Doer diep in die Oos-Kaap het kykNET se Lottoland help ’n dorp vir oulaas in die huidige seisoen, die vierde seisoen, nadergestaan om ’n daadwerklike verskil in ’n sprokiesagtige en geskiedkundige klein dorpie se gemeenskap van nuwe hoop – en broodnodige befondsing – te voorsien.
Dis natuurlike Rhodes, ’n dorpie wat deur die jaar met net 24 permanente inwoners (en verskeie vakansiehuis-eienaars) die mas moet opkom. Wat die 90% van die eienaars wat nie in Rhodes bly nie, gaan dink van hierdie ingrypende dog sensitiewe verbeteringe van hul dorp, kan daar net oor geraai word. Maar die hoop bestaan dat dit positief sal wees.

Ná afloop van die eerste vier weke
“Ons is so gewoond as jy iets doen, moet jy self geld insamel daarvoor of ’n projek doen daarvoor. So, dis vir ons ’n ongelooflike voorreg om nou sommer te kan sê, ‘O, oukei, ons doen nou dit, ons doen nou dat,’ en kry iemand professioneel om die tennisbane te doen,” het Sandra Reeders, projekspanleier vertel oor hoe dit gevoel het om die wonderlike hupstoot ter waarde van R700 000 van Lottoland SA te ontvang.
Maar, het sy gewaarsku, vanweë die seisoen en die nuwe gras wat op die sokkerveld geplant is, gaan dit nie mooi groen wees wanneer die aanbieder, Leah van Niekerk, en haar Lottoland help ’n dorp-span terugkeer op die datum wanneer al die projek te afgehandel moes wees nie.

Henri Reeders, die projekspanlid wat saam met een van sy dogters, Tracy, die motivering vir Rhodes om op Lottoland help ’n dorp se lysie te beland, geskryf het, het vertel dat hulle reeds 160 Lombardy-populierbome binne die eerste vier weke nadat hulle die groen koevertjie van Leah ontvang het, geplant het en ook die omheining kon span. Volgens hom het die draad naastenby R18 000 per km beloop. Dis nou sonder dat die arbeid nodig om dit te kon span.
Vir Judy Browne, projekspanlid, was Rhodes se verwaarloosde tennisbane ’n hartseer gesig. Sy is iemand wat feitlik haar lewe lank tennis speel – en hierdie is so ’n spesiale dorpie waar sy baie graag haar liefde vir die sport wou voortsit.
Op sy beurt het Roger Browne, projekspanlid, ook nie ’n oomblik gehuiwer om op sy fiets te spring en hope pale op sy rug heen en weer te karwei nie. Hy was die stukrag agter ’n wandelroete – nie net vir die inwoners nie, maar ook as ekstra aantrekkingskrag vir toeriste.

Dan is daar die ikonies poskantoor, ’n Herbert Baker-sandsteengeboutjie, wat ook dringend opgradering nodig gehad het. Gelukkig het die projekspan toestemming gekry om die buitekant te takel. Die rolbalbaan moes eers letterlik van die baan geskuif word, maar daar is begin werk aan ’n jukskei- en vlugbalbaan. Wees gewaarsku, kort voor lank gaan daar met “daar lê dit in die Baai” die sukses van ’n goeie gooi geseëvier word.
Ook frustrasie…
Terwyl die gholfbaan vorentoe beweeg het, was daar ’n gesloer met die ingange omdat almal insette moes bied – en dit het al hoe meer begin lyk of dit nie mooi gemaak kan word nie.
Daar is huiseienaars wat in alle uithoeke van die wêreld woon, dan die munisipaliteit wat in Lady Grey gesetel is. Moet ook nie van die belastingbetalers vergeet nie – hulle is die waghonde wat die monumente betref.
Dit het natuurlik sy kwota frustrasies gelewer, en Sandra se wens was dat die onderskeie rolspelers moet besef dat die styging in waarde van Rhodes absoluut ook gaan bydra tot die verhoging van die waarde van plase in die omgewing.
“Ek het ’n seun wat plaas toe kom oor twee jaar, en ek wil nie hê hy moet hier aankom en dis ’n spookdorp en die bokke spring by die huise se vensters uit nie,” het sy verklaar.
Toerisme is baie belangrik vir die dorp want dit bring werksgeleenthede vir die gemeenskap mee, het Xolelwa Yaleko, gemeenskapslid, ook beaam.
Dit was maar tyd vir skouer aan die wiel, het Henri verklaar en die res van die span was vol vertroue dat Leah en haar Lottoland help ’n dorp-span beslis aangenaam verras gaan wees met al die gewoel en werkskaf wat bykomend oor die volgende vier weke afgehandel gaan word.
Vier weke later
Leah en haar Lottoland help ’n dorp-span moes hulself behoorlik pantser, sneeupakkie en al, teen die ysige koue wat hulle op Rhodes begroet het. Agt weke gelede het die son geskyn – en toe het die sneeu gekom!
Sandra het vir Leah vertel hulle wag net vir die somer om die lowergroen gras en die bome te sien ontluik. Daarop het Leah vinnig gesê hulle sal maar net weer in die somer moet kom kuier om te sien hoe alles dan gegroei het.

