Met hul aankoms in Sasolburg, vertel In die sop: Gastehuisrevolusie-aanbieder Janie du Plessis dat sy voel die dorp het baie verander sedert haar laaste besoek. “Hier word jy nie deur die voëltjies in die oggend wakker gesing nie. Jy word wakker van hulle gehoes,” was haar kommentaar toe sy sien hoe industrieel Sasolburg nou is.
Maar hoes die voëltjies ook wanneer hulle by Marlene en Henry Franck se gastehuis, The Homestead, op ’n tak gaan sit? Die twee bly al jare lank in Vaalpark. Sy het vars van die PUK (deesdae NWU) daar in die petrochemiese nywerheid se biblioteek begin en Henry het skoolgehou.

Toe die gastehuis in 2004 op die mark beland het, het hulle die idee gekry om dit te koop. Feitlik al Marlene se pensioen is in The Homestead gestort, selfs al het nie een van hulle werklik ’n idee of enige ervaring van ’n gastehuis gehad nie.
Terwyl hulle die plek begin regruk het, het “Handige Henry” boonop van die leer afgeval terwyl hy die plafon geverf het. Arm in gips, vloer vol verf . . .
Kort voor lank het die 10 kamers met ’n verdere drie kamers en nog ’n verdieping gegroei. Maar ai, finansies… Dit is nie een van die twee se sterkste punt nie. En nou kom ondersteunende vriende na vore met aanbevelings van wat nodig is – van verf tot lugreëling tot bemarking.
Geheime wapen
Maar wag, Janie het mos ’n geheime wapen wat sy soos ’n wafferse spioen vooruit stuur om die wêreld te gaan bespied. Dirk Jacobs se tasse was reeds gepak vir die avontuur genaamd Sasolburg en The Homestead. Hy is aan die stuur by een van Kaapstad se top-boetiekhotelle, 21 Nettleton, en hy weet baie mooi hoe die vurk in die hef steek wat die gasvryheidsbedryf aanbetref.
Maar een van die gratis boeke wat op gaste gewag het, het hom heerlik laat bloos én lag. Kom ons stel dit so – dit het ’n intieme onderwerp getakel. Maar dit was die kakafonie van idees wat hom op die verkeerde plek getref het . . .
Eerste indrukke
Met Janie se aankoms by The Homestead was die eerste indrukke nie baie gunstig nie. “Ek kry die gevoel dat mens in die agterplaas van iets is. Nee! Nee! Nee! Hardloop!” was haar eerste woorde met haar aankoms by die gastehuis wat regs langs ’n vulstasie geleë is.
“Al die magic sal binne-in die gebou moet gebeur,” het sy verklaar. En haar eerste indrukke van Marlene en Henry was dat die twee vir haar geestelik vuisvoos oorgekom het.
Toe Janie eers die kamers met ’n kwilt op elke bed begin deurkyk het, kon sy haarself nie keer nie: “Kwilt, maar hier’s baie kamers!”

Die groot vraag was natuurlik hoe dekorkenner Griki Lubbe oor die kwiltwerk en alles wat daarmee gepaard gaan, sou voel. Gelukkig het kykers tydens die reeks al gesien wat Griki op volspoed met die In die sop: Gastehuisrevolusie-span kan aanvang.
So tussen die gesels deur het Janie vir Griki gevra om oor haar tande te vryf. Griki het gedink dat sy dalk lipstiffie of iets anders tussen die tande het. Maar nee, platjie wat Janie is, het sy vir Griki gesê sy wou net seker maak daar’s nie hare op haar tande nie. Want figuurlik gesproke is dit presies wat Griki het!
En die hoesende voëltjies? Nee wat, daar’s suiwer kanarie-stemme wat nou deur The Homestead weerklink.
Marlene vertel:
Al jou pensioen in ’n besigheid waarvan julle nie ervaring gehad het nie . . . Wat het julle op ’n gastehuis laat besluit en hoe het dit gevoel toe jy besef het dis al jou pensioengeld wat hier gewaag word?
“In daardie stadium dink ek nie ek het regtig gedink dis ’n waagstuk nie, want ek het reikhalsend uitgesien na ’n hoofstuk in my lewe waarin ek iets kon doen waarvan ek ook hou. My hart was in my beroep as bibliotekaresse by ’n groot firma, maar ek het geweet dat ek iets kreatief in my het wat ontgin moes word en waardeur ek waarde tot die gemeenskap kon toevoeg.
“Verder het ek die leer van sukses geklim tot waar ek nie regtig wou wees nie. Ek het nie meer aktief regte biblioteekwerk gedoen nie, maar moes mense en begrotings bestuur.
“Ons bure oorkant die straat was die vorige eienaars van die gastehuis en ons het te hore gekom dat die plek in die mark was. Nadat ons met hulle gesels het, het dit nog meer aanloklik gevoel om weg te breek uit my groef. Henry het in daardie stadium sy eie klein houtvloer-besigheid gehad en hy was altyd so ontspanne wanneer ek in die middae by die huis by hom gesit en afpak het oor al die spanning en uitdagings van die afgelope dag.
“Hy het saamgestem dat ’n gastehuis ’n besigheid was waarin hy my met sy natuurlike handvaardigheid en liefde vir mense kon ondersteun. Dis eers toe ek met ’n spoed by my 65ste verjaarsdag verbygegaan het, dat ek begin besef het die gastehuis is ons enigste inkomste, en ek weet al vir jare dat ons net-net oorleef en nie eintlik geld gemaak het nie. So, om dit op te som, dink ek dat ek kort-om goedgelowig en waaghalsig, maar terselfdertyd ook lekker dommerig en vas aan die slaap was!”
Jou aanvanklike naam vir die gastehuis was Lepel-lê. Wat het julle van plan laat verander?
“Jong, ek het besef dat my liefde vir Afrikaans en sy raak-sê woorde nie waardeer of verstaan sou word deur Engelssprekendes en ander volksvreemde nasies nie. Verder is ons in ’n industriële omgewing en ek het geweet dat ons nie hond haar-af sou maak met so ’n naam nie.”
Jy’t gesê jy’s amper skaam daaroor om te erken julle is in die sop. Hoe moeilik was dit vir jou om dit ’n stappie verder te vat en vir In die sop in te skryf?
“In my hart ek ek geweet dat In die Sop die enigste reddingsboei is waarna ek kon reik. Ek het ’n dringendheid gevoel om in te skryf. Dis teen my beginsels om geld te leen en daar is nie regtig op hierdie tydstip van ons ekonomie ’n mark vir gastehuise nie.
“Ons word ouer en moet seker op ’n stadium aftree, maar waarmee en waarheen verder? Maar ek het skaam gekry dat my drie seuns moes uitvind dat ons in die moeilikheid is. Verder het ek gedink dat hulle my sou kwalik neem omdat ek die heeltyd daaroor gewyg het.
“Die video wat as deel van die inskrywing ingestuur moes word, het letterlik die deurslag gegee, want ek het te skaam gekry om vir enige ander mens te vra om my daarmee te help. Wel, die video is met stampe en stote geneem! Die Maandag het ek die aansoek finaal voltooi en met ’n bonsende hart die stuur-knoppie gedruk.
“Net my twee sussies het van my aansoek vir die program geweet. Ons het eers twee weke voordat die span gearriveer het vir ons kinders daarvan vertel. Dit nét nadat ons oudste seun, Janno, met ons kom praat het en gevra het of ons hom ’n kans sal gee om betrokke te raak om te kyk of hy nie ’n verskil kan probeer maak nie.
“Wel, die res is geskiedenis, en die koopkontrak met Janno en Sarah-Kay is opgestel en moet net onderteken word. Skielik moet ek uittree en dis ’n verligting, maar ook ’n uitdaging.”
Wat was vir jou die grootste verrassing toe julle op Dag 3 teruggekeer het?
“Alles! Maar die pragtige nuwe gun metal-kleur van die dubbelverdieping-gebou is my gunsteling. So ook die hele vars nuwe aansig, sommer van die hek af al. Natuurlik is ons nuwe logo ook ’n faktor. Dis soveel meer sigbaar en opvallend, sonder om van ons karakter weg te vat.”

Henry vertel
Jy het kort voor die program opgeneem is, ’n ligte beroerte gehad. Watter impak het dit op jul toekomsplanne gehad?
“Weet jy, ek moet bieg dat ek nie eintlik nog ooit ernstig aan toekomsplanne gedink het nie. Ons was so besig met ons daaglikse verantwoordelikhede, en het geleer om jaar-in en -uit net aan te karring sonder om tot stilstand te kom en te dink aan die jare vorentoe…
“Die beroerte was ’n skok en ek besef dat die lewe kort is, en dat ons soveel jare het om in te haal op dinge saamdoen en geniet – weet net nie meer hoe nie!”
Dit was vir jou spanningsvol om vir Janie te ontmoet. Hoe gou het dit geneem voordat jy eintlik besef het sy’s ’n baie gemaklike mens – en kon jy ontspan?

“Dit was glad nie moeilik om Janie te ontmoet nie. Ek het van die begin af veilig en ontspanne gevoel in haar teenwoordigheid. Sy is streng en op die man af en draai nie doekies om nie, maar terselfdertyd is sy empaties en innemend.
“Sy weet waarvan sy praat en ek kan net eenvoudig baie by haar leer. Dis veral nadat ons na die insetsel oor haar lewe op Kwêla! gekyk het, dat ek besef het dat dit nie ’n skande is om te erken dat jy geval het, en toe weer uit die as moes opstaan nie.”
Is julle opgewonde oor die vooruitsig om jul oudste kind, Janno en sy vrou, Sarah-Kay by die gastehuis te betrek?
“Baie! Ons is so beïndruk met alles wat hulle die laaste drie maande sedert ons regruk deur In die Sop, vermag het. Ons is sommer half-jaloers op al hulle nuwe avonture wat vir hulle in die gasvryheidsbedryf voorlê.”
Wat was vir die jou die beste deel van In die sop: Gastehuisrevolusie se besoek?
“Die besef dat al die jongmense in ons land nie lui en laks is nie. Die wonderlike spanwerk en reusagtige taak wat in net meer as twee dae verrig is, maak my skoon duiselig. ek besef net dat hierdie span bestaan uit mense wat wil werk en ’n verskil maak.
“Hulle voel vir my soos familie en ons het hulle regtig gemis toe hulle hier weg is.”
In die sop: Gastehuisrevolusie word Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.