Menu terloops
In Realiteit & Speletjie [15 Mei 2026]

Is jy ’n logiese mens met ’n skerp kop vir raaisels oplos? Dan’s hierdie net die TV-speletjie waarvoor jy moet inskryf!


kykNET-kykers kan nou uitsien na ’n Afrikaanse weergawe van die wêreldtreffer-kompetisiereeks ‘The 1% Club’ en inskryf om deel te neem.

Deur Redaksie
Is jy ’n logiese mens met ’n skerp kop vir raaisels oplos? Dan’s hierdie net die TV-speletjie waarvoor jy moet inskryf!

Breinkrag en die vermoë om buite die boks te dink – dis wat jy nodig het vir kykNET se nuwe speletjiesreeks, Die 1%-klub, wat jou op verskeie gebiede gaan toets om te bepaal of jy dalk onder die die top-1% van die land tel. Dit kan jou boonop tot R100 000 in die sak bring.

Hierdie reeks doen kykNET se reputasie gestand as ’n baanbreker in plaaslike televisie wat aan kykers vars, internasionale suksesformate bring, pasgemaak vir Suid-Afrikaanse gehore.

“Ons span het eenvoudig dadelik verlief geraak op hierdie formaat toe BBC Studios dit verlede jaar vir ons gewys het,” het Waldimar Pelser, M-Net-direkteur van Premium-kanale, gesê. Hy glo dat Die 1%-klub vir ’n gesonde dosis adrenalien gaan sorg, soortgelyk aan Wie word ’n miljoenêr?.

Wat jy moet weet

  1. Dié suksesvolle, bekroonde oorspronklik Britse reeks, nou reeds in die vyfde seisoen, het op 9 April 2022 vir die eerste keer op ITV verskyn met die Engelse komediant en akteur Lee Mack as die aanbieder.
  2. Die Afrikaanse weergawe volg die formaat van die oorspronklike reeks, wat deur BBC Studios versprei word. Verwerkings van die reeks is ook baie gewild in die VSA, Duitsland, Spanje, Frankryk en Australië.
  3. Anders as met vasvra-reekse wat op algemene kennis fokus, gaan hierdie speletjie met sy vinnige tempo 100 deelnemers laat meeding in uitdagings wat hul intellek sowel as logiese vermoëns toets. Die uitdagings sluit in blokraaisels, formules en ander probleme wat ’n gesonde redenasievermoë verg om op te los.
  4. Lede van die publiek word vooraf ingespan om ’n stel vrae te beantwoord waarna die vrae met die laagste persentasie korrekte antwoorde as die moeiliker vrae beskou word.
  5. Die speletjie begin maklik – met vrae wat 90% van Suid-Afrikaners behoort te kan beantwoord – maar die moeilikheidsgraad met die 15 vrae wat gestel word, styg vinnig en eindig in uitdagings wat slegs die top-1% van die bevolking waarskynlik sou kon oplos.
  6. Elke deelnemer begin met R1 000. Spelers wat verkeerd antwoord, word uitgeskakel, en hul geld beland in die groeiende boerpot.
  7. Soos wat die speletjie vorder, moet die oorblywende spelers besluit of hulle met ’n deel van die prysgeld uit die stryd wil tree en of hulle alles wil waag om te bewys dat hulle deel van die top-1% is.
  8. In 2025 het Jasmine Kaur (18), ’n eerstejaarstudent, die jongste wenner ooit van die reeks in die VK geword toe sy met £50 000 die res van die 100 deelnemers die loef afgesteek het.
  9. Dit was egter die laerskoolonderwyseres Maccisha Medford wat vroeg in 2026 die reeks se eerste £100 000-wenner geword het. Sy het ingeskryf terwyl sy op kraamverlof was en erken dat sy “nooit in ’n miljoen jaar” gedink het sy staan ’n kans om deel van die program te wees nie.

Inskrywings is nou oop

Suid-Afrikaners van 18 jaar en ouer word genooi om in te skryf op www.kyknet.tv of deur ’n e-pos te stuur na die 1persent-klub@rapidblue.com. Die reeks sal in Johannesburg verfilm word, en deelnemers moet hul eie vervoer reël.

Vat jóú kans!

  • Geen spesiale kwalifikasies is nodig nie – net ’n skerp verstand en ’n passie vir die oplos van raaisels.
  • Of jy nou ’n student, pensionaris, ambagsman of akademikus is – almal staan ’n gelyke kans.
  • In internasionale weergawes van The 1% Club het deelnemers bestaan uit almal van tieners tot pensionarisse, en van die grootste wenners was gewone mense wat eenvoudig anders gedink het. Die formaat is juis lof toegeswaai omdat dit so inklusief is en onkonvensionele intelligensie in die kollig plaas.

Die aanbieder van Die 1%-klub sal binnekort aangekondig word.


Die 1%-klub sal teen die einde van 2026 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer
Sien alle opsies