Week ná week staan Janie du Plessis en haar gedugte In die sop: Gastehuisrevolusie-span gastehuiseienaars by wat hulself in tamatiestraat bevind. Daar word, onder meer, gefokus op diens, voorkoms, blinknuwe idees wat nie die bank breek nie en goeie sake-advies. Dis handvat met hart.
In die sesde episode word die deurklokkie in Piketberg gelui.
“Dit lyk of die dorpie te klein is vir die aarde waarop hy lê. So, jy kan vir myle kyk. Jy kan vir ’n oomblik net so wegraak in die niet,” het Janie die pragtige dorpie beskryf wat ’n 130 km se ry van Kaapstad af is.
Francis Swarts en haar seun, Ashley, is aan die stuur van sake by The Views. Ashley het met die gastehuis se naam vorendag gekom toe hy besef het hoe ongelooflik mooi die uitsig van daar af is. En soos Janie sê, as daar ’n mooi uitsig is, is die stryd al halfpad gewonne.
Maar, het Ashley vertel, hulle is in die sop, want die instandhouding van die eiendom het ’n groot inspuiting nodig.
‘O hel, dis groot!’
Soos gewoonlik het die Gastehuisrevolusie-‘spioen’, Dirk Jacobs, kom oorbly voordat die res van die span met hul verskeie talente die plek kon takel. Dirk bestuur 21 Nettleton, een van Kaapstad se mees eksklusiewe boetiekhotels en is bekend vir sy fyn oog vir detail – én spinnerakke.
Janie was baie positief oor Piketberg by haar eerste ontmoeting met Francis en Ashley. Dis een van haar gunstelingdorpe om by aan te doen wanneer sy Namibië se kant toe ry. Op die steil pad na The Views, is haar asem weggeslaan: “O hel, dis groot!”
Nadat sy op haar eie deur die gastehuis gaan wandel het, het Janie besef dis nie net die plek wat groot is nie, maar ook die taak wat vir hulle voorlê. “As ek ’n bruid was, het ek weggehardloop,” het sy laat hoor ná haar inspeksie van die wittebroodskamer.

Gelukkig was Willus Bosch, ’n professionele binnenshuisversierder en opknapper van Stellenbosch wat ook die eienaar van Maison Cape Town is, gereed om te help. Sy eerste indrukke van The Views was baie positief, maar toe hy binnegegaan het, het hy besef die binne- en die buitekant praat nie met mekaar nie.
Hoe voel die twee gastehuisbestuurders oor die regrukplanne wat Janie en haar span implementeer het?
Ashley:
Jy noem dit ’n groot eer om saam met jou ma iets aan te pak. Wat is dit wat haar so waardevol vir jou maak?
“My ma beteken ongelooflik baie vir my. Sy is een van die hardwerkendste en sterkste mense wat ek ken – en sy het my geleer om nooit op te gee nie. Om saam met haar aan iets soos The Views te werk, voel vir my baie spesiaal omdat ons nie net ’n besigheid bou nie, maar ook saam herinneringe skep.”
Jy werk gedurende die dag. Vertel vir ons meer daarvan?
“Ek is deur die dag in ’n voltydse pos as assistent-registrateur by die Departement van Justisie. Dit beteken ek moet my tyd baie mooi bestuur. Ná werk help ek met die gastehuis – van die besprekings en gaste ontvang tot administrasie en klein praktiese dingetjies. Dit raak soms baie besig, maar ons probeer almal inspring waar ons kan.”
Hoe lank is The Views se deure al oop? En wie het met die gastehuis-idee na vore gekom?
“The Views se deure is nou al sedert 2015 oop. Die idee het eintlik begin as ’n droom om iets van ons eie te hê waar mense welkom en tuis kan voel. Ons as broers en moeder het saam besluit om die sprong te neem en dit ’n werklikheid te maak.”
Was dit moeilik om te erken dat julle in die sop is?
“Ja, dit was moeilik. Niemand wil erken dat dinge nie uitwerk soos beplan nie, veral nie wanneer jy soveel liefde en energie in iets sit nie. Maar in ’n stadium moes ons eerlik wees met onsself en besef ons het hulp en leiding nodig.”

Francis:
Het jy ooit gedink jy gaan in die gastehuisbedryf beland?
“Nee, glad nie! Dit was iets heeltemal nuuts vir my, maar ook ’n avontuur wat ek saam met my familie kon aanpak. Ek het wel ’n liefde vir mense en om te onthaal en het vir jare my eie spysenieringsbesigheid gehad.”
Jy’s eintlik afgetree? Wat beteken hierdie vir jou?
“Ja, ek is eintlik afgetree, so hierdie projek het vir my nuwe doel en energie gegee. Dit hou my besig en laat my voel ek dra steeds by en bou saam aan iets betekenisvols. Dit hou my jonk, soos die seuns sal sê.”
Hoe het dit vir jou gevoel toe jy vir Janie ontmoet het? Jy’t gesê enige kritiek moet op die ken gevat word. Maar was dit tog wel moeilik?
“Ek was nogal senuweeagtig om vir Janie te ontmoet, want jy weet daar gaan eerlike terugvoer wees. ’n Mens sê maklik jy vat kritiek op die ken, maar dit bly moeilik wanneer dit iets persoonliks is waarin jy jou hart ingesit het. Tog het ek geweet dat hulle werklik net wou help.”
Jy was emosioneel toe jy sien hoe jul goedjies uitgedra word. Wat was jou grootste vrees in daardie stadium?
“Ja, dit was baie emosioneel vir my gewees. Ek dink my grootste vrees was dat ons dalk beheer oor ons huis en ons droom sou verloor. Party van daardie goed het baie sentimentele waarde gehad. So, dit het gevoel asof ’n deel van ons lewe omgekrap word.”
Wat was vir jou die grootste verrassing toe jy na The Views teruggekeer het?
“Die grootste verrassing was om te sien hoe professioneel en vars alles lyk. Dit het gevoel soos ’n heel nuwe plek, maar steeds met ons hart daarin. Ek was trots én emosioneel om te sien wat moontlik is wanneer mense saamwerk en nuwe perspektief bring.”
In die sop: Gastehuisrevolusie word Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.