuis sonder ’n dak want die meeste van die plaasboere wat aftree, kom bly in die dorp,” kom dit van Johan le Roux, Hartbeesfontein Gemeenskapsforum.

Johan Vosloo, projekspanlid, dink hierdie dorpie hoef geensins terug te staan vir dorpe soos Clarence, Dullstroom of Parys nie. Hy wil net hê mense moet self kom kyk natuurgewys hoe mooi Hartbeesfontein is.

Lizzé Ellis, Hartbeesfontein Gemeenskapsforum, beskryf dit as ’n rustige, klein dorpie wat naby die groter Klerksdorp is. Hier is nie restaurante of eetplekke nie. Maar Lizzé sien dit as ’n voordeel want dit beteken mense spandeer meer tyd met mekaar.

Dié dorp klim in jou hart…

Leah is verbaas dat die dorp, ten spyte van verwaarlosing plek-plek en ’n paar leë huisies, wel ’n vreemde aantrekkingskrag vir haar inhou. Sy weet nog nie wat dit is nie, maar sy gaan dit uitvind!

Freda vertel dat sy en haar man jare gelede hier gekom het nadat hy ’n advertensie gesien het – en toe sy eers in die dorp is, het sy besef sy wil nie hier weggaan nie. “Die dorp en die gemeenskap het net ’n manier om in jou hart in te klim,” vertel sy. Selfs al skinder almal van mekaar . . . Maar as daar hulp nodig is, is die mense dáár.

Lizzé sê sy het die verval raakgesien en besef dat niemand dit vir die dorp gaan kom regmaak nie. Ook nie dat dit sommer net oornag gaan gebeur nie. Dis net daar waar hulle dadelik ’n groep byeengeroep het om ’n verskil aan Hartbeesfontein te maak.

Freda noem dat die hoofingang elke week skoongemaak word. Daarna word die hoofstraat ook weekliks skoongemaak. Sy is spyt dat dit nie meer gereeld kan gebeur nie, maar finansies laat dit toe nie. 

Johan (le Roux) vertel van die beddings wat hulle by die ingang aangelê het en die bome wat gereeld gesnoei word om die idee van ’n park te vestig.

“Daar het van die ouer mense van die dorp betrokke geraak. Daar’s een tannie, ek dink sy’s diep in haar 80’s, sy kom met haar ou bakkie, dan stop sy daar en bring blomme van die plaas af,” sê hy.

Die projek het vier jaar gelede afgeskop en die spanlede is baie trots op wat reeds verrig is.

Freda glo die rede vir hul sukses tot dusver is goeie menseverhoudinge, die verhouding met die parke-afdeling en die munisipaliteit. Een van hul doelwitte is ook om mense te laat besef wat ’n voorreg dit is om op die platteland te kan bly.

Help, Lottoland help ’n dorp!

Toe Leah by Freda wil weet hoekom sy Hartbeesfontein ingeskryf het vir Lottoland help ’n dorp, kom die antwoord kort en kragtig: “Ek voel ons dorp verdien dit.”

Sy erken hulle het finansiële ondersteuning nodig om die dorp en die projek volhoubaar te maak. En die projekte wat hulle met Lottoland help ’n dorp wil takel, strek oor die hele dorp en sy inwoners. Randstene, slaggate, strate, blombeddings en ’n park vir die kinders langs die rugbyklub.

Dan is daar ook ’n baie spesiale fontein wat weer netjies gemaak moet word, en dis die fontein van Hartbeesfontein. Dit was eens ’n piekniekplek en karavaanpark, deesdae is dit ’n heilige plek vir sommige inwoners wat dit as sulks beskou omdat dit ’n natuurlike fontein is.

Leah wil hê hierdie spruit moet die dorp weer laat herlewe. Maar nou’s dit bebos en nie baie veilig nie. Dit gaan geld kos om die fontein uit te sorteer en om verf en toerusting vir instandhouding van die paaie en tuine te koop. Maar dis duidelik dat die mense van Hartbeesfontein skouer aan die wiel sit, en daar sal hou – al mag dit langer vat sonder hulp van Lottoland help ’n dorp.

Meshack Stuurman, gemeenskapslid, se groot droom is om Hartbeesfontein netjies en skoon te sien. Elke straat en elke gebied.

“Ek kan sien Freda is so opgewonde, haar gedagtes gaan net aan die gang en dit rol verder met nog idees. Die drome is groot hiersô op die dorp. So, dit is regtig mense wat aan die toekoms dink,” sê Leah en sê dis duidelik hulle wil die dorp nog mooier maak vir generasies wat nog kom.

En Freda is nie iemand wat tou opgooi nie. Hierdie is die derde keer dat sy haar dorp ingeskryf het vir Lottoland help ’n dorp. Soos Leah sê: “Third time’s a charm!”

“Ek het net besluit aanhouer wen . . . En ek gaan nie ophou nie,” kom dit ferm van ’n vasberade Freda. “Vir my persoonlik is Hartbeesfontein my hartsdorp, my veilige hawe. As jy inry, dan voel jy tuis – en ek wil hê almal moet so voel.”

Die groen koevertjie

“Freda, jy het al bewys in hierdie dorp dat dinge gebeur. So, nou wil ek hê jy en die hele dorp moet aan Suid-Afrika bewys dat julle ’n verskil kán maak,” sê Leah terwyl sy daai groen koevertjie van agter haar rug na vore bring.

