Menu terloops
In TV [21 Mar 2026]

‘Lekker & goed’: Carmen Niehaus kóók weer sonder fieterjasies in tweede seisoen


Met haar jare se ervaring as kosredakteur van ‘Huisgenoot’ en meer as 25 kookboeke uit haar pen, was ’n tweede seisoen van ‘Lekker & goed’ eenvoudig ’n moet vir Carmen Niehaus.

Deur Redaksie
‘Lekker & goed’: Carmen Niehaus kóók weer sonder fieterjasies in tweede seisoen

Kykers was gaande oor die heerlike, eg Afrikaanse saamkook-en-geselsreeks wat Carmen Niehaus met die liplek-lekkerste kombinasies in die eerste seisoen van Lekker & goed op kykNET voorgesit het. En eersdaags is die tweede seisoen op die kassie. 

Met haar jare se ervaring as kosredakteur van Huisgenoot en meer as 25 kookboeke uit haar pen, was ’n tweede seisoen van Lekker & goed eenvoudig ’n moet vir Carmen Niehaus. 

Daar word nie aan die wenresep van die eerste seisoen getorring nie. Carmen kuier en kook weer aan die pragtige Weskus gesellig saam met bekendes wat boonop kosvriende is. 

Lekker & goed, Carmen Niehaus
“Ons kook eerlik en mooi en sonder fieterjasies, met ’n huppel in ons gesonder stap,” vertel Carmen oor die tweede seisoen van Lekker & goed. Foto’s: Verskaf

Lekker kos, lekker gaste

“Lekker & goed gaan oor lekker en goeie ervaringe. Die mooi van die Langebaanmeer skep net die regte atmosfeer vir aansit om ’n keurig gedekte tafel met goeie kos en wyn en saamkuier met lekker gaste. Daar word gekook in ’n pragtige kombuis gebaai in kleur en blomme met geselsies oor velerlei, maar veral oor gesonder (en lekker) eet terwyl die potte prut,” vertel Carmen oor wat kykers kan verwag.

Carmen se gaste sorg ook vir vrolikheid en inspirasie. Vir 13 weke gaan Carmen saam met bekendes – waaronder Mila Guy, Danie du Toit (van Spoegwolf), Ewan Strydom, Ricky Schroeder en Rolanda Marais – die een watertanddis ná die ander voorberei.

’n Paar bobaaskokke van Kokkedoor-faam gaan ook gesig aan die Weskus kom wys. Dis nou mense soos Yolani Abrahams en Mari-Louis Guy, asook Klein Roosboom-wynplaas se Lorianne Heyns en Johan de Villiers, wat vir hulself naam gemaak het in Kokkedoor: Vuur & vlam.

Die kersie op die koek vir hierdie kosreeks is dat daar ook ’n gedugte span agter die skerms woeker. Kokkedoor-regisseur Sanet Olivier hou die leisels vas en Herman Lensing is die kosvervaardiger en produksie-ontwerper. 

Carmen se wens vir kykers

“Ek hoop kykers sal besef dat om gesonder te kook nie saai, vervelig of geurloos hoef te wees nie. Dit kan baie lekker, pragmooi en prettig wees,” is Carmen se groot wens. “ ’n Mens kan die reëls na goeddunke breek, en ek gee raad en wenke oor hoe om ’n heerlike, geurige bord kos te skep.

“Ons kook eerlik en mooi en sonder fieterjasies, met ’n huppel in ons gesonder stap. Kos is immers ook kuns,” voeg Carmen by. 

Sy is veral trots op die gesonder deel.

“Ek knyp myself telkens om te besef dat my droom om kos gesonder, maar steeds smullekker te kan voorsit aan ons mense, uiteindelik waar geword het. Dis ’n opwindende reis waarvoor ek innig dankbaar is. Ek kan nie ophou kyk na al die mooi wat daar reg rondom my geskep word nie.”


Lekker & goed word vanaf Donderdag 9 April om 17:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die reeks sal ook op Catch Up beskikbaar wees.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer

Lag, liefde en soveel meer: Ons kykNET-kyklys vir Oktober

Oktober op kykNET bring plaasromanse, slim speletjies en stories vir boekliefhebbers. 'Boer soek ’n vrou' se liefdeskeuses sorg vir afwagting, 'Haas se gat' speel met woorde en feite, terwyl 'Boekmerk' by skrywers en leeskringe kuier vir gesprekke oor Afrikaanse boeke.

Meer

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer
Sien alle opsies