Menu terloops
In Leefstyl & Aktueel [2 Jun 2026]

‘In die sop: Gastehuisrevolusie’: Waar daar ’n Willus…


Dis vir hom ’n droom om by kykNET se ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’ betrokke te wees, vertel Willus Bosch, ’n binnenshuisversierder en opknapper aan wie kykers verlede week vir die eerste keer voorgestel is. 

Deur Annelene Oberholzer
‘In die sop: Gastehuisrevolusie’: Waar daar ’n Willus…

In die sesde episode van In die sop: Gastehuisrevolusie het kykers die eerste keer met Willus Bosch kennis gemaak toe hy en aanbieder Janie du Plessis by The Views in Piketberg hul vernuf moes inspan om vir Ashley en sy ma, Francis Swarts, uit die sop te help. 

Hierdie vriendelike ou met sy sagte glimlag, wat bitter opgewonde kan raak oor stokou en verweerde deure, is ’n professionele binnenshuisversierder en opknapper van Stellenbosch. Hy is ook die mede-eienaar van Maison Cape Town saam met sy vrou, Garance. Dié meubelwinkel spesialiseer in ontwerpe kenmerkend aan die Engelse platteland, maar dit word hier plaaslik vervaardig. 

Maar wie is Willus as hy nie goeters aanmekaartimmer nie?

Jy’t laggend gesê: “Waar daar ’n Willus, is daar ’n way-us”. Waar vind jy jou inspirasie om daai “way” te bewerkstellig?

“ ’n Groot deel van my werk is probleemoplossing – om die beste way te vind om probleme tydens opknapprojekte op te los. Probleme word definitief meer kreatief opgelos wanneer jy geïnspireer is, maar ek sal nie juis sê dat mens altyd die luuksheid het om te wag vir inspirasie voor daai probleem opgelos kan word nie. Hoe langer daar gewag word, hoe groter raak die probleem. So, ek vind maar daai way so gou as moontlik, en as die inspirasie op dieselfde oomblik tref, des te beter.” 

Hoe het jy in dié bedryf beland?

“Heel toevallig. My ma, Elize, het ’n koffiewinkel in Stellenbosch gehad toe ek op skool en universiteit was. Terwyl ek besigheid geswot het, was dit my droom om by haar aan te sluit en haar koffiewinkel só op te knap dat dit in ’n voldag-bymekaarkomplek omskep kon word: restaurant bedags, lekker kuierplek snags. Toe ek vir haar die idee voorlê, was sy feitlik onmiddellik aan boord. “Ek’s in. Maar wie gaan die opknap doen?” wou sy weet. 

“Heel opgewonde en sonder twyfel (óf ervaring) antwoord ek toe: ‘Ek en my pelle!’ Dit was in 2018, en die res is geskiedenis. Dit was die begin van wat nou Willus Bosch Renovation & Design is.”

Willus Bosch, In die sop
“Toe ek klein was, het ek heel week lank gewag vir daai “move that bus!”-oomblik op Extreme Makeover: Home Edition. Om nou deel te wees van ’n soortgelyke TV-program is regtig ’n droom, en dit het al my verwagtinge oortref,” vertel Willus Bosch oor sy In die sop-ervaring. Foto’s: Gys Loubser

Hoe het jy jou eerste kennismaking met In die sop ervaar?

“Ongelooflik! Dis ’n droom om deel te wees van so ’n ervaring. Toe ek klein was, het ek heel week lank gewag vir daai “move that bus!”-oomblik op Extreme Makeover: Home Edition. Om nou deel te wees van ’n soortgelyke TV-program is regtig ’n droom, en dit het al my verwagtinge oortref. 

Wie is Willus as hy by die huis is? Rustig of ’n Energiser Bunny? Vertel van jou gesin. 

“Hmmm … definitief ’n kombinasie. Kan ’n mens terselfdertyd ’n uiterse ekstrovert en introvert wees? Ek’s baie lief vir vroeë oggende. Ek staan soggens vyfuur op, want my alleentyd is vir my heilig, en dit charge my batterye. 

“Maar die res van die dag is dit go, go, go! Oefen, werk, cappuccino’s, ontwerp, beweging, site visits, kreatiwiteit en natuurlik – die belangrikste: vriende en familie. 

“My vrou, Garance, is Frans, en sy woon die afgelope agt jaar in Suid-Afrika. Ons deel ’n liefde vir interior en alle mooi dinge. En die meng van ons twee kulture is ’n groot, groot verrykende ervaring. Ons huis is trots AfriFrans. 

“Ons het ’n dogtertjie, Charlie, wat nou 7 maande oud is. Sy is die kosbaarste dingetjie onder die son. My hoogtepunt van elke dag is om haar persoonlikheid te sien ontwikkel en om haar te laat lag.”