Maar sy het reeds, sommer met hul aankoms in die dorp gesien, dat die sokkerveld reeds ’n groot gedaanteverwisseling ondergaan het. Die nette was opgerig en die klubhuis was baie oulik reggeruk, nuwe dak en al.
Thatho “Leki” Mojake, projekspanlid, was een van die mense wat nie kon wag vir daai gras om te groei nie. Hy kon nie wag om weer sokker speel te speel nie. En tussendeur was hy natuurlik ook baie trots om te vertel dat besoekers aan die dorp en Zakhele reeds ’n groot verskil kon raaksien.
Sandra was net so opgewonde oor die lang populierbome wat hulle geplant het en wat met drupbespoeiing toegerus het. Die vooruitsig van daardie geel, lang populierbome in die herfs, was iets waarvoor sy skaars kon wag.
Nog transformasies
Daar was groot waterskade by die ikoniese poskantoortjie met water wat tot onder die fondasie ingeloop het. Maar daar’s goeie planne beraam met geute, die dak en die buitekant wat skoongemaak is.

Francois Reeders, projekspanlid, het vertel die binnekant moet nog reggeruk word, maar dat hulle beoog om hierdie geboutjie vorentoe tot voordeel van die gemeenskap te benut.
Praat van die tennisbane! Dié het soos splinternuwe sikspense gelyk en boonop is dit as meerdoelige bane gevestig. Daar kan ook nou piekelbal, waarvan daar drie is, op die twee bane gespeel word. En spelers van enige van die twee dissiplines het nou ook die voordeel van spreiligte wat dag van die nag maak.

Judy het vertel dat die gemeenskap baie ondersteunend was en deesdae ook self ewe fluks rakette rondswaai. Aanhangers van ’n nuwe spel, gholf-sokker, het nou ook die kans om dit in Rhodes te kom speel. Dis nou vir diegene wat vaardiger met hul voete as met ’n gholfstok is.
Roger se staproete het Leah ook beslis beïndruk. Dit het na nog ’n wenner-attraksie vir Rhodes se inwoners en besoekers gelyk.
Vele hande maak ligte werk
Maar hoe het Rhodes se projekspan alles gedoen gekry met die fondse wat Lottoland SA beskikbaar gestel het? Sandra het verduidelik dat daar baie arbeid op die plase is en dat die diere in die winter van bo in die berge na onder gebring word. Dit het daartoe gelei dat daar baie ekstra hande “onder” was en hulle het sonder huiwering ingespring en kom help.
“Vele hande maak ligte werk,” was hoe Henri dit opgesom het. En talle nuwe talente is ontdek in die proses, het Sandra trots vertel.
Dat sy liefde vir Rhodes baie diep lê, is glad nie te betwyfel nie want Henri is reeds die vyfde geslag in hierdie pragtige omgewing. En hy glo sy kinders deel daardie liefde en dat hulle in die toekoms daar gaan belê in eiendom en ook daar kom bly. “Die goed wat ons gedoen het . . . is maar vir die nageslag.”
En al is daar nog ’n dingetjie hier of daar wat uitsorteer moet word, gaan dit wel gebeur want, soos Francois dit gestel het: “As daar een ding is wat ons hier in Rhodes het, is dit tyd.”
“Julle is by verre ons kleinste dorpie met die minste mense, maar julle het ’n baie groot verskil gemaak,” het Leah vir Sandra gesê.
“Ons is so klein dorpie dat ons kan nie eers baklei nie, want as ons baklei moet ons die middelste een in die helfte sny as hy moet kant kies,” het dit ewe spitsvondig van Sandra se kant gekom.
Leah sê
Dit was vir haar baie swaar om die vlag in Rhodes te hys want sy weet sy moet nou groet. Sy is vasbeslote om weer te kom kuier – en om dié keer nog meer mense saam te bring met die wete dat hierdie projekte nie net steeds gaan voortgaan nie, maar boonop soveel beter as wat die verwagting is. Rhodes se 24 inwoners kan maar weet, hierdie is ’n belofte wat sy gaan nakom!
Lottoland help ’n dorp wys Dinsdae om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) of stroom op DStv Stream. Episodes is ook ná uitsending op CatchUp beskikbaar.