Menu terloops
In Recaps & Resensies [9 Okt 2024]

‘Lottoland help ’n dorp’: Die lekkerste lekker is om die onmoontlike reg te kry


In die eerste episode van ‘Lottoland help ’n dorp’ se splinternuwe derde seisoen, is die bekoorlike Bolandse dorpie, Bonnievale, slaggereed vir transformasie.

Deur Annelene Oberholzer
‘Lottoland help ’n dorp’: Die lekkerste lekker is om die onmoontlike reg te kry

Die programaanbieder en sangeres, Leah van Niekerk, is slaggereed om die volgende 13 dorpe in Lottoland help ’n dorp se derde seisoen te besoek. En die eerste uittog is na Bonnievale in die Boland.

Lottoland help 'n dorp
Leah van Niekerk is die aanbieder van Lottoland help ’n dorp. Foto: Skermgreep

What’s in a name…

Die eerste dorp wat in hierdie seisoen aan die kykers bekendgestel gaan word, is die bekoorlike Bolandse dorpie, Bonnievale. En alhoewel Leah al verskeie kere in die omgewing was, het sy nog nooit hier stilgehou nie. “Bonnievale is rêrig ’n sonskyndorpie, maar dit is wintertyd en daai wolke gaan nou maar oor die berge kom,” vertel Leah toe sy en haar Lottoland help ’n dorp-span die dorpie op ’n reënerige winterdag binnery.

“Die naam Bonnievale het begin met ’n Mr. Rigg wat die dorp basies begin het. Hy het die eerste stasie laat bou, en die stasie se naam was Vale. En toe later dit Bonnievale genoem, en die Bonnievale kom eintlik van sy huis af wat in Engeland was.

“Daar’s mense wat sê die naam kom van Mooivallei: Bonnie – vrou en Vale – Vallei,” kom dit met daai lekker Bolandse brei van Hansie Wolfaardt, projekleier. Hy’s gebore en getoë in Bonnievale en glo vas hy sal sy lewe lank daar bly omdat hy so lief vir die plek is.

Bolandse juweel

“Ek het hier grootgeword, was so 17 jaar in die Kaap daar gewees, my hart het my teruggetrek na die plek toe,” vertel Theuns Coetzee, projekspanlid. “My dogter sê dis ’n plaas, maar net met meer huise.” 

“Bonnievale is definitief ’n unexplored gem. As mense hul roete beplan, is dit Route 62 en hulle weet nie dat dit ’n baie klein verbygang is wat jy moet kies net om hiernatoe te kom nie. Maar miskien is dit ook deel van Bonnievale se mooigeit . . . Jy moet kies om hiernatoe te kom,” sê Alegra Wykerd, gemeenskapslid.

“Ons het ons grootste kaasfabriek in Afrika in Bonnievale. En dan’s hier geweldig baie goeie wynkelders, soveel so dat een van hulle verlede jaar aangewys is as die beste Wine Experience in the World,” spog Hansie.

Hy vertel dat benewens die pragtige berge en wingerde wat Bonnievale omring, is dit ook die enigste dorp waar die Bergrivier deur die dorp kronkel.

‘Hiersô is al redelik baie uit die boks gedink. ’n Paar mense het gedink ‘kom ons bou nog ’n skool’ en ons het die staat gaan sien. En die staat het gesê daar’s nie geld nie. Toe besluit ons maar, oukei, kom óns bou ’n skool. Dis nou sewe jaar terug en nou staan ons met ’n Jakes Gerwel-skool wat 800 leerders het, ’n vaardigheidskool. Die eerste in die land.

“Ons staan nou al op, ek dink, R120 miljoen van daai projek – en 60% kom uit die gemeenskap,” vertel Theuns. “Dié skool word deur baie mense genoem ’n wonderwerkskool. Vir ons is dit ’n skool wat ontstaan het omdat Bonnievale se mense genoeg omgegee het om self iets te doen,” sê Augusta Brandt, gemeenskapslid.

“Bonnievale 418 is gebore uit Jakes Gerwel, want die visie van Jakes Gerwel was om kinders vaardigheid te leer. En toe het ons besluit maar kom ons gebruik die 418 om al die kinders wat nou in die skool is, werk te kry ná skool,” verduidelik Theuns.

“Dis ’n dorp waar ons baie, baie hard werk om seker te maak ons kinders kry geleenthede en ons mense se eie waarde word weer herstel,” sê Augusta.

Gemeenskap deins vir niks terug nie

Toe Mr. Rigg in 1900 hier beland het, het hy ’n kanaal van Robertson na Bonnievale aangelê en dit het tot die ontstaan van die dorp gelei. Dit sou ook hy wees wat die unieke Myrtle-kerk gebou het ter nagedagtenis aan sy dogtertjie wat op haar sterfbed hom versoek het om vir haar ’n kerk te bou.

Hansie vertel dat hulle tien jaar gelede begin droom het om die dorp met bome te verryk en die deurpad in iets omskep wat toeriste sal aangryp.

Leah kom tot die besef dat die gemeenskap van Bonnievale vir niks terugdeins nie. Hulle takel projekte, met of sonder geld. Bonnievale was ook al in 2023 die Wes-Kaapse finalis in Kwêla se Dorp van die Jaar-kompetisie.

Maar, erken Theuns, hul 10-jaar projek het nie ten volle ontwikkel nie. Die verf het begin afdop, die onkruid groei en die bome vrek . . . Nou het die dorp net weer ’n inspuiting nodig om hulle weer in hulself te laat glo.

Help, Lottoland help ’n dorp

Hansie sê hulle wil graag die inrit na die dorp omtower met bome en struike, selfs bankies waar mense kan sit en nog ander strukture om die dorp mooier te laat lyk.

Alegra voel ook wanneer jy na die hoofstraat kyk, smeek dit om verder ontwikkel te word. Vir haar is die hoofstraat glad nie ’n simbool van die dorp nie. Dan is daar die parkie wat vir Theuns koue rillings gee . . .

By die ander skool in die dorp, Happy Valley, beoog hulle om grond van die kerk te huur om sportgronde vir die kinders te bou in ’n poging om hulle van die strate en dwelms weg te hou.

Hansie is ten volle oortuig dat die span Bonnievalers enige projek sal kan afhandel. Hy vertel dat hulle 10 jaar gelede 3 000 bome en 21 000 plantjies met behulp van die dorpsmense en skoolkinders geplant het. En hy glo dit gaan weer die geval wees. 

Hy glo ook verbeteringe gaan trots aan die inwoners terugbesorg, en dat toerisme ’n welkome inspuiting vir die dorp se ekonomie sal wees.

Die groen koevertjie

“Julle het ’n verskriklike mooi dorp, alreeds, maar ’n mens kan altyd mos nog maar ’n bietjie doen,” sê Leah vir Hansie. En met daardie woorde oorhandig sy die gesogte groen koevertjie aan hom oor.

Lottoland help 'n dorp
Leah oorhandig sy gesogte groen koevertjie. Foto: Skermgreep

“Fantasties!” is sy reaksie toe hy besef Lottoland help ’n dorp gaan R300 000 aan Bonnievale beskikbaar stel om die nodige opknappings te kan doen. Hy erken hy het nie in sy wildste drome verwag dat Leah daai groen koevertjie op dié dag sou oorhandig nie.

“Ons sit daar bo op die berg, kyk uit oor hierdie pragtige dorp. Die wind waai ons amper weg. Daar is reën. Maar hierdie man het die grootste glimlag. Dis asof die son letterlik uit hom uit geskyn het,” vertel Leah oor die oomblik toe Hansie die koevert ontvang het.

En Hansie? 

“Nou, na die groen koevertjie, voel dit of ’n mens twee harte het: Een klop met opgewondenheid en een klop met vrees vir wat ons nou gaan moet doen.” En, dis winter!

“Die lekkerste om iets reg te kry, is om die onmoontlike reg te kry,” kom dit onverstoord van Theuns.

Lottoland help 'n dorp
Lottoland help ’n dorp het R300 000 aan Bonnievale beskikbaar gestel. Foto: Skermgreep

Agt weke later

“Om die swaarkry met lekkerkry klaar te kry,” haal Hansie vir CJ Langenhoven aan toe die Lottoland help ’n dorp-span ná agt weke terugkeer om te kyk wat van hul eerste besoek tot nou toe gebeur het.

Hy vertel vir Leah hulle het met drie projekte afgeskop: die hoofstraat, Happy Valley se hoofstraat en om ’n kaal stuk grond in ’n rugbyveld vir Bonnievale se laerskool te omskep. 

Laasgenoemde is nog nie afgehandel nie, want soos veral die Kapenaars sal weet, het die winter vanjaar nie sagkens met mense te werk gegaan nie. En Bonnievale is boonop deur vloede geteister, die ergste in jare!

Maar dit het nie die geesdrif van die Bonnievalers gedemp nie. Hulle het toe sommer 22 kleiner projekte aangepak. En hy belowe dat dit alles afgehandel sal wees teen die tyd dat Leah en haar Lottoland help ’n dorp-span by die laaste projek aanland.

Wat Leah veral beïndruk het, is hoe baie van die Bonnievalers sommer ingespring het en gemotiveerd deur wat rondom hulle gebeur, self ook skielik hul eie tuine begin mooimaak het. Daar is voor die skool skoongemaak, en die ouetehuis het self ook dinge mooier gemaak.

“Ons moet almal betrokke wees in Bonnievale om dit skoon, netjies en pragtig vir ons almal te hou wat hier wil bly,” sê Alfrieda van der Bank, gemeenskapslid.

“Jy wil dit netjies hê en jy wil trots wees op hom,” vertel Susan Oosthuizen, gemeenskapslid.Sy kan nie uitgepraat word oor die uitstekende samewerking vanuit die gemeenskap nie. Selfs ’n rolstoel stuit nie mense om hul deel by te dra nie.

Geen plante is aangekoop nie, dit kom alles uit plaaslike tuine. Straathoeke is geverf, die naambord is opgekikker en nuwe wingerde is aangeplant.

Nog ’n projekspanlid, Natasja Wentzel, vertel van die groot bank wat gebou is waar mense altyd staan en wag vir taxis. Daar is ook ’n vullisblik ingebou en bome vir skadu geplant.

Gemeenskapslid Moses Ruzive sê daar word verwagtinge gekoester van hoe dinge na afloop van die projek gaan uitsien.

“Nou, wanneer ek hier verbyry, weet ek ek het ook geskiedenis nagelaat vir die Bonnievale-gemeenskap.”

Oud en jonk spring aan die werk

Leah was verstom dat oud en jonk aan die projek deelgeneem het. Soos byvoorbeeld Oom Daantjie (Arendorff), die man wat vir generasies reeds bekend staan as die verwer op die dorp. En daar verf hy vandag randstene asof hy nog bloedjonk is.

Die skoolkinders het as deel van die dorp se dankie-sê “This Is My Season” gesing. Foto: Skermgreep

“Ek is bly dat ek kon help. Waar hulle my gevra het, het ek hulle gehelp. Dit het baie verskil gemaak, want jy kyk teen mooigeit vas. Jy kyk nie teen lelike goed vas nie. Dis wat baie belangrik is,” kom dit van hom terwyl hy en Leah saam-saam die randstene rooi verf.

Bome, gruisklippies en die rugbyveld was die rakkers wat baie geld vereis het. Maar die beursie is fyn dopgehou en daar was ook donasies wat ontvang is.

Die sinkplaatmuur rondom die sportgronde is deur die munisipaliteit verwyder. In plek daarvan het hulle ’n spierwit, nuwe muur gebou. By die laerskool is die geboude sirkels nou geverf en spog dit met bome en plante, terwyl die mure dien as sitplek vir die kleingoed

Die skoolkinders het as deel van die dorp se dankie-sê “This Is My Season” gesing. Vir Leah is dit baie simbolies want dit is inderdaad Bonnievale se nuwe seisoen wat nou aangebreek het.

Die groot leë vierkant in die dorp het nou ’n bestemming geword met ’n groot metaal-kaasbord. Hier kan besoekers saam met die kaasmuis foto’s neem. 

Hansie sê die werk kon gedoen word danksy die inspirasie van diegene wat kom help het. Hulle het op hulle beurt ander motiveer om ook handjie te kom bysit.

“Ons het elkeen mekaar nodig, dit maak nie saak of jy die pinkie of die duim is nie, of ja, amper die hele hand of die pols is nie, ons het mekaar so nodig,” som Natasja dit op.

Volgende week

Leah weet sy moet haarself pantser teen die koue, want sy en haar span is op pad na Burgersdorp in die Oos-Kaap!


Lottoland help ’n dorp wys Woensdagaand om 21:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
5

Totsiens, ‘Wyfie’: S2 se 5 onvergeetlike storielyne

Met die laaste sarsie 'Wyfie'-episodes op hande, kyk ons terug na vyf storielyne wat ons tydens die tweede seisoen van dié baanbrekende Afrikaanse universiteitsdrama geboei het.

Meer
Sien alle opsies