Wat is die eerste ding waarna jy oplet wanneer ’n kliënt jou nader vir ’n projek? Is dit die argitektuur, kleur en tekstuur, of leun jy sterk op gevoel en intuïsie?

“Die mense of kliënte self. Ek is ’n mense-mens. Kreatiwiteit en die vermoë om te ontwerp is van my sterker eienskappe, maar ek sal sê my belangrikste eienskap wat ek koester, is die vermoë om mense te verstaan. 

“Ek raak kinderlik opgewonde oor mooi ou geboue en wat ek daarmee kan doen – en selfs net so opgewonde oor vieslike geboue en hoe dit omskep kan word in kunswerke en lekkerleefspasies. Maar as jy nie die kliënt verstaan nie, en ook nie verstaan wie hulle is en waarvan hulle hou nie, gaan jy nie die regte ontwerp vir hulle ontwikkel nie. 

“ ’n Opknap is ’n menslike proses – een wat vir al die betrokke partye ’n lekker ervaring moet wees met, natuurlik, ’n mooi, spesiale en gepaste uitkoms.” 

Neig jy meer na klassiek as modern? Of streef jy na balans tussen die twee?

“Beslis 100% ’n kombinasie van die twee. Ek glo dat jy die mooi ou moet hou en die lelike ou moet vervang of verander. 

“Ek is nie ’n puris nie. Ek is ongelooflik lief vir ou mure met tekstuur en oorspronklike klip en houtvloere wat ’n storie vertel. Maar ek is net so mal daaroor om, byvoorbeeld, ’n kontrasterende en onverwagse lig in so ’n ruimte te hang. 

“Ontwerp gaan nie oor hoe ’n vertrek lyk nie maar oor hoe dit jou laat voel. Wat ook al die verhouding tussen oud en nuut jou die meeste gaan laat voel en ervaar – dís die regte kombinasie.” 

In die sop gastehuisrevolusie The Views
Willus ruil idees uit met aanbieder Janie du Plessis op die stel van In die sop: Gastehuisrevolusie. Foto: Skermgreep

Is daar iemand wat jou spesifiek inspireer met hul idees en kreatiwiteit?

“Ja! Sonder twyfel my pa. Hy is die talentvolste mens wat ek ken; iemand wat instinktief altyd ontwerpsbesluite maak wat geen ander mens aan kan dink nie. 

“Hy is WP Bosch, ’n argitek. Van kleins af het ek en my suster, Frances, oor naweke saam hom sit en teken. Wanneer hy sy planne geteken het, het ons twee daar naby met ons kryte gesit en hom ge-copy. En as hy ’n struikelblok met sy ontwerp getref het, het hy altyd sy 5- en 7-jarige konsultante langs hom vir hul onervare opinies gevra. 

“Ons twee het altyd baie ernstig en selfversekerd ons eerlike raad gegee. Hy het dan aan sy potlood gekou, toe oë en gefokus na ons voorstelle geluister, en dit dan sterk oorweeg. 

“So, ons kreatiwiteit en intuïsie is al van jongs af ontwikkel en getoets. Nou doen ek ontwerp en opknappings, en my suster is ’n baie talentvolle illustreerder wat haar eie besigheid, Lumina Studio, besit. Dis veilig om te sê dat my pa ons grootste inspirasie en sterkste kreatiewe invloed was.” 

Is daar een, dalk twee, spesifieke items wat jy glo altyd ’n verandering in ’n huis kan teweeg bring as mense ’n bietjie noustrop trek?

“Verf! Eerstens, en altyd, verf! Mense wil altyd kreatief raak en hul huise aan die binnekant iets anders as wit verf. Dis soos om te sê jy’s moeg vir jou Wagyu rib-eye steak, daarom braai jy hierdie naweek liewers ’n eiervrug. Wit is dikwels die beste opsie, en dis luuks. 

“Moenie jou huis grys verf aan die binnekant nie. Behalwe as jy ’n dedicated moody kamer het. Dan, go for it.  Maar om jou huis binne wit te verf, laat jou areas altyd ligter, skoner en groter voel. 

“Natuurlik is daar plek vir kleur en opwindende besluite, maar vir baie voorbeelde is wit gereeld die beste. My enigste ander raad is nie om iets spesifieks te koop nie maar eintlik die teenoorgestelde. 

“Vat jou tyd, besluit wat is jou gunsteling-items in jou huis, en raak dan ontslae van die res. Ons almal het te veel goed. ’n Deurmekaar, besige huis is ’n deurmekaar, besige kop.”

Wat sal jou droomprojek wees?

“Ek het ’n hele lys droomprojekte. Maar ek trek nou terug Stellenbosch toe en om nou spesifiek ’n antwoord te gee: Ek is mal oor die mid-century-huise in Dalsig, Stellenbosch. Ek sien baie uit na die eerste opknap van een van daardie huise wanneer dit op my pad kom.”


In die sop: Gastehuisrevolusie word Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies