Vir die eerste uitdaging van die vyfde episode van Kokkedoor: Son & see moes die oorblywende vyf spanne in tien minute die 22 bestanddele in Mynhardt Joubert (medewenner van die heel eerste Kokkedoor saam met Tiaan Langenegger) se Kersvrugtekoek uitken. Hanna en Dirk, wat 18 van die bestanddele kon eien, was die wenners.
’n Smaaklike Kersvrugtekoek deur Mynhardt Joubert wat saam met Tiaan Langenegger die heel eerste wenners van Kokkedoor in 2013 was. Tot nou toe het Mynhardt reeds meer as 10 000 van hierdie vrugtekoeke gebak ten bate van kinder- en bejaardesorg. Foto’s: Verskaf
Die Goue Middeweg-uitdaging was vir die spanne om 12 bakkies koekstruif (trifle) te maak. Hulle het wel gestolde jellie gekry om vir hulle ’n hupstoot te gee, maar hulle moes wel hul eie vla maak én die koek bak wat hulle wou gebruik.
Elkeen van die spanne het ’n ander element gekry wat hulle moes gebruik en met die beoordeling was sommige meer suksesvol as ander.
Hier is wat die spanne gemaak het:
Andrew en Leoné (suurwurms): “Dit was nie ’n maklike een nie, maar julle het nie sleg gevaar nie,” was Yolani se kommenaar. Leoné is gekomplimenteer op haar funfetti-rolkoek, maar die span het punte verloor omdat hulle nie vla – wat Andrew net nie onder die knie kon kry nie – in hulle trifle gehad het nie. Caroline en Anél (gesoute karamel-springmielies): Die ma-en-dogter-span se trifle was meer ’n snoepie-trifle as ’n trifle wat deur karamel-springmielies geïnspireer is. Hul sponskoek was goed, maar die eiervla was nog rou. Die Speckled Eggs was onnodig en het die aandag van die karamel springmielies geneem. Hanna en Dirk (strepies-skuimpies): Herman het gesê dis ’n mooi trifle, maar die geur was room op room op room. Die koek en konfyt wat gemaak is, was goed, maar daar is te min daarvan gebruik. Yolani sou nie die bloubessies gebruik het nie, maar andersins was dit vir haar ’n prentjiemooi-trifle. Fran en Yvette (Peppermint Crisp): Hierdie koekstruif was meer ’n melkskommel as enigiets anders synde Fran en Yvette se vla heeltemal te loperig was. Herman het gehou van die karamel wat hulle gebruik het, maar Yolani het hulle herinner dat ’n trifle lae moet hê – iets wat hulle s’n nie juis gehad het nie. Shireen en RJ (spookasem): “Julle het die spyker op die kop geslaan,” het Yolani gesê oor Shireen en RJ se kleurvolle en speelse koekstruif. Herman het erken dat dít die een is wat hom angstig gemaak het, maar die ma-en-seun-span het die spookasem as bestanddeel maak werk.
Top-spanne
Die twee top-spanne was Shireen en RJ en Hanna en Dirk. En só het Shireen en RJ hul eerste wen van die seisoen gevat.
RJ en Shireen was die dag se top-span.
Onderste twee spanne
Aan die onderkant van die lys was die ma’s en dogters Yvette en Fran en Caroline en Anél. Yvette en Fran moes uiteindelik hul voorskote ophang.
Vier wenke uit die Kokkedoor-kombuis in dié episode
Wanneer vla op die stoof gemaak word, moet jy baie versigtig wees dat dit nie skif nie. Haal die pot af van die hitte om te keer dat die eiers te vinnig gaar word en as roereier opeindig. – Herman
Panna cotta moet effens stywer as jellie wees, maar nog steeds ’n jiggle hê. – Yolani
’n Vla wat gekook word sonder vlapoeier, sal nooit op die stoof dik word nie. Dis eers wanneer dit afkoel, wat dit stywer sal word. – Herman
“’n Trifle kan vinnig té wees – te min, te veel, te deurmekaar.” – Herman
Kokkedoor: Son & see saai Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.Kyk ook Kokkedoor Vuur & vlam op Showmax.