Lottoland
“Die groen koevert wat Leah vandag aan my oorhandig het, is soos ’n sleutel wat ’n deur oopgesluit het.” meen Freda de Klerk, projekleier. Foto: Skermgreep

“Ek staan nog hier die hele tyd en dink sê ek die regte ding om hierdie koevertjie te kry,” kom dit van ’n baie opgewonde Freda. Wel, sy hoef nie langer te twyfel nie. Die regte woorde het op die regte plek geland en vir Hartbeesfontein R360 000 in die sak gebring.

“Die groen koevert wat Leah vandag aan my oorhandig het, is soos ’n sleutel wat ’n deur oopgesluit het. Dis soos ’n paspoort na ’n groot begin in ons dorp,” sê Freda.

Agt weke later

Kan jy glo?! Toe Leah en die groen bussie by Hartbeesfontein se ingang kom, is daar net groen en wit ballonne wat deur oud en jonk vasgehou word. Leah sê dit het haar onmiddellik laat besef dat hierdie ’n plek is waar die gemeenskap bymekaar gekom het. 

Lottoland
Toe Leah en die groen bussie by Hartbeesfontein se ingang kom, is daar net groen en wit ballonne wat deur oud en jonk vasgehou word. Fotot: Skermgreep

“Dit was harde werk, maar dit was ’n amazing race,” erken Freda. Ook dat sy baie van haarself geleer het in die proses, en dit is om soms te laat gaan want jy kan nie alles self doen nie. Sy vertel tydens ’n gemeenskapsvergadering wat baie goed ondersteun is, kon die inwoners op ’n nota aandui by watter projek/te hulle betrokke wil raak. 

Lottoland
Kyk net hoe mooi lyk die nuwe randstene! Foto: Skermgreep

Daar is met die stadsraad gereël om die stukkende randstene te vervang wat dan deur die projekspanlede geverf is. Al die slaggate in die dorp is herstel. Die klein winkelsentrum is ook ’n nuwe baadjie aangetrek. Nuwe beddings is aangelê en weke se harde werk is aan die fontein spandeer.

En daai weke was die moeite werd. Dis skoon, mense kan weer daar piekniek hou en daar’s selfs ’n bruggie oor die fontein gebou. Klippe van ’n vergane huis is gebruik om asblikke te bou wat by die omgewing inpas.

“99% van die mense wat bokant die fontein bly, het letterlik vir ons kom dankie sê, kom handdruk gee,” vertel Awie du Toit, projekspanlid. Die dankbaarheid is dat hulle nou met veiligheid na die dorp kan stap.

Jack Taaibosch, gemeenskapslid, is ewe opgewonde oor die groot verandering wat teweeg gebring is. Hy sê daar’s ook blomme by die deel geplant wat as heilig beskou word.

Freda is ook baie gelukkig met die nuwe grassnyer en gereedskap wat hulle kon aanskaf, danksy Lottoland help ’n dorp se bydrae. Selfs die begraafplaas is skoongemaak en spog nou met ’n nuwe naambord.

Almal sit hand by

Freda het al wat leef en beef by die projek betrek – van die skool tot die Landsdiens by die skool. Sy’t asblikke aan hulle uitgedeel en dis al te vrolik geverf, vertel Bertina Botha, gemeenskapslid. Sy erken sy het self ook nie geweet van die pragtige fontein nie. Tot nou toe.

Marius Nel, gemeenskapslid, glo elke mens wat nou die dorp binnery, kan sien hoe netjies dit gemaak is. Hy het ook vir die eerste keer sy eie kinders wat al oor die 30 jaar hier grootgeword het, gaan wys hoe lyk die fontein. Verder het die stadsraad van Matlosana die rugbyklubhuis aan Freda en haar span toegeken. Daar het die afgelope vier jaar niks op die rugbyveld plaasgevind nie. Hulle het dit nou verander in die Hartbeesfontein Ontspanningsklub.

“As jy nie welkom voel op Hartbeesfontein nie, dan is daar iets groot fout. Want hierdie mense hou daarvan om jou te verwelkom, of jy inry in die dorp of instap in die dorp . . . hierdie mense het net absoluut omgee en liefde in oorvloed om vir ander te gee,” sê Leah.

Daar is nou ’n pragtige parkie met klimrame en swaaie en nog veel meer. Daar’s ’n kok aangestel vir die Ontspanningsklub en die suksesvolle gemeenskapsbraai van ’n paar weke gelede mag dalk nou elke maand hier plaasvind. Want dit was so lekker . . .

Lottoland
Vet pret vir die kinders by die nuwe parkie. Foto: Skermgreep

“Een-een kan ’n mens nie ’n ding gedoen kry nie,” sê Riaan Steyn, predikant: NG Kerk, Hartbeesfontein. Hierdie is vir hom ’n sprekende voorbeeld van hoe groter projekte afgehandel kan word wanneer mense saamspan.

Freda loop oor van dankbaarheid oor die samewerking en welwillendheid van die gemeenskap. Daar is R1,25 miljoen in donasies ontvang – insluitend toerusting wat beskikbaar gestel is om van die werk gedoen te kry.

Terloops, Freda is nog lank nie klaar nie. Sy het nog ’n groot droom vir Hartbeesfontein: Kwêla Dorp van die Jaar!


Lottoland help ’n dorp wys Woensdagaand om 21:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies