Menu terloops
In TV [5 Jun 2026]

Kry vir jou nog ‘Koek’! Bekroonde misdaadkomedie keer terug met tweede seisoen


“As jy met die duiwel wil dans, wees reg vir die hel …” Die grusame eskapades van ’n voorstedelike huisvrou en ’n ongenaakbare bendebaas woed voort in die tweede seisoen van Wolflight Films se misdaadkomedie ‘Koek’, wat eersdaags op DStv Stream begin.

Deur Redaksie
Kry vir jou nog ‘Koek’! Bekroonde misdaadkomedie keer terug met tweede seisoen

Nes die veelbekroonde eerste seisoen van Koek, wat lof van kykers en resensente én ’n Internasionale Emmy-benoeming ontvang het, blyk ’n wilde wipwarit van aksie, geweld en bloedvergieting op hande te wees in die tweede seisoen.

Koek se eerste seisoen was ’n stroomtreffer op Showmax, maar vanaf 9 Junie 2026 het dié reeks ’n splinternuwe tuiste. Die nuwe seisoen is eksklusief beskikbaar op DStv Stream (binne die Showmax-afdeling), op DStv se Premium-, Compact Plus- en Compact-pakkette.

Cindy Swanepoel hervat haar rol as Christelle Smit, maar is beslis nie dieselfde Kaapstadse tuisblyma en huisvrou wat alles verloor het nadat sy van haar rondloperman, Adrian (Stian Bam), se ontrouheid uitgevind en by Koeksusters ingestrompel het nie. 

Cindy Swanpoel, Koek S2
Wanneer Koek se storiedrade weer opgetel word, is Christelle (Cindy Swanepoel) in ’n stryd om haar lewe te herbou. Foto’s: Verskaf

Wat is die resep vir Koek S2?

Wanneer die storiedrade weer opgetel word, is Christelle in ’n stryd om haar lewe te herbou terwyl ’n lelike skeisaak aan die gang is. Haar drome om haar mediese loopbaan te hervat en as enkelma vir haar dogter te sorg, lê egter aan skerwe. Dít terwyl haar eks (grotendeels) ongeskonde weggestap het nadat Christelle sy nier vir wraak geoes het. Nou dagvaar hy ook vir toesig van hul dogter, Stella (Izebella Louw). Hy is vasbeslote om Christelle van alles te ontneem. Wanneer Adrian ’n skelm prokureur aanstel om die saak in sy guns te swaai, volg ’n reeks gebeure wat Christelle terug in die onderwêreld dwing.

Intussen leef ’n afgetrede Moekie ’n lewe van stille vernedering. Dié voormalige bendebaas, vertolk deur Sandra Prinsloo, blyk nou ’n brose bejaarde vrou te wees wat deur vreemdelinge “Ouma” genoem word en vir wie pensioenarisafslag gegee word sonder dat sy daarvoor gevra het. Maar wanneer Christelle weer om hulp aanklop, is die vet in die vuur. Moekie het duidelik nog nie haar aptyt vir luiperdpatrone, brandewyn en niere steel, verloor nie.

Sandra prinsloo as moekie in Koek
Sandra Prinsloo as Moekie in Koek.

“Dit is so ’n eer om hierdie karakter te herbesoek en nog ’n seisoen te hê,” het Cindy destyds gesê toe daar aangekondig is dat die reeks hernu is. “Christelle nou? Sy is edgy, sy is gevaarlik, sy is rateltaai. Moenie met haar mors nie – sy is deur baie. Maar sy is ook kwesbaar. Wat sy in seisoen 1 gedoen het, is intens. Dit is nie iets wat ’n mens sommer net agter jou sit nie.” 

En oor wat kykers van haar kan verwag? “Daar sal ook baie komiese elemente wees wat met die ernstige elemente vermeng. Dit is die soort storievertelling wat ek graag doen.”

Ontmoet nuwe, sluwe karakters

Seisoen 2 stel ook nuwe, ongure karakters bekend, waaronder Frank Opperman as Thinus “Tjoppie” Terreblanche – die mees gevreesde bendebaas in die Noordelike Voorstede wat sy motorkapingsindikaat met ’n ysterhand vanuit sy rolstoel regeer. Ten spyte van sy kwynende gesondheid weier Tjoppie volstrek om die leisels aan sy lamsakkige seun, Tiny (De Klerk Oelofse), of sy manipulerende sesde vrou, Veronika (Leandie du Randt), oor te gee.

Leandie du Randt, Koek
Leandie du Randt vertolk een van die nuwe karakters – slinkse Veronika.

Vir jare het Tjoppie se sindikaat en Moekie se ontkleeklub ’n moeilike vrede gehandhaaf wat beide hul grense – en soortvan mekaar – gerespekteer het. Maar wanneer hierdie twee misdaadryke weens ’n reuse-misverstand bots, dreig dit om ’n oorlog te ontketen wat die Tygerberg-heuwels bloedrooi sal kleur.

Ook in die rolverdeling is, onder andere, Ashley de Lange, Clayton Evertson, Jacques Bessenger, Llandi Beeslaar, Vinette Ebrahim, Beer Adriaanse, Amalia Uys, Loren Loubser, en Dann-Jacques Mouton.

Die span agter die skerms

In die tweede seisoen is Eva du Preez ’n nuwe toevoeging tot die span agter die skerms. Sy sluit aan as redigeerder én mede-regisseur by die Safta- en Silwerskermbekroonde reeksleier en draaiboekskrywer, Christiaan Olwagen (Kanarie, Recipes for Love & Murder), en die Safta- en Silwerskermbekroonde regisseur en kinematograaf Johannes Pieter Nel (Magda Louw, Die tragiese saak van Pamina Vermaak, Die brug). Eva het haar regiedebuut op Wyfie gemaak en is ook bekend vir haar redigering van reekse soos Niggies en Die Nuusmakers. 

Koek, ’n Showmax Original, se eerste seisoen is uit vele oorde geloof. Só het Rozanne Els destyds in haar resensie van S1 geskryf: “Koek is ’n weerspieëling van grinterige realisme…Dis menslik. En daarom is dit ook snaaks – dikwels lag-uit-jou-maag-snaaks… Die reeks, neergepen deur die bekroonde kreatiewe skepper Christiaan Olwagen, het ’n haas onhaalbare ‘Heilige Drie-eenheid’ van televisie geskep: ’n rolverdeling met toneelspelers wat loopbaanbeste vertolkings gee; ’n teks wat toor; en ’n oorkoepelende visie wat dit regkry om selfs die kleinste details tot ’n volmaakte TV-tapisserie te verweef.”


Koek S2 première met twee episodes op Dinsdag 9 Junie. Daarna word een nuwe episode weekliks vrygestel. Die reeks sal op DStv Stream se Premium-, Compact Plus- en Compact-pakkette beskikbaar wees. DStv Stream is gratis vir alle intekenare, maar ook beskibaar as ’n losstaande stroomdiens. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies