“Die tweede seisoen van die bekroonde Afrikaanse misdaadkomedie Koek ontgin ’n wêreld van kontraste waarin meeslepende Machiavellisme soos room bo-op die morsige chaos van ’n vrou se alledaags geskep word,” skryf Rozanne Els in Terloops se resensie van dié reeks se tweede seisoen.
Nes die veelbekroonde eerste seisoen van Koek, wat lof van kykers en resensente én ’n Internasionale Emmy-benoeming ontvang het, is die tweede seisoen sover ’n wilde wipwarit van aksie, geweld en bloedvergieting.
Wanneer die storiedrade weer opgetel word, is Christelle (Cindy Swanepoel) in ’n stryd om haar lewe te herbou terwyl ’n lelike skeisaak aan die gang is.
Haar drome om haar mediese loopbaan te hervat en as enkelma vir haar dogter te sorg, lê egter aan skerwe. Dít terwyl haar eks (grotendeels) ongeskonde weggestap het nadat Christelle sy nier vir wraak geoes het. Nou dagvaar hy ook vir toesig van hul dogter, Stella (Izebella Louw). Hy is vasbeslote om Christelle van alles te ontneem.
Wanneer Adrian ’n skelm prokureur aanstel om die saak in sy guns te swaai, volg ’n reeks gebeure wat Christelle terug in die onderwêreld dwing.
Intussen blyk die voormalige bendebaas Moekie, vertolk deur Sandra Prinsloo, nou ’n brose bejaarde vrou en afgetree te wees… Maar wanneer Christelle weer om hulp aanklop, is die vet in die vuur. Moekie het duidelik nog nie haar aptyt vir luiperdpatrone, brandewyn en niere steel, verloor nie.
Die reeks is deur Wolflight Films vervaardig, met Eva du Preez, Christiaan Olwagen en Johannes Pieter Nel as mede-regisseurs. Olwagen het ook die draaiboek geskryf.
Kyk saam met Terloops na wat op die stel van dié dramareeks tussen tonele gebeur het. (Die foto’s is deur Wolflight Films verskaf.)















Nuwe episodes van Koek S2 word weekliks op DStv Stream se Premium-, Compact Plus- en Compact-pakkette vrygestel. Alle DStv-intekenare met ’n aktiewe dekodeerder-intekening het gratis toegang tot DStv Stream, maar dis ook as ’n losstaande stroomdiens beskikbaar.