Menu terloops
In Recaps [11 Jun 2026]

In die sop: Gastehuisrevolusie: ‘Hokaai, stop die lorrie…’


Met kykNET se werklikheidsreeks ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’ reis Janie du Plessis en haar onkeerbare span die land vol. En dié episode kry hul koers na ’n familieplaas naby Porterville in die Wes-Kaap. 

Deur Annelene Oberholzer
In die sop: Gastehuisrevolusie: ‘Hokaai, stop die lorrie…’

Die slingerende pad het vir Janie du Plessis en die res van die In die sop: Gastehuisrevolusie-span na Excelsior gelei – die eiendom van Lizce en Albert (oftewel Twak) van Heerden, wat sowat drie kilometer verder op Witklip bly.

Die plaashuis het aanvanklik leeg gestaan toe Lizce en Twak daarheen getrek het. En dit was die ideale plek vir kuier met vriende en familie en kort voor lank het die twee dit opgekikker en verfraai. Eers was dit net kuier, later het hulle dit begin uitverhuur.

Boonop is Twak ’n doener, soos sy hom beskryf. Toe ’n vriendin tot trou gekom het, het Lizce voorgestel het dat hulle die stoor omskep vir die onthaal. Nadat die seisoen afgehandel was, het hy vir haar die stoor reggemaak. Toe kom die karavane vir bykomende akkommodasie. Thulatyd was hul eerste karavaan. Daarna het Stokkiesdraai gevolg, ’n groter karavaan. Die derde een is heel vermaaklik na Twak vernoem: Twaktiwiteit.

Benewens die uitdagings wat elke karavaan ingehou het, was daar ook die oostewind waarmee deurentyd rekening gehou moes word. Kort voor lank is die vier perdestalle ook in badkamers omskep. Daar moes hard gewerk word om die kale aarde in ’n lushof te omskep. 

Karavane oor die koringlande

Maar daar’s iemand wat gestewel en gespoor op pad wat onder die dekmantel kom inloer het hoe sake werklik op Excelsior staan. Dis natuurlik Dirk Jacobs, die man aan die stuur van die eksklusiewe 21 Nettleton-boetiekhotel in Kaapstad. Gaan die ooswind hom vol stof waai?

“Deesdae is Tiny homes en container-huise heel mode en mense praat baie daaroor,” het Dirk vertel en hy was baie opgewonde om te sien wat op hom by sy karavaan gewag het. Die “sterrehemel” vol muskiete teen die karavaan se dak het hom gou van die nostalgiese kamp-gevoel laat vergeet . . . 

Maar Janie was baie opgewonde oor die karavane. Sy het nog nooit sélf in een geslaap nie, maar sy was gek oor die lieflike uitsig van waar die karavane staan gemaak is. “Die karavane staan so eenkant en het ’n fantastiese uitsig oor berge en [koring-] lande, en jy kyk tot in die oneindigheid in.”

Sy het ook baie van die stoepie en kombuis-opset by Twaktiwiteit gehou. Maar toe sy in die yskas loer en geen bier daar vind het, het Janie summier verklaar dat dit dalk die rede kan wees waarom Excelsior in die sop is. 

Later het Lizce erken al drie hul besighede is in die sop. Die plaas, die gastehuis en dan ook hul vervoerbesigheid waar hul regstreeks afhanklik van hul bure is vir die vervoer van hul oeste.

“En ons gaan álles oordoen!”

In die sop
Die In die sop-span is in vandeesweek se episode op die eiendom van Lizce en Albert (oftewel Twak) van Heerden in die Swartland. Foto’s: Skermgrepe/Verskaf

Natuurlik kon Janie op die gedugte In die sop: Gastehuisrevolusie-span saam met Willus Bosch, ’n professionele binnenshuisversierder en opknapper van Stellenbosch, asook die eienaar van Maison Cape Town, steun om seker te maak die souserige sop maak plek vir hoop en sonskyn.

Saam het Janie en Willus besluit die karavane gaan hul fokus wees. En ja, praat van radikaal! Pienk, blou en geel gaan gebeur . . . “En ons gaan álles oordoen!” het Janie verklaar.

En toe kom die wind… Vir Janie het dit onheilspellend gevoel. Maar Willus was ewe ongestoor oor wat alles nog moet gebeur. Hy het rustig in een van die karavane gesit en gewigtig verklaar: “Soms moet jy net ‘hokaai, stop die lorrie’ . . .”

Toe bars daar ’n waterpyp. Maar wag, kom kuier gou ’n bietjie saam met Lizce en Twak om uit te vind hoe, waar, wat en wanneer dinge in plek geval het.

Lizce vertel

Wie het met die idee van die karavane na vore gekom? En hoe reageer jul gaste op hierdie verblyf?

“Namate die funksies toegeneem het, het die behoefte aan meer badkamers en ekstra verblyf ontstaan. Dit is toe dat die idee van die karavane gebore is. Ons het ook die ou perdestalle omskep in vier volledige badkamers.

“Dit was beslis nie ’n oornag-sukses nie. Ons moes baie leer en aanpas. Op die plaas werk jy met uiterstes – die somers kan verskriklik warm raak en die wind kan jou soms laat wonder of alles nog môre gaan staan. Elke seisoen leer ons iets nuuts en probeer ons die ervaring nog beter maak vir ons gaste.

“Die terugvoer oor die karavane was gelukkig nog altyd ongelooflik positief. Baie van ons gaste kom keer op keer terug, en vir my is dit die grootste kompliment wat mens kan ontvang. Dit beteken hulle voel hier tuis. Nou moet ek net nog nuwe voete deur die hek kry, want bemarking is nodig!”

Jy het gesê die gedagte om weer te begin, was vir jou nogal ’n bietjie intimiderend. Hoe hanteer jy oor die algemeen wanneer jy jouself in so ’n situasie bevind?

“Ek dink die geheim is om nie te lank stil te staan by die ‘wat as dit nie werk nie?’ nie. Luister na kommentaar, maar volg dan jou hart. As ek te veel tyd het om daaroor te dink, kan ek myself maklik uit enige goeie idee uit redeneer. Ek probeer eerder fokus op die volgende klein tree wat ek kan gee.

“Die waarheid is dat die meeste van die dinge wat ons hier opgebou het, begin het met min ervaring en baie geloof. Die gastehuis, die funksielokaal, die karavane – niks daarvan het gekom met ’n handleiding nie. Jy leer soos jy gaan, maak foute, pas aan en probeer weer.

“Ek glo ook dat mens nie alles hoef uit te figure voordat jy begin nie. Soms moet jy net die eerste stap gee en vertrou dat die volgende een homself sal wys. As ek nou terug kyk en besef hoeveel werk daar in gegaan het – en sou jy dit aan die begin geweet het, het jy dit dalk nooit aangepak het nie. Dis ook maar goed ons weet nie wat die toekoms inhou nie.”

In die sop
Voordat die transformasiewerk in erns begin is, is daar eers gesels.

Hoe lank het jy gewik en weeg voordat jy vir In die sop: Gastehuisrevolusie ingeskryf het?

“Eintlik glad nie lank nie. Toe ek die advertensie sien, het ek dadelik gaan google en die inskrywingsvorm afgelaai.”

Wat het jou die meeste beïndruk van die nuwe voorkoms?

“Wanneer ek vandag na die voor- en ná-foto’s van die karavaan kyk, besef ek hoe maklik ’n mens gewoond raak aan iets wat jy elke dag sien. Ek kry amper skaam oor hoe afgeleef die karavaan eintlik gelyk het, maar destyds het ons dit eenvoudig nie meer raakgesien nie.

“Die nuwe voorkoms, met die vars geel, pienk en blou kleure, het nuwe lewe ingeblaas. Wat eens oud en moeg gelyk het, voel nou lig, vrolik en uitnodigend. 

“Maar dit is nie net die verfwerk wat die verskil gemaak het nie – dit is die ongelooflike aandag aan die klein detail. Die oulikste kombuisie is ingerig met slim uitleg, pragtige kaste, ’n mikrogolf en al die nodige elektriese geriewe. Die meubels, die bankies, die hangmat en elke dekor-element is met soveel sorg gekies dat dit voel asof elke hoekie sy eie storie vertel.

“Om al die detail op die dag van die onthulling in te neem, was vir my heeltemal te veel. Ek het vir die volgende drie of vier keer nog elke keer iets nuut gesien wat my dan weer opval. 
En asof dit nie genoeg is nie, het ons selfs ’n houtvuur-hot tub gekry – die kersie op die koek! 

“Dit is ongelooflik hoe visie, kreatiwiteit en baie harde werk iets wat verwaarloos gelyk het, kan omskep in ’n plek vol karakter, warmte en sjarme. Hierdie projek was werklik ’n groot bederf, en die nuwe lewe wat daarin ingeblaas is, is iets wat ons elke dag waardeer.”

Twak se stuiwer in die armbeurs

Wat is vir jou die lekkerste deel van die gastehuis? Jy is immers ook nog betrokke by jul trok-besigheid.

“Oorspronklik was my werk glo om die gaste te ontvang, maar my vrou het vinnig daardie plan gestop. Ek gesels mos te lekker en voor jy jou kom kry, staan ek en die gaste nog steeds en kuier terwyl almal anders wonder waar ek verdwyn het. Daar is al meer as een keer vir my gesê: ‘Die gaste kom nie hier om by jóú te kuier nie, hulle soek rus en vrede!’ 

“Buiten dat die plek nou lewe gekry het wat daar voorheen nie was nie, is ek ook dankbaar dat dit behoue gebly het. As Lizce nie met die projek begin het nie, was die plaas dalk vandag al besig om te verval. Die funksies beteken lang ure en baie werk, maar daar is min dinge wat so lekker is soos om te sien hoe mense die venue geniet en mooi herinneringe hier maak.

“Ons het die venue net voor Covid begin bemark en toe trek die wêreld se handrem natuurlik op. Alles het tot stilstand gekom en dit het lank geneem voordat dinge weer momentum gekry het. 

“In daardie tyd het ons die vervoerbesigheid begin om nog ’n inkomste-stroom te skep.
Lizce hanteer die vragte, die beplanning en al die administrasie – met ander woorde die belangrike goed. Ek geniet dit weer om met die ou blou Scania op die pad te wees en met die drywers te kompeteer oor wie die meeste vragte kan ry. 

“Volgens my is ek natuurlik die beste drywer van die lot, maar volgens almal anders is ek net die betroubaarste een wie se papierwerk altyd agterbly! Gelukkig is daar mense wat daardie deel ook kan regmaak.”

Jy’t op hierdie plaas grootgeword. Hoe voel hierdie transformasie na gastehuis vir jou?

“Ek was nie altyd oortuig dat alles gaan uitwerk soos beplan nie – of dalk moet ek sê, ek kon nie altyd die hele prentjie sien wat Lizce in haar kop gehad het nie. Ek het maar meestal gemaak soos daar gesê word en gehoop sy weet waarvan sy praat!

“Wat ons tot dusver bereik het, is natuurlik ongelooflik om op terug te kyk, maar as ek eerlik is, is dit die spanwerk wat ek die meeste geniet het. Niemand hoef ooit twee keer gevra te word nie. Almal spring in waar hulle kan. Dis Ouma wat staan en vinger wys oor wat nog in die tuin gedoen moet word, ’n los drywer wat sommer ’n graaf gryp en help om ’n hoop sand weg te werk, ’n deur af te skuur of iets reg te maak, en die kinders wat oor naweke kom hand bysit by die funksielokaal.”

Het jy besigheidsgewys iets geleer tot voordeel van jou boerdery uit die raad wat Janie en haar span na vore mee gekom het? Hoe was dit om daai gesprek met Janie te hê?

“Janie het my net weer herinner dat boerdery nie op oondtyd werk nie. Jy kan nie ’n knoppie druk en verwag alles moet môre reg wees nie. Ons werk met son, wind, reën en soms sommer net genade. Daarom moet jy geanker bly in jou geloof, geduldig wees en vertrou dat die oes op die regte tyd sal kom.

“Dit was ook lekker om te hoor dat mense die uitdagings van boerdery raaksien en waardeer. Want agter elke bord kos sit daar gewoonlik ’n boer wat al ’n paar keer na die weer-app gekyk het en steeds nie heeltemal weet wat aangaan nie! 

“’n Man wat weer die somme gemaak het en nie hou van die eindsom nie, maar dit steeds doen en hoop en vertrou want dié jaar kan dit dalk net die jaar wees wat ek so gelukkig is om ’n wins te toon terwyl ek doen waarvoor ek so lief is.” 

En raad vir ander gastehuise wat nog nie die lig sien nie?

“Werk met wat jy het en moenie jouself voortdurend met ander vergelyk nie. ’n Mens onderskat soms hoe ver jy kan kom met iets wat eenvoudig net skoon, netjies en goed versorg is.

“Verbeter en bou aan jou plek soos jy kan bekostig om dit te doen. Jy hoef nie alles oornag reg te kry nie – elke klein verbetering maak ’n verskil. Staan soms ook terug en kyk nuut na jou plek. Of dra als uit en begin van voor soos die In die sop-span gedoen het. 

“En die belangrikste van alles: moenie bang wees om hulp of raad te vra nie. Daar is baie mense wat al dieselfde pad gestap het en bereid is om hul ervaring te deel. Soms is ’n goeie gesprek of ’n stukkie raad al wat nodig is om jou weer in die regte rigting te stuur.”


In die sop: Gastehuisrevolusie word Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Binnelanders’-kykgids vir Augustus 2026

Die waarheid oor ’n dokter lei tot ’n dramatiese wending en Joe is desperaat om vrae oor sy identiteit te beantwoord. Dít en nog meer is wat op ‘Binnelanders’-kykers vandeesmaand wag.

Meer

Jou ‘Diepe Waters’-kykgids vir Augustus 2026

Jacques en Theresa se groot dag breek aan, terwyl Karla en Arno nie tot ’n vergelyk kan kom nie. Hier is waarna 'Diepe Waters'-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir Augustus 2026

Mike maak (weer) droog, Kaashifa vind iets skokkend uit en die Samsodiens sien rooi... Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies