DStv
Vir die volledige skedule en besonderhede oor fliektye en die betrokke kanale, kliek hier.
Om en Om
Dié fliek is in opdrag van kykNET geskryf vir Valentynsdag en is volgens ʼn persverklaring van die kanaal ʼn liefdesbrief aan Kaapstad en enigiemand wat nog in die liefde glo, ten spyte van teleurstellings. Liesl (Ilse-Lee van Niekerk) is ʼn werkverslaafde prokureur. Sybrand (Evan Hengst) is ʼn loveable loser wat ʼn liefdesteleurstelling verwerk en sy ma se pogings om vir hom ʼn blind date te reël probeer vryspring. ʼn Reeks misverstande laat die twee by dieselfde tafel in ʼn restaurant beland. Ook met Cintaine Schutte, Erica Wessels, Albert Maritz, Ira Blanckenberg, Melt Sieberhagen en Daneel van der Walt. Hampstead
ʼn Knus romantiese komedie wat die storie vertel van ʼn welaf Amerikaanse weduwee Emily (Diane Keaton) en Ierse-buitestander Donald (Brendan Gleeson), letterlik uit ander wêrelde, wat mekaar in Hampstead Heath vind. Met tipiese ditzy Keaton en knorrige Gleeson in die hoofrolle en met lieflike natuurtonele, is dit maklik om die clichés en voorspelbaarheid in dié fliek gou te vergeet.
Ella Enchanted
In dié romantiese feëverhaal word die Aspoestertjie-verhaal effens anders aangepak. In een van Anne Hathaway se eerste groot rolle, onderneem Ella ʼn reis om die towerspreuk van haar goeie feë Lucinda (Vivica A Fox) ongedaan te maak. Sien, Lucinda het Ella betower met ʼn onvermoë om vir enigiemand nee te sê en dit is definitief eerder ʼn vloek as ʼn seën. Veral as sy by haar wrede stiefma Olga (Joanna Lumley) moet gaan woon. Hier is natuurlik ook ʼn sprokiesprins in die vorm van Hugh Dancey as Prins Charmont, wat doodgewoon nie kan verstaan waarom al die meisies behalwe Ella voor sy sjarme swik nie…
How to Lose a Guy in 10 Days
As jy hou van old school romantiese komedies wat jy af en toe skelm kan kyk, is dit die fliek vir jou. Andy (Kate Hudson) en Benjamin (Matthew McConaughey) raak vasgeknoop in romantiese weddenskap met teenoorgestelde bedoelings.
Hitch
Probeer verlede jaar se Oscar-fiasko eenkant toe skuif as jy nog nie dié fantastiese romkom met Will Smith gekyk het nie en geniet dié fliek vir wat dit is: ʼn tydskapsule vir ʼn tyd voor dating apps en sosiale media, waarin ʼn selfversekerde dating coach, Alex “Hitch” Hitchens (Smith), ʼn onhandige kliënt, Albert (Kevin James), probeer help om die vrou van sy drome se hart te wen. Intussen ontrafel Hitch se eie liefdeslewe as hy teen Sara Melas (Eva Mendes), ʼn skinderblad-verslaggewer, te staan kom.
A Rainy Day in New York
Dit vat ʼn ruk om aan die gang te kom en is dalk nie Woody Allen se beste werk nie, maar as jy nie kan help om te swik voor die sjarme van Timothée Chalamet en Elle Fanning nie, kan jy dié een maar ʼn kans gee.
Ask Me to Dance
Kritici is dit meestal eens dat dié romantiese komedie ʼn onverwagse plesier is en opsigself ʼn ode aan klassieke romkoms in dié genre. Jack (Tom Malloy) en Jill (Briana Evigan) is albei gek oor swing dance. ʼn Toekomsvoorspeller vertel die twee afsonderlik, op dieselfde aand, dat hulle voor die einde van daardie jaar die liefde van hul lewe sal ontmoet. Rampspoedige afsprake met eienaardige mense volg vir albei, maar hulle bly mekaar misloop.
All Roads Lead to Rome
Road trip movie, romanse en humor word saamgeklits in dié fliek wat jy dalk nie vir altyd gaan onthou nie, maar wat tog vir goeie ontvlugting sorg. Sarah Jessica Parker is Maggie wat ʼn ou liefde, Luca (Raoul Bova, opsigself ʼn goeie rede om die fliek te kyk, selfs met die klank af), toevallig raakloop as sy en haar rebelse tienerdogter Summer (Rosie Day) gaan vakansie hou in Italië. Rosie het egter ander planne en vat die pad Rome toe in Luca se Alfa Romeo saam met sy bejaarde ma, Carmen (Claudia Cardinale).
Crazy, Stupid, Love
Cal Weaver (Steve Carell) is ʼn dweperige veertigplusser wie se sprokie ontrafel as sy vrou, Emily (Julianne Moore), ʼn affair het. Die bleeksiel word onder hande geneem deur Jacob Palmer (Ryan Gosling), ʼn player wat vroue laat swymel. Dís nou totdat hy self vir die eerste keer verlief raak op Hannah (Emma Stone). The Guardian noem dit ʼn “cross generational romcom”.
Ook op DStv
- Head over Heels
- The Ugly Truth
- Admission
- The Duff
- Mad about Mambo
Showmax
Fanie Fourie’s Lobola
In dié Suid-Afrikaanse liefdesstorie leer mense volgens die regisseur Henk Pretorius om hulle eie tradisies te begin. Fanie (Eduan van Jaarsveld) is ʼn jong man wat in sy ma se motorhuis bly. Dinky (Zethu Dlomo) wil ʼn stokkie steek voor haar pa se planne om haar te laat trou met ʼn ryk plaaslike man. Die twee raak onverwags verlief. As jy hou van ʼn goeie plaaslike klankbaan (dink Freshly Ground en Jack Parow) en jy glo ware liefde is blind vir politiek, is dié een vir jou.
Op Soek na Reënboë
ʼn Teer liefdesverhaal van ʼn huwelik met Gerald Steyn en Izel Bezuidenhout in die hoofrolle. Die fliek is ʼn blik op liefde en verlies; op die feit dat ʼn reënboog slegs na die reën kan verskyn. Die fliek is geskryf en geregisseer deur Stefan Enslin en word as ʼn kunstige, genuanseerde liefdesverhaal beskryf.
Mooirivier
In die styl van flieks soos Love Actually en Valentine’s Day ontvou die liefdesverhale van ses verskillende paartjies aan die oewer van die Mooirivier in Potchefstroom. Daar is ʼn spul bekende en gewilde akteurs in die fliek waaronder die sanger Heinz Winckler, Tim Theron, Milan Murray, Anel Alezander, Anne Hirsch en Leandie du Randt. Die bekroonde René van Rooyen is die skrywer en regisseur. Eerste liefde, tweede liefdes en liefde tussen gesinslede is maar net sommige van die vorme van die liefde wat ondersoek word. Dit was boonop die eerste ensemble-fliek in Afrikaans en is ʼn bewys dat die liefde wen.
Me Before You
As jy behoorlik wil huil, is Me Before You ʼn goeie keuse om die trane uit jou stelsel te kry. Maar moenie dat dit jou afskrik nie. Hierdie fliekweergawe van Jojo Moyes se boek, is ʼn lieflike blik op hoe die liefde kan blom tussen twee totaal teenoorgestelde mense wat hul skanse laat val. Lou (Emilia ClarkE) is quirky en kleurvol. Uit desperaatheid aanvaar sy ʼn werk as oppasser vir welaf Will Traynor (Sam Claflin), wat gestremd gelaat is ná ʼn ongeluk twee jaar tevore. Hy is sinies en bitter. Sy is lig en optimisties. Nie een kan raai hoe belangrik die ander gaan word nie.
13 Going on 30
Dis ʼn oldie, maar ʼn goodie. Towerstof word in ʼn kas oor ʼn tienermeisie Jenna Rink (Jennifer Garner en Christa B. Allen as Jenna op 13) se kop gesprinkel en sy word wakker in haar toekomstige lewe: ʼn droomwêreld waarin sy ʼn aantreklike ou, ʼn klerekas vol ontwerpermodes en haar droomwerk het. Maar wat het van haar jeugliefde Alex (Mark Ruffalo) geword? En is dertigjarige Jenna regtig so wonderlik as wat sy dink? Jennifer Garner en Mark Ruffalo maak géén foute in dié fliek nie.
Long Weekend
ʼn Romantiese drama oor Bart (Finn Wittrock), vir wie daar geen meer silwer randjie om enige wolkie is nie. Sy roman maak nie geld nie, sy meisie het hom gelos, hy is depressief… Dan ontmoet hy die enigmatiese en geheimsinnige Vienna (Zoë Chao) en hulle bring ʼn warrelwindnaweek saam deur.
The Bodyguard
In ʼn nostalgiese bui? Kliek op The Bodyguard om te herleef waarom dié fliek uit die 90’s immergewild is. Whitney Houston speel popdiva Rachel, wie se lewe bedreig word. Sy stel ʼn voormalige agent van die geheime diens (Kevin Costner as Frank Farmer) aan om haar lyfwag te wees. Die een ding lei tot die ander… Dis die fliek wat Houston se weergawe van die Dolly Parton-liedjie “I Will Always Love You” popkultuur-goud gemaak het. Is dit nodig om meer te sê?
Wild Mountain Thyme
ʼn Vreemde, off-beat romanse wat op die dramatiese Ierse platteland afspeel. Sluk maar die behoefte aan té veel logika en probeer die oordrewe aksente misluister, want daar is iets aan die liefdesverhaal van die koppige boer Rosemary Muldoon (Emily Blunt) en haar aardige buurman Anthony Reilly (Jamie Dornan) wat aan die hartsnare pluk. Rosemary is halsoorkop verlief op Anthony, maar hy leef in la-la land (of ʼn byekorf…), tot groot frustrasie van sy pa, Tony (Christopher Walken).
Brooklyn
Op soek na ʼn historiese drama, klassieke rolprentkuns en ʼn storie wat jou sal meesleur met briljante akteurs? Dis die een.
Dis die 1950’s en Eilis Lace (Saoirse Ronan) is ʼn Ierse immigrant in New York, waar sy opgeswiep word in ʼn romanse wat haar kop laat draai. Maar haar tuisland het steeds ʼn houvas op haar en die vraag oor waar huis is, sal ʼn groot rol speel in die einde van haar liefdesverhaal.
Kyk ook
- Sy klink soos Lente
- Vir Altyd
- The Sun is Also a